Sunday, October 26, 2014

"Historiese opbrengste is nie 'n aanduiding van toekomstige opbrengste nie"...of is dit?

Die meeste beleggers is dalk vertroud met die vermaning dat hul beleggingskeuses nie uitsluitlik geskoei moet word op die opbrengsprestasies wat beleggingsfondse en bateklasse in die onlangse verlede behaal het nie. Die rede hiervoor is dat beleggers nie onrealistiese verwagtinge moet koester dat soortgelyke prestasies weer noodwendig in die nabye toekoms herhaal sal word nie. Sulke vermanings bevorder ‘n verantwoordelike benadering tot beleggingsbestuur en –verwagtinge.

Dit is nou te sê as beleggers sulke raad raad ter harte neem, want instinktief bestudeer die meeste beleggers of hul adviseurs opbrengstabelle noukeurig en besluit dikwels daarvolgens waar die beste plek is (was!) om te belê. ‘n Ontleding van die verwantskappe tussen historiese opbrengste en die opbrengste wat in daaropvolgende periodes behaal sou word, toon die riskantheid van beleggingskeuses slegs geskoei op historiese opbrengste en bied as sulks stof tot nadenke.

Byvoorbeeld, Indien die tien-jaar historiese opbrengste van die aandelemark vanaf 1960 tot op hede met daarvolgende vyf-, sewe-, en tien-jaar tydperke vergelyk word, word ‘n statisties-betekenisvolle sterk negatiewe verwantskap (korrelasie) aangetref, dit wil sê, ‘n tydperk van hoë reële opbrengste is tipies opgevolg deur tydperke van laer reële opbrengste en omgekeerd. 

Let wel, hierdie negatiewe verwantskap impliseer nie noodwendig negatiewe opbrengste vir ‘n volgende tydperk indien dit voorafgegaan is deur hoë opbrengste nie, slegs dat sodanige opbrengste waarskynlik aansienlik laer sal wees as waaraan beleggers dalk gewoond geraak het.


Bron: DRW Investment Research

Oor die afgelope dekade het aandele op die Johannesburgse Aandelebeurs ‘n reële opbrengs van meer as 7% per jaar (dividende uitgesluit) behaal. Indien dividende bygetel word, sou die totale reële opbrengs per jaar dubbelsyfers beloop. Hierdie tipe opbrengs word in die boonste kwartiel (Q4) van alle historiese 10-jaar reële aandeelopbrengste aangetref. Bostaande grafiek illustreer duidelik dat die boonste kwartiel opbrengste gemiddeld ook die laagste daaropvolgende reële opbrengste oor vyf- en tien jaar periodes tot gevolg gehad het.

Soortgelyke tendense, alhoewel minder statisties-betekenisvol, word waargeneem vir ander beleggingshorisonne, byvoorbeeld sewe-, vyf- en drie-jaar periodes. Kortom, die kern boodskap bly dieselfde: ‘n Tydperk van hoë of buitensporige reële opbrengste is nie vir altyd volhoubaar nie, nog minder kan beleggers op sulke tipe opbrengste staatmaak in hul beleggingsbeplanning vir byvoorbeeld die volgende dekade.

Tog, beleggers sou wou argumenteer “hierdie keer is dit anders” en dat sulke hoё opbrengste nog steeds moontlik kan wees gegewe die stand van die wereldekonomie op die oomblik. Die vooruitsigte van ontwikkelde ekonomieё met tamaai skuldlaste is inderdaad baie somber en onseker, terwyl die ekonomieё van opkomende markte gelei deur ‘n snelgroeiende China, aansienlik minder belas is met skuld en ‘n golf van voorspoed en beleggersbelangstelling beleef. Ongelukkig is dit eenvoudig nie hoe beleggings werk nie – wat veel belangriker is om te weet watter prys betaal ek vandag vir toekomstige groei.    

Byvoorbeeld, teen die begin van die millenium het die breё beleggersgemeenskap feitlik geen vertroue in opkomende ekonomieё gestel nie met gevolglike goedkoop aanslae van sulke markte. Daarteenoor was daar ‘n onverbiddelike geloof in die VSA dollar en die toekomstige en standhoudende groei van ontwikkelde markte met gevolglike peperduur markaanslae. Uiteindelik was die ontwikkelde markte ‘n slagoffer van hul eie voorspoed deur hul voortgesette groei met oordadige skuld te finansier. Vandag is die skoen aan die ander voet en opkomende markte geniet buitengewone hoё markwaardasies – so ook in Suid-Afrika – natuurlik in afwagting op voortgesette hoё ekonomiese groei en voorspoed.

