Wednesday, December 16, 2015

Donker onweerswolke beweeg oor die Suid-Afrikaanse ekonomie

Donker onweerswolke beweeg oor die Suid-Afrikaanse ekonomie
Deur Daniel R Wessels

Desember 2015

Die politieke gebeure van die eerste twee weke in Desember het glad nie goeie nuus vir Suid-Afrikaanse beleggers ingehou nie. Suid-Afrika beleef ʼn volslae ekonomiese en politieke leierskapkrisis, maar anders as vorige krisisse die afgelope paar dekades kan die skuld hiervoor nie voor die deur van die Ooste of die Weste gelê word nie. Hierdie is tuisgemaakte probleem, en meer spesifiek as gevolg van die ondeurdagte en irrasionele optrede van ons president. Dit gaan nie net soseer oor die korttermyn impak daarvan op markopbrengste nie -  dit is sleg genoeg, ja, maar veel eerder hoe dit die langer-termyn lewenskragtigheid en die groeipotensiaal van die ekonomie sal raak. Dit wil sê, of die arbeid en kapitaal wat jy vandag investeer om ʼn beter toekoms vir jouself en kinders te skep, as’t ware in die niet gaan verdwyn.

In die meer as tien jaar wat ek op publieke forums doenig is, het ek nog altyd my daarvan weerhou om enigsins my politieke opinies met lesers te deel – enersyds omdat lesers my objektiewe finansiële insigte wil lees, en nie weens of ten spyte van my politieke sienings nie, en, andersyds, ek het waarskynlik nie die nodige insigte om gebalanseerde debatte oor politieke onderwerpe aan te voer nie.

Tot dusver kon ek redelik maklik die politieke diskoers vermy en fokus op beleggingsaktiwiteite en –advies. Ek het gevoel dat die langtermyn vooruitsigte van Suid-Afrikaanse  beleggers nog nie noemenswaardig deur die politiek van die dag gekortwiek is nie. Ja, ons moes al ʼn hele klompie politieke dwaashede en vergrype sluk, ons moes teësinnig toekyk hoe skaars en kosbare staatshulpbronne listig verkwis of gekorrupteer word. Tog, ek kon na my aanvanklike opgewerkte emosies bedaar het, my vertroos in die wete dat ons ʼn min of meer onafhanklike, werkende regstelsel en ʼn Grondwet het wat ons individuele vryhede en regte beskerm. Ek kon my beroep op ʼn verantwoordelike Tesourie wat die fiskus relatief goed bestuur, hoewel krake in die bestuur van staatsfinansies in die onlangse verlede begin wys het.

Nietemin, buitelandse beleggers en kredietgraderingsagentskappe het min of meer vertroue in die bestuur van ons land se geldsake geopenbaar en tot bykans 40% van ons staatskuld gefinansier. Laasgenoemde vertroue is meetbaar omdat ons langtermyn staatseffektekoerse nie enige noemenswaardige risiko-premie verdiskonteer het nie. Kortom, ek kon ten spyte van die stortvloed van negatiewe nuus nog altyd ʼn oorwegend positiewe beleggingshouding teenoor die toekoms van die land inneem.

Dit was tot Woensdagaand, 9 April 2015, waar Pres. Zuma die skokaankondiging oor die afdanking van die Minister van Finansies, gemaak het. Ek beskou hierdie oomblik as ʼn waterskeiding hoe beleggers oor die toekoms van die land dink en gaan optree.  Maar dit is ook ʼn waterskeiding oomblik in terme van hoe ver ons as landsburgers politici in die toekoms gaan toelaat om met die land se ekonomiese voorspoed te dobbel – dalk is nie alles wat hierna gebeur het net nadelig nie, daar mag uiteindelik ook ʼn positiewe verskuiwing in politieke leierskap en verantwoordbaarheid na vore tree.

