Friday, January 2, 2015

25 (Volhoubare) Opmerkings oor Welvaartbestuur

Die onderstaande skrywe is losweg gebaseer op 'n artikel oorspronklik gepubliseer deur Morgan Housel van Motley Fool, beskikbaar by: http://www.fool.com/investing/general/2014/12/12/122-things-everyone-should-know-about-investing-an.aspx



1.    Welvaart is ‘n relatiewe konsep. Die meeste van ons sal gelukkig wees om slegs ʼn deel van Oprah se finansiële rykdom te besit, maar nie as jy byvoorbeeld Bill Gates is nie. Netso, die meeste mense sou tevrede daarmee wees indien hul ʼn inkomste aangebied word wat as bogemiddeld in hul werksplek of omgewing beskou word, maar dieselfde inkomste in ʼn ander werksomgewing, wat daar as onder-gemiddeld beskou sou word, sal waarskynlik tot ongelukkigheid lei. 

2.    Almal van ons wil miljoenêrs wees. Maar eintlik is dit meer korrek om te sê dat die meeste van ons wil ʼn miljoen rand spandeer, wat natuurlik heeltemal iets anders is as om nougeset ʼn miljoen rand bymekaar te maak.


3.    Die nutswaarde van geld kan op twee maniere vertolk word, naamlik die lewensstandaard wat daarmee gehandhaaf kan word en wat maklik is om in geldwaarde uit te druk, en die ander is kwaliteit van lewe wat nie maklik kwantifiseerbaar is nie.


4.    Die doel van enige belegging behoort te wees om na belasting, beter as inflasie te vaar, d.w.s. om die koopkrag van jou welvaart te vermeerder. Oor die korttermyn sal konserwatiewe rente-beleggings jou kapitaal beskerm, maar nie daarin slaag om jou welvaart, na die uitwerking van inflasie en belasting, oor die langtermyn te vermeerder nie.

5.    Beleggingsrisiko word dikwels gelyk gestel aan korttermyn wisselvalligheid van pryse (volatiliteit). Inderwaarheid is werklike beleggingsrisiko gelyk aan lae opbrengste wat dikwels veroorsaak word deur juis korttermyn volatiliteit te vermy!

6.    Sedert 1871 het die Amerikaanse beurs in 40% van al die jaarperiodes met meer as 20% gestyg of geval. Dus sterk stygings of skerp dalings (volatiliteit) is eintlik nie vreemd nie, anders as wat verslaggewers dikwels te kenne wil gee.

7.    Iemand het die werking van aandeelmarkte vergelyk aan die hand van ʼn persoon wat daagliks sy hond op ʼn lang leiband vir ʼn uitstappie neem. Die roete en uiteindelike bestemming van die persoon bly altyd dieselfde, byvoorbeeld in 'n noord-oostelike rigting teen 5 km/h, maar watter spesifieke rigting die hond op die roete sal inslaan, dit wil sê links of regs van sy eienaar, is nie voorspelbaar nie. Die meeste beleggers fokus egter slegs op die bewegings van die hond en vergeet van die bestemming van sy eienaar.

8.    Aandeelopbrengste geskied nie in ʼn reguit lyn nie. Verder, die oorgrote meerderheid van opbrengste geskied tydens relatiewe kortstondige periodes van prysstygings, wat as sulks onvoorspelbaar is. Des te meer maak dit die tydsberekening van wanneer om in en uit die mark te gaan ʼn futiele idee. Byvoorbeeld, die aandeelprys van Apple het vanaf 2000 tot 2012 meer as 6,000% gestyg, tog het die aandeelprys in 48% van alle verhandelingsdae oor hierdie tydperk gedaal!

9.    Warren Buffett het onlangs genoem dat hy in sy loopbaan ongeveer 400 tot 500 aandele besit het, waarvan slegs 10 vir die oorgrote meerderheid van sy ontsaglike welvaart gesorg het! Dus, moet nie verbaas wees as hierdie soortgelyke tendens in jou eie portefeulje plaasvind nie. Trouens, dikwels sal gevind word dat markprestasie in enige jaar hoofsaaklik deur ʼn paar presterende aandele aangedryf word. 

10. Dit is baie maklik om die rol van pure geluk in die bereiking van finansiële sukses te ontken. J.Paul Getty het immers gesê: “rise early, work hard, strike oil…” Bill Gates het opgemerk: “Success is a lousy teacher, it seduces smart people into thinking they can’t lose.”




11. ʼn Slim belegger het eenkeer opgemerk dat ʼn baie suksesvolle belegging is een waar die meeste beleggers met jou saamstem...nie nou nie, maar wel later.