Natuurlik is dit nie seker wat hierdie baie optimistiese beskouing van opkomende markte in die toekoms kan kniehalter nie – dalk die ontrafeling van ‘n oorverhitte eiendoms- en aandelemark in China soos wat met Japan gebeur het twee dekades vantevore – maar die feit is dat duur markaanslae met die aanvang van enige beleggingsperiode feitlik altyd beleggers iewers langs die pad gaan teleurstel. Teen daardie tyd besef beleggers dit was “hierdie keer” eintlik nooit anders nie!


Les bes, die boodskap aan die belegger is nie om vir die volgende dekade summier die markte te vermy nie, want dit bly waarskynlik die beste geleentheid waar reёle opbrengste behaal kan word, maar om die visier op sodanige reёle opbrengste aansienlik laer te stel, waarskynlik iewers tussen 3-5% instede van 10% en meer soos die afgelope dekade ondervind is.      

Sunday, October 5, 2014

Enkele riglyne vir beleggers hoe om ernstige beleggingsfoute te vermy

Ons het almal verskillende talente en vermoёns ontvang en aangevul met harde werk en toewyding sal sommige van ons bo ander uitstyg in die beroepswêreld. Sal dieselfde kwaliteite lei tot sukses in die beleggingswereld? Nee, nie noodwendig nie; die beleggingsmarkte is ‘n groot “gelykmaker” waar daar geen respek aan titels, kwalifikasies of intelligensievermoёns betoon word nie.

Die goeie nuus is dat almal van ons finansiёle sukses kan bereik deur ‘n paar eenvoudige beleggingsreёls toe te pas; die slegte nuus egter is dat almal van ons een of ander stadium foute sal begaan – ons is per slot van sake feilbaar – tog, ons moet sulke situasies gebruik om ons arsenaal van kennis rondom beleggings uit te brei. Foute met beleggings is eintlik onvermydelik omdat die toekoms onvoorspelbaar is en ons nie volmaakte insig kan hê hoe sekere beleggings vorentoe sal presteer nie. Trouens, die enigste manier om te verseker dat ons nooit foute sal maak nie is om nooit te belê nie, maar dit opsigself is natuurlik die grootste moontlike fout!

Wat ons egter moet verhoed is om ernstige foute te begaan – dié soort wat jou jare terugsit asof jy nog nooit gespaar het nie. Hiervoor behoort ons oor minstens sekere basiese kennisvlakke beskik en dit nougeset navolg.

Vervolgens word twee breё kategorieё van kennis beklemtoon; eerstens rondom beleggingsverwagtinge en –gedrag en tweedens, die sinvolle bestuur van beleggingsrisikos.  

Beleggingsverwagtinge en -gedrag:

·         Historiese opbrengste is ‘n swak aanduider van toekomstige opbrengste.
Beleggingsbesluite word dikwels op die mees onlangse prestasie van ‘n belegging/bateklas geneem. Min oorweging word egter geskenk aan die onderliggende ekonomiese drywers wat sekere beleggings/bateklasse bevoordeel het, asook dat hierdie tendense in die toekoms na alle waarskynlikheid sal verander. Geen belegging/bateklas is jaar na jaar die beste presteerder nie. Die langtermyn gemiddelde opbrengs van ‘n bateklas is ‘n meer realistiese aanwyser van wat om vorentoe te verwag as om slegs die prestasies van die afgelope paar jaar te oorweeg.

·         Voorspellings oor toekomstige prestasies kan jou op ‘n dwaalspoor laat beland.
Ons hou van voorspellings, veral dié wat deur kenners gemaak word ten einde beleggingstrategieё te formuleer en onsekerhede daarmee te verdryf. Ongelukkig is daar geen amptelike telkaart wat die akkuraatheid van hierdie voorspellings byhou nie. As daar was, sou ons besef het dat die treftempo van sulke tipe voorspellings verbasend swak is. Nodeloos om te sê dat ‘n beleggingsstrategie geskoei op voorspellings na alle waarskynlikheid swak resultate gaan oplewer.

·         Aandeelopbrengste geskied nie eweredig oor tyd nie.
Ons gebruik te maklik die term “gemiddeld” sonder dat baie beleggers besef dat aandeelopbrengste allermins rondom die “gemiddeld” beweeg. Die meerderheid van aandeelopbrengste oor enige tydperk geskied a.g.v. kort periodes van skouspelagtige stygings – wat opsigself onvoorspelbaar is – terwyl die meeste ander periodes gekenmerk word deur matige of geen stygings. Verder, selfs ‘n aandeelbelegging oor die langtermyn kan teleurstellend wees indien beleggers hierdie “goue oomblikke” misloop.  Derhalwe is tydsberekening met aandeelbeleggings meestal ‘n futiele idee.