Terug by die debakel van Woensdagaand - tot op daardie stadium het die politieke doen en late van Zuma en sy trawante nie regtig te veel afbreuk aan die status en kredietwaardigheid van Suid-Afrika by buitelandse beleggers gemaak nie, maar hierdie keer was dit bepaald anders. Die markte het hewig gereageer in hul afkeuring van hierdie ondeurdagte besluit;  Zuma het die “ongeskrewe” spelreëls van geloofwaardigheid en vertroue in fiskale dissipline oortree.

Dit was immers een van Pres. Bill Clinton se raadgewers wat tydens sy presidentskap aangevoer het die kapitaalmark is die magtigste krag in die wêreld (Clinton se slagspreuk in sy destydse veldtog was “it’s the economy, stupid”)[1]. Byvoorbeeld, jou land kan dalk militêr die sterkste wees in die wêreld, maar as beleggers nie hou van jou ekonomiese en fiskale beleid en dissipline nie, en  geloofwaardigheid verloor oor die erns waarmee die land met sy geldsake omgaan, gaan hul jou genadeloos straf en jy gaan uiteindelik die aftog blaas. Alles in die ekonomie draai uiteindelik om geld en die koste daarvan, of jy daarvan hou of nie, dit is die harde werklikheid.


[1] “I used to think if there was reincarnation, I wanted to come back as the president or the pope or a .4 baseball hitter – but now I want to come back as the bond market. You can intimidate everybody.”
James Carville, campaign manager for Bill Clinton.


Na die skokaankondiging het die rand dramaties tot rekordlaagtepunte teenoor die vername geldeenhede verswak, aandeelpryse van maatskappye wat hul verdienste hoofsaaklik in Suid-Afrika verdien, soos finansiële instellings, eiendomsfondse en kleinhandelaars, het skouspelagtig getuimel, en effektekoerse – die rentekoerse waarteen die staat, publieke sektor en privaatsektor geld op die kapitaalmarkte kan leen – het vinnig opwaarts gebeur.

Teen Vrydag, twee dae later, het dit duidelik geword dat Suid-Afrika op ʼn grootskaalse finansiële ramp afstuur en moes die president druipstert oor die naweek weer ʼn nuwe (vorige) Minister van Finansies in die persoon van Pravin Gordhan aanstel (ek dink nie Zuma het noodwendig uit vrye wil bes gegee nie, ook nie dat Pravin goedsmoeds ʼn aanstelling van Zuma sou aanvaar nie, maar dit daar gelaat). Alles nou doodreg en weer “sake” soos voorheen?


Nee, ek dink nie so nie. Hierdie gebeure het ondubbelsinnig bewys Zuma is nie ʼn presidentskap waardig nie. Hy verstaan nie die spelreëls van die internasionale ekonomie nie. Zuma het ou, uitgediende, gebrekkige, en verwronge begrippe van hoe die wêreldekonomie werk, hy verstaan nie “vraag en aanbod” nie, eerder dat die prys van ʼn kommoditeit gebaseer moet wees op die koste van arbeid om daardie kommoditeit te vervaardig![2]

Die skade wat Zuma en sy getroue bondgenote aangerig het en nog kan aanrig is eenvoudig net te groot prys vir die land om te betaal. Dit gaan nie hier meer oor politiek nie, maar letterlik oor die voortbestaan van hierdie land as ʼn min of meer gerekende ekonomie; ʼn plek waar jy vir jou lewensideale kan koester, vir aftrede kan beplan, kinders ordentlik kan voorberei op hul volwasse lewens en les bes kan leef en aftree met geld wat wel nog betekenisvolle koopkrag het.  

Die bal is nou pertinent in die hande van die regerende party hoe hul die land gaan wegswaai van die piesangrepubliek waarheen ons vinnig op pad is.[3] Hoe ons vorentoe beoordeel gaan word, en hoe ons kollektiewe toekoms gaan verloop, hang nou vierkantig af van hoe die regerende party die krisis gaan besleg. Hul aksies sal met ʼn vergrootglas besigtig word en ʼn opdraande stryd lê voor om  ons geloofwaardigheid en vertroue by internasionale beleggers terug te wen. Dan sal die land se inwoners moet saamstaan (die sosiale media is ʼn kragtige stem) om die ongewenste elemente in die regering wat primêr daarop uit is om hulself (of minstens hul politieke party) te verryk, spoedig uit te werk.

[3] “If anyone does not think SA is a banana republic, they can’t be helped” Julius Malema, EFF leier (en bobaas vermaaklikheidster)



Intussen, wat moet ʼn mens met jou hardverdiende spaargeld en beleggings maak? Alles wat jy het, omskakel na ʼn meer stabiele geldeenheid en ekonomie, veral teen huidige swak wisselkoerse? Ek is bevrees ek (eintlik niemand nie) het nie antwoorde op sulke vrae nie – primêr sal jy gelei word deur jou eie wêreldsiening en natuurlik moet jyself verantwoordelikheid vir sulke drastiese aksies kan neem.

Laat ek dit duidelik stel, niemand weet hoe die toekoms gaan uitspeel nie, een persoon mag glo dat verdere verdriet en skade onafwendbaar is, terwyl ʼn ander mag glo of hoop die land sal homself regruk, die regte leierskorps identifiseer en die ekonomie op ʼn volhoubare groeibaan sal plaas.  Albei persone het ʼn kans om reg te wees, so ʼn bepaalde strategie kan nie as absoluut reg of verkeerd op hierdie stadium beskou word nie.

Ek glo wel ons land het die menslike hulpbronkapitaal om suksesvol te wees, miskien nie toegerus met die nodige vaardighede om op die boonste punt van ekonomiese ontwikkeling te kan funksioneer nie, maar wel met die nodige ywer, gesindheid en toegewydheid. Dan glo ek daar bestaan wel ʼn redelike mate van samehorigheid en nasietrots oor kleurgrense heen. ʼn Mens hoef net ʼn groot sportgebeurtenis by te woon om die diepe nasietrosts te aanskou (die afgelope sewes rugbytoernooi in die Kaapstad stadium is ʼn goeie voorbeeld – die enigste ligpunt in ʼn andersins donker week). Verder, ek dink ook nie ons is tevrede daarmee om as verloorders geklassifiseer te word nie. Weereens, kyk net na die oorreaksie wanneer ʼn nasionale sportspan sleg tweede kom – ons aanvaar eenvoudig nie om boedel oor te gee nie. Kortom, ek dink nie ons is soos skaaplammers wat ewe gedwee ter slagting gelei gaan word nie – miskien het Zuma geglo hy het die mag en volk in sy hand en kan hy situasies plooi soos dit sy belange pas, maar het hy hom nie misreken nie! Wie wil volgende probeer?

Dit was nog altyd rasioneel om redelike gedeelte van jou beleggingsportefeulje (30%) in buitelandse markte en geldeenhede te belê. Trouens, die meeste standaard beleggingsportefeuljes in Suid-Afrika het hierdie tipe verskansing. Verder is die plaaslike aandeelbeurs redelik geïnternasionaliseer deurdat die oorgrote gewig van die markkapitalisasie van genoteerde maatskappye hul  verdienstes hoofsaaklik in die buiteland verdien. Dit is egter maatskappye soos finansiële instellings en kleinhandelaars wat redelik blootgestel is aan die wel en wee van die plaaslike ekonomie. Maar aan die anderkant, hierdie tipe instellings is by uitstek geskik en gewoond daaraan om in ʼn “risiko-omgewing” te opereer, en het dalk nie soveel mededinging soos dit sou gehad het in ʼn andersins stabieler ekonomiese omgewing nie, dus die moontlikheid van hoër winsgrense kompenseer tot ʼn mate hiervoor. Nietemin, die aanwesigheid van “randverskansers” op die plaaslike aandelebeurs red tot ʼn mate beleggers se bas in die tydperk waarin die rand onder druk verkeer.

Beleggers in langer-termyn staatseffekte (of enige effek waarvan die prys gebaseer word op staatseffekte) moet egter katvoet loop. Indien die situasie nie in die afsienbare toekoms beredder gaan word nie en die land ʼn rommelstatus kredietgradering sou kry, kan internasionale beleggers op groot skaal hul effekte afverkoop en koerse sal verder styg (pryse daal). Dan is ons om dit sagkens te stel in tamatiestraat.