·         Hoop is nie ‘n suksesvolle beleggingstrategie nie.
Hoop kan politieke verkiesings wen, maar dit sal beslis nie sukses met beleggings waarborg nie.  Moet nooit onbekende terreine betree alvorens u nie u huiswerk deeglik gedoen het nie. Die “advies” van u buurman of vriend mag nuttig wees, maar na alle waarskynlikheid sal dit gebrekkig wees, veral ten opsigte van die moontlike risikos verbonde aan die belegging. Kry professionele advies.

·         Verander u beleggingsplan slegs indien u omstandighede wesentlik verander het.
Die verlies van ‘n lewensmaat, egskeiding, en die toeval van ‘n erfenis is voorbeelde van waar dit sou sin maak dat u u beleggingsplan moet hersien. Andersins sou dit nie loon om af te wyk van u beleggingsplan nie; definitief nie net as gevolg van die heersende beermark omstandighede nie. Die enigste uitsondering mag wees waar u u werklike risikoblootstelling totaal onderskat het; natuurlik is almal van ons een of ander stadium skuldig aan ‘n oormaat van selfvertroue terwyl dit goed gaan.  

Aspekte rondom die bestuur van beleggingsrisiko:

·         Die gebruik van hoё hefboomfinansiering (hoё skuldverhouding tot eie kapitaal) in u beleggingsstrategie noodsaak dat u te alle tye reg moet wees, nie net oor die langtermyn nie.
Die markte gaan “irrasionele” (moeilik verklaarbare) tye beleef waartydens ‘n strategie wat jare lank soos klokslag gewerk het skielik nie meer winsgewend is nie. Dan sal u u finansierders moet kan oortuig u kan nog steeds u verpligtinge nakom. Bly liefs weg van hierdie strategie indien u nie hierdie risiko kan loop nie.

·         Moenie die “bekende” met die “veilige” verwar nie.
‘n Belegging by ‘n bekende instelling beteken nie u geld is veilig belê nie, vind uit waarin u geld bele is, m.a.w. die onderliggende beleggingsportefeulje. Netso is ‘n belegging in ‘n instansie bekend aan u – uself, ‘n familielid of vriend mag ‘n werknemer wees – nie noodwendig veilig nie, al is u baie optimisties oor die toekomsvooruitsigte. Diversifiseer liefs ook na ander hoё kwaliteit genoteerde maatskappye.

·         Krisisse is onafwendbaar; diversifiseer na hoё kwaliteit rente-draende beleggings.      
Kontant en beleggings in staatseffekte mag vervelig wees, maar speel ‘n uiters belangrike rol in u beleggingsportefeulje om verliese in ‘n beermark te beperk. Min beleggers kan markkrisisse voorsien, nog minder kan die omvang daarvan voorspel. Aanvaar liefs dat beermarkte altyd deel sal wees van u beleggingservaring. Wees baie bekommerd as u iewers sou lees of hoor dat beermarkte nie weer gaan voorkom nie. Op daardie tydstip is ‘n beermark dalk net om die draai!  



·         Nie-kwantifiseerbare risiko (onsekerhede) is nie dieselfde as kwantifiseerbare risiko nie.
Beleggings het meestal te make met onsekerhede; ons kan selfs met die behulp van die mees moderne hulpmiddels nie akkurate waarskynlikhede aan markuitkomste gee nie. Daarom moet ‘n belegger let op die risikopremie verbonde aan ‘n belegging – indien sodanige premie ‘n baie optimistiese toekoms verdiskonteer (relatiewe hoё pryse) wees baie versigtig!

·         Onderskei tussen die “onmoontlike” en die “onwaarskynlike”.
Dalende huispryse is dikwels in die volksmond as “onmoontlik” beskou. Derhalwe is pryse deur spekulante tot buitensporige hoogtes aangevuur. Natuurlik moet huispryse slegs ‘n funksie wees van die onderliggende ekonomiese groei en huishoudelike inkomstes. Pryse kan nie in ‘n vakuum aanhou styg nie.

·         Belê in gereguleerde produkte/markte.
Waarskynlik een van die grootste slaggate waarin beleggers kan trap; die geskiedenis lê besaai met hartseerverhale van beleggers wat groot gedeeltes van hul spaargeld op nie-gereguleerde beleggingsskemas verloor het. Sulke beleggingsskemas beloof dikwels aan voornemende beleggers fantastiese opbrengste. Ongelukkig oorheers hierdie beloftes gesonde oordeel en kwelvrae soos finansiёle stabilitieit, onafhanklike verslagdoening, toepaslike bestuursondervinding en administratiewe vermoёns word agterweё gelaat. Die meeste beleggers sal daarby baat om slegs in ‘n goed-gereguleerde beleggingsomgewing soos effektetrusts (kollektiewe beleggings) te belê.