Dus, as jy jouself bevind in die kamp wat glo (of hoop) dat Suid-Afrika uiteindelik gaan “werk”, is daar volgens my nie noodwendig drastiese aanpassings in jou beleggingstrategie nodig nie, maar as landsburgers sal ons meer aktief betrokke moet raak, al is dit net die gebruik van sosiale media om onreëlmatighede aan die kaak te stel. Magsbehepte politici kan nooit weer goedsmoeds vertrou word dat hul na die belange van landsburgers sal omsien nie.

By nabetragting is ʼn positiewe uitvloeisel van die reeks gebeure van die afgelope week dat ʼn duidelike streep nou in die sand getrek is. Zuma en kie se ongebreidelde plundering en minagting van die staatskas is kortgeknip. Die tyd vir selfsug, gierigheid en bevordering van eiebelange met publieke fondse is verby. Die aanstelling van die “sterkman” Pravin Gordhan bevestig dit. Die koning is “dood”, lank lewe die “nuwe orde”.     


Thursday, September 10, 2015

Die terugkeer van wisselvallige markte


In die afgelope klompie weke is die beleggerspubliek met heelwat sensasionele beriggewing oor kwellende ekonomiese tendense en dalende aandeelmarkte gepeper. Veral die verswakkende ekonomiese toestande in China en die direkte gevolge daarvan op dalende kommoditeitspryse, en die invloed daarvan op die welstand van die plaaslike ekonomie en geldeenheid,  het die kollig gesteel.



Duidelik het die Chinese probleme om hul ekonomiese “wonderwerk” in stand te hou. Soos ander vinnig-ontwikkelende, suksesvolle ekonomieë soos Japan en Suid-Korea dekades gelede, het skuld in die Chinese ekonomie massiewe afmetings oor die afgelope aantal jare begin aanneem, byvoorbeeld vanaf $7tn in 2007 tot $28tn in die onlangse verlede. Met reg is hul owerhede bekommerd oor die invloed van die inploffing van prysborrels in batepryse (eiendom en aandele), slegte skulde, onproduktiewe investering, oor-investering in kapasiteit, en verswakkende mededingende voordele teenoor ander lande wat ook as lae-koste vervaardigers beskou word, tradisioneel een van China se sterkpunte.



Die Chinese het in Augustus maand almal verras deur die jarelange vaste wisselkoers verhouding van hul geldeenheid, Yuan, teenoor die VSA Dollar te begin verslap, wat gesien word as erkentenis van hul owerhede dat hul ekonomie dalk nie meer op so ʼn gesonde en mededingende voet verkeer nie. Hierdie stap het tot vinnig-verswakkende wisselkoerse van die meeste ontwikkelende lande se geldeenhede, insluitende Suid-Afrika, gelei. Verder, het die Chinese, getrou aan hul ideologie van “bevel en beheer”, invloed probeer uitoefen op aandeelmarkpryse deur aktief tot die mark toe te tree, byvoorbeeld om aandele op ʼn massiewe skaal op te koop of sekere beperkings in die verhandeling van aandele te begin implementeer. Dit op sigself kon nie verhoed dat die Chinese mark met 20% in Augustus teruggesak het nie. ʼn Mens kry die gevoel dat hierdie kunsmatige ingrepe niks verander het aan die oorheersende negatiewe sentimente wat op hul markte heers nie.



Die gebeure in China het na die vernaamste aandelemarkte en kommoditeitspryse oorgespoel – inderwaarheid is die verwikkelinge in China deflasionêr van aard en winsgrense sal onder druk verkeer. Die S&P500 het byvoorbeeld met 10% in Augustus teruggesak, Europese aandele met bykans dieselfde omvang, terwyl kommoditeitspryse waarvan China tipies groot gebruikers is in dieselfde tydperk verder gedaal het. Plaaslik het die beurs “slegs” 4% gedaal, maar verdere dalings is waarskynlik geabsorbeer deur die vinnig-verswakkende rand – ons aandelebeurs word deur dubbelgenoteerde aandele of maatskappye wat hoofsaaklik hul verdienste in die buiteland ontvang, oorheers.



Die vraag waarmee plaaslike beleggers nou worstel of dit die begin van ʼn nuwe beermark of tydperk van hoë wisselvalligheid is. Die plaaslike aandeelmark het immers sedert die vorige laagtepunt in 2009 te midde van die wêreldwye finansiële krisis betekenisvol meer as verdubbel (vanaf indeksvlakke van c.19,000 tot die huidige c.49,000)  en die wipplank emosie van daardie krisistydperk het lank reeds vervaag.



Sentrale bankowerhede het na afloop van die finansiële krisis monetêre stimulus op ʼn ongekende skaal op hul ekonomieë losgelaat om likiditeit en markstabiliteit te verseker en dit het inderdaad ʼn tydperk van laer wisselvalligheid van markte ingelei.
Vol.png



Die bostaande grafiek, gebaseer op die bewegings van die maandelikse prysindeks van die JSE, toon duidelik die afwaartse tendens in die langtermyn wisselvalligheid van beurspryse (absolute bewegings in pryse van maand tot maand) sedert 2008/9. Tot op hede het die langtermyn tendens tot ʼn vlak van 10% (standaard afwyking van prysbewegings oor ʼn rollende 36-maande tydperk) gedaal – vergelyk dit met die langtermyn gemiddelde van ongeveer 20%!

Wel, dit is moontlik dat hierdie langtermyn tendens nou ʼn ommeswaai gemaak het – soos dit al dikwels in die verlede gebeur het – en dat hierdie tendens nou weer opwaarts sal beur. Let op dat die oorgang van lae na hoë wisselvalligheid redelik vinnig geskied, tipies ingelei deur een of ander ekonomiese krisis van wêreldwye omvang.

Wat beteken dit vir beleggers? Hoër wisselvalligheid van markpryse is “normaal” of te wagte, dit is die aard van aandeelmarkte om van tyd tot tyd wisselvalligheid in prysbewegings (“een maand op, een maand af”) te ondervind. Dikwels word in die media aangevoer dat sulke tye buitengewoon of abnormaal is en liefs vermy moet word, maar ek sou tot ʼn mate daarmee verskil.

Byvoorbeeld, indien die geskiedenis van markte-wisselvalligheid, soos gemeet sedert 1960, in twee helftes (minder as 20% wisselvalligheid - “onderste helfte” en meer as 20% wisselvalligheid - “boonste helfte”) verdeel sou word, kan interessante afleidings daaruit gemaak word.


Statistics
Bottom-half volatility
Top-half volatility
% Positive return periods
87%
63%
% Negative return periods
13%
37%
Overall Avg Annual Return
21.1%
10.5%
If Positive, Avg Annual Return
25.7%
26.4%
If Negative, Avg Annual Return
-10.2%
-16.8%

Die “onderste helfte” toon dat 87% van alle maande wat hierin val ʼn positiewe jaaropbrengs sou oplewer, terwyl dit 63% van alle maande in die “boonste helfte” sou uitmaak. Hierdie laasgenoemde syfer is tot ʼn mate verrassend omdat die deursnee belegger dit waarskynlik ʼn veel laer syfer sou wou toeken. Verder, indien die positiewe opbrengste in isolasie beskou word, het die “boonste helfte” gemiddeld selfs beter as die gemiddelde positiewe jaaropbrengste van die “onderste helfte” gevaar. Die werklike verskil tussen hierdie twee helftes is die voorkoms van negatiewe jaaropbrengste – in die geval van die “boonste helfte” het 37% van alle maande ʼn negatiewe jaaropbrengs tot gevolg gehad teenoor die 13% van die “onderste helfte” en dan was hierdie negatiewe jaaropbrengste in die “boonste helfte” gemiddeld ook hoër (-16.8% teenoor -10.2%). Wanneer beide positiewe en negatiewe opbrengste in ag geneem word, het die “onderste helfte” wel veel beter gemiddelde markopbrengste as die “boonste helfte” opgelewer (21.1% teenoor 10.5% jaaropbrengste).      

Dus, met ʼn perfek-werkende kristalbal moet hierdie periodes van hoër wisselvalligheid vermy word, maar helaas daar is nie so iets soos ʼn “perfekte kristalbal” nie. Daar is miskien wel perfekte kennis oor wat so pas gebeur het, maar dit gee  ʼn mens geen voorsprong op wat in die toekoms gaan plaasvind nie. Anders gestel, tydsberekening van wanneer om te belê of posisies te verkoop werk nou eenmaal nie so goed nie. Party markdeelnemers probeer hul strategie daarop bou of hulself te bemark asof hul ʼn besondere insig oor die toekoms het.  Ek dink dit is ʼn gevaarlike terrein om op te beweeg.

ʼn Verdere punt om bogenoemde te staaf is dat indien die beste en swakste jaaropbrengs kwantiele (top 20% en swakste 20%) oor alle maande sedert 1960 geïsoleer word, sou net effens meer as die helfte van die top 20% beste opbrengste tydens periodes van laer wisselvalligheid voorgekom het. Die kans is dus bykans net so goed om uitstaande opbrengste tydens periodes van hoër wisselvalligheid te ervaar. Dit is wel so dat die oorgrote meerderheid (80%) van die swakste opbrengste tydens periodes van hoër wisselvalligheid voorgekom het en dien dus as waarskuwing.

Alles inaggenome is ʼn goeie kompromis om nie drastiese veranderinge aan bestaande planne te maak nie, miskien wel in sekere gevalle waar uitsonderlike winste gemaak is, om dit te realiseer, maar natuurlik is dit nie so voor die hand liggend nie omrede ʼn goeie alternatief met die huidige lae rentekoersomgewing nie maklik beskikbaar is nie.

Vir jonger of lang-termyn beleggers dien sulke periodes van hoër wisselvalligheid juis goeie koopgeleenthede wat goeie opbrengste vorentoe dalk vasmaak. Byvoorbeeld, volgens onderstaande grafiek bestaan die neiging dat hoër langer termyn opbrengste juis behaal word indien beleggings in tye van hoër wisselvalligheid gemaak word.
Vol2.png



Vir beleggers met korter-termyn beleggingshorisonne bestaan die moontlikheid van hoër rentekoerse vorentoe, eintlik “goeie nuus” gegewe die lae rentekoerse waarmee sulke beleggers in die onlangse verlede tevrede moes wees. Suid-Afrika het ʼn geneigdheid tot ʼn hoë ingevoerde inflasiekomponent en die skerp verswakking van die rand gaan sekerlik opwaartse druk op die inflasie tendens plaas. Natuurlik, hoewel hoër rentekoerse verligting bied, is dit dalk net tydelik want die grootste gevaar vir veral afgetredenes is die vernietigende uitwerking  van inflasie op die koopkrag van geld oor tyd, daarom moet sulke beleggers nie heeltemal afsien van beleggings wat plaaslike inflasie kan troef nie, naamlik aandele en eiendom.

Monday, May 18, 2015

Die invloed van spesifieke tydsraamwerke en transaksies op die beoordeling van fondsprestasies

Het u al ooit daarmee geworstel of fondsprestasies op enige gegewe oomblik werklik alles vertel wat u behoort te weet rondom die wenslikheid om in ʼn fonds te kan belê of om hierdie fonds in u portefeulje te behou al dan nie?

Wel, as die fondsprestasie uitstekend tot bevredigende resultate opgelewer het, is die antwoord maklik – “Ja, natuurlik, ek hou die fonds!”. As die fonds swak gevaar het, is die oplossing eweneens voor die hand liggend – “Raak ontslae van die fonds”. Ongelukkig, fondsprestasies soos op ʼn bepaalde tydstip gerapporteer, vertel nie altyd die volle storie nie en is sulke besluite dus nie so maklik of korrek as wat dit op die oog af sou lyk nie.

Vervolgens sal ek verskillende voorbeelde aanhaal waarin die voorkoms van spesifieke gebeure, hetsy die onder-prestasie van die fondsbestuurder of spesifieke kontantvloei-transaksies, op bepaalde tydstippe ʼn bepalende rol kan speel in die uitkoms van fondsprestasies soos deur beleggers ondervind:

Eerstens,  veronderstel die volgende situasie waar vier fondse, wat in dieselfde tipes markinstrumente belê, met mekaar vergelyk word oor ʼn tien-jaar periode. Let op dat negatiewe opbrengste in rooi uitgebeeld word. Die eerste drie fondse (A, B, en C) beleef twee negatiewe of swak opbrengsjare agtereenvolgens, in verskillende stadia van die tien-jaar siklus, naamlik aan die begin, aan die einde en in die middel daarvan. Die vierde fonds beleef ook dieselfde negatiewe opbrengsjare, nie agtereenvolgens nie, maar verspreid oor die tien-jaar periode. 




Year
Fund A
Fund B
Fund C
Fund D
1
-25%
12%
17%
17%
2
-10%
15%
9%
15%
3
5%
9%
15%
-10%
4
12%
17%
12%
12%
5
22%
37%
-25%
37%
6
37%
22%
-10%
9%
7
17%
12%
5%
12%
8
9%
5%
12%
-25%
9
15%
-10%
22%
5%
10
12%
-25%
37%
22%

Watter fonds sou u verkies om in te belê vir die volle tien-jaar periode?

Fonds A? Nee, na die eerste twee jare van negatiewe opbrengste sou beleggers se geduld en moed in hul skoene gesak het en sou waarskynlik die hasepad gekies het. Fonds B? Fantastiese rit tot by jaar 9, dan sou beleggers nogal groot kapitaalverliese (in randterme) ervaar en sou hul die belegging na tien-jaar verlaat met redelike dikmonde oor al die kapitaalverliese wat hierdie ervaring vir hul ingehou het. Waarskynlik sou beleggers ʼn bietjie beter oor Fonds C gevoel het, hoewel die twee negatiewe opbrengsjare hul na alternatiewe sou laat soek het. Uit al die “slegte” keuses sou Fonds D seker dan die “beste” antwoord wees.

Wel, die reine waarheid is dat dit geen duit sou saak maak watter fonds u sou kies vir hierdie tien-jaar tydperk nie omrede al vier fondse presies dieselfde endwaardes uiteindelik sou oplewer!

Voorbeeld 1:
 R100 invested
Fund A
Fund B
Fund C
Fund D
average return
9.4%
9.4%
9.4%
9.4%
FV of R100
217.93
217.93
217.93
217.93
annualised return
8.1%
8.1%
8.1%
8.1%
std deviation
16.1%
16.1%
16.1%
16.1%


Natuurlik sou dit saak maak indien u die belegging voor die verstryking van die tien-jaar tydperk sou afkoop, en dus watter fonds wanneer swak opbrengste ervaar het. Inderwaarheid sou die opbrengste van die fondse na die afloop van byvoorbeeld ʼn 8-jaar tydperk drasties vanmekaar verskil het.

R100 invested
Fund A
Fund B
Fund C
Fund D
average return
8.4%
16.1%
4.4%
8.4%
FV of R100
169.20
322.86
130.39
170.13
annualised return
6.8%
15.8%
3.4%
6.9%
std deviation
17.9%
9.2%
13.6%
17.4%


Die punt wat ek hierbo wil illustreer is dat opbrengssyfers opsigself nie so objektief is as wat dit oënskynlik voorkom nie. Wees verseker, elke fondsbestuurder ondergaan ʼn tydperk van relatiewe onder-prestasie teenoor hul mededingers en markopbrengste. Wat vandag die absolute “beste” is, mag dalk nie meer so wees oor vyf of tien jaar van nou nie. Daar is dalk wel “goeie” fondsbestuurders, maar dit beteken nie dieselfde as die “beste” fondsbestuurders nie. In eersgenoemde geval is dit eerder ʼn geval van vertroue in die beleggingsproses en filosofie van die beleggingsbestuurder sonder die verwagting van “altyd goeie” opbrengste. [Beleggers kan natuurlik hierdie kwessie van onder-prestasie deur ʼn fondsbestuurder systap deur eenvoudig in ʼn lae-koste indeksfonds te belê].

Vervolgens, en om terug te keer na my 10-jaar tydperk voorbeeld, sal ek aantoon dat wanneer ʼn belegger gereeld onttrekkings maak uit ʼn fonds (of gereeld geld belê), die spesifieke tydstip wanneer ʼn fonds in die tien-jaar tydperk onderpresteer wel ʼn uitwerking gaan hê op die uiteindelike opbrengs. So, in hierdie geval, anders as met die eerste voorbeeld, is daar wel duidelike opbrengsverskille sodra u byvoorbeeld gereelde onttrekkings uit die fonds maak. Dus, u persoonlike beleggingservaring gaan nie dieselfde wees as die amptelik-gerapporteerde opbrengste nie. Laasgenoemde syfers is net van toepassing op daardie beleggers wat vanaf datum van die oorsigtydperk in die fonds belê was en geen transaksie (onttrekkings of nuwe beleggings) in daardie tydperk gemaak het nie.

Veronderstel  ʼn belegger sou op ʼn gereelde grondslag ʼn vaste randbedrag uit die belegging onttrek.  Eenvoudigheidshalwe, elke jaar word R5 vanuit ʼn belegging van R100 onttrek. Na afloop van die tien-jaar tydperk sal die onderskeie fondse soos volg presteer het:

Voorbeeld 2:
fixed amount withdrawn
                  5.00 p.a.
Fund A
Fund B
Fund C
Fund D
total income
               50
              50
              50
              50
end capital
       114.63
     160.87
     137.77
     149.93
annualised return
6.1%
9.0%
7.7%
8.4%

In hierdie geval sou Fonds B die beste van al vier fondse gevaar het. Onthou egter dat in wese al vier fondse, sonder enige transaksie-vloeie, presies dieselfde opbrengste na tien jaar sou oplewer (soos aangetoon in voorbeeld 1), maar die spesifieke voorkoms van onttrekkings en wanneer negatiewe opbrengste in die tien-jaar periode plaasgevind het, speel nou ʼn oorheersende rol in die ervaring van die onderskeie uitkomste.

ʼn Verdere variasie op hierdie tema is dat wanneer in stede van ʼn vaste bedrag, ʼn vaste persentasie (byvoorbeeld 5% ) van die belegging gereeld onttrek word. Weereens gaan die uiteindelike opbrengste verskil, asook die inkomstebedrae wat vanuit die verskillende beleggings ontvang sal word.

Voorbeeld 3:
fixed percentage withdrawn
                  5%
Fund A
Fund B
Fund C
Fund D
total income
43.81
81.13
52.11
62.44
end capital
134.80
134.80
134.80
134.80
annualised return
6.8%
9.7%
7.7%
8.5%




Dus, vanuit bogenoemde voorbeelde behoort dit duidelik te wees dat opbrengsvergelykings tussen verskillende fondse vol slaggate is omrede die spesifieke tydstip en spesifieke transaksies wanneer die vergelyking gemaak word so ʼn bepalende rol kan speel in die uitkoms daarvan. Ongelukkig is dit moontlik dat fondsveranderinge gebaseer slegs op die jongste amptelike opbrengsprestasies juis op die verkeerdste tye gemaak kan word. Interessantheidshalwe, navorsing, plaaslik en internasionaal, staaf juis dat beleggers hul tydsberekeninge oorwegend verkeerd het en sodoende hulself met hul keuses benadeel.


As al die bogenoemde u verward laat voel, goed so! Veranderinge kan nie net lukraak volgens die jongste statistieke gemaak word nie. Wat volgens my belangriker is as om slegs “koud” na opbrengsprestasies te kyk, is om uit te vind of jy jouself kan vereenselwig met die beleggingsfilosofie en prosesse van die fondsbestuurder. Dit verg natuurlik moeite, gebeur dikwels “agter die skerms” en neem ook tyd om daardie vertroue in te win. Maar eerder dit as die dolle, futiele gejaag na die jongste wenners!