12. Suiwer intelligensie-vermoëns speel ʼn veel minder rol in suksesvolle beleggingsbestuur as wat die meeste beleggers sal wil erken. Veronderstel twee beleggers; een is ʼn top-gekwalifiseerde kernfisikus wat in die boonste persentiel van IK vermoëns sou val en wat ʼn hoogs gesofistikeerde verhandelingsstrategie met aandele volg teenoor dié van ʼn nederige persoon sonder enige noemenswaardige titels of kwalifikasies wat gereeld maandeliks in ʼn lae-koste aandelefonds belê. Wel, die “ongelukkige” waarheid is dat die kanse veel groter is dat laasgenoemde belegger met ʼn veel groter bedrag sou eindig as eersgenoemde. Warren Buffett het nog altyd gesê suksesvolle beleggers is dié wat hul beperkinge ken, dissipline toepas, en kalm bly wanneer markte onstuimig raak. Trouens, Napoleon se definisie van ʼn militêre genie vind aanklank: “the man who can do the average thing when all those around him are going crazy.”

13. Geen voorsprong word met komplekse en ingewikkelde beleggings verkry nie. Hou dit eenvoudig en verstaanbaar soos moontlik.

14. Werklike kennis (wysheid) en nederigheid is sterk met mekaar gekorreleerd. Die beste beleggers besef hoe min hul regtig weet en tree dienooreenkomstig op.

15. ʼn Goeie belegger is hoegenaamd nie verplig om markgebeure en nuus nougeset na te volg nie. Indien hy of sy dit wel sou doen, berus daar geen verpligting om dit enigsins ernstig op te neem nie.




16. Te veel mense wil hul mond uitspoel oor die wanbestuur van die ekonomie of politieke dwaashede en kan kwansuis met beter voorstelle en oplossings voor die dag kom, tog hul sou veel beter vir hulself kon doen om slegs te fokus op hul persoonlike finansiële bestuur en gedrag.

17. Fokus op daardie goed wat jy kan beheer soos die toewysing van beleggings, jou eie opvoeding, na wie jy luister, wat jy lees, en hoe jy reageer op gebeure. Jy kan nie die uitkomste van markte beheer nie, of hoe die ekonomie vaar nie, rentekoersbesluite en of maatskappye beter sal vaar as verwagtinge nie.

18. “Tyd genees alle wonde” lui die spreukwoord. Maar dit beteken ook dat beleggers markgebeure oor tyd vergeet en dus weer in dieselfde slagysters as in die verlede sal trap. Dit verklaar hoekom byvoorbeeld finansiële krisisse en daaropvolgende dramatiese markdalings, ten spyte van allerhande reëls en regulasies om wangebruike te voorkom, altyd in een of ander vorm sal herhaal, tipies een of twee dekades uitmekaar. 

19. Die meeste beleggers is deeglik daarvan bewus wanneer aandeelpryse daal, maar neem nie tot dieselfde mate kennis daarvan wanneer aandeelpryse styg nie. Daarom is dit nie vreemd dat persepsies verwring word en heelwat kan verskil met die werklikheid nie. Byvoorbeeld, in 2009 het die S&P500 met 27% gestyg, maar ʼn meningspeiling het getoon dat 66% van die respondente het gereken die beurs het oor dieselfde tydperk gedaal.


20.  Baie min beleggers kan akkuraat rekenskap gee van die opbrengste op hul beleggings oor bepaalde tydperke. Verskillende beleggings in die portefeulje word dikwels met mekaar vergelyk, maar omrede nie al die beleggings op dieselfde tydstip begin is nie, is ʼn direkte randwaarde-vergelyking nie moontlik nie. Die spesifieke tydperk waarin ʼn belegging gemaak is, speel ʼn bepalende rol in die relatiewe uitkoms daarvan.



21. Om niks te verander aan jou beleggingsplan nie is waarskynlik een van die kragtigste hulpmiddels tot beleggers se beskikking, natuurlik as jou plan en strategie in die eerste plek goed deurdag was. Daardie begeerte om gedurig veranderinge, soos markgebeure ontvou, aan te bring veroorsaak in die meeste gevalle slegs ʼn oordrag van welvaart vanaf die belegger na die makelaar. Onthou die wyse woorde van Blaise Pascal: “All man’s miseries derive from not being able to sit quiet in a room alone.”

22. Iemand het Warren Buffett op ʼn keer gevra hoe om ʼn beter belegger te word. Hy het gewys na ʼn pak finansiële jaarverslae en gesê lees 500 bladsye daarvan elke dag. Almal kan dit doen, maar weinig sal. Die opbou van kennis is dieselfde soos die werking van saamgestelde rente, aanvanklik vind dit stadig plaas, maar hoe langer jy dit doen, hoe vinniger word insig in situasies en geleenthede verkry.   


23. Baie (te veel) word gemaak van die sienings en opinies van markkenners. Dit is heeltemal iets anders om presies te kan verklaar hoekom finansiële markte op ʼn bepaalde tydstip op- of afbeweeg het as wat dit is om te voorspel hoe die toekoms daarna gaan uitsien. Netso, as ʼn persoon die markkrisis van 2008 korrek voorspel het, beteken dit nie dat dieselfde persoon ander krisisse korrek voorspel het of gaan voorspel nie. Of, daar is ʼn groot verskil tussen iemand wat markkrisse voorspel, waarvan 2008 een was teenoor ʼn persoon wat (slegs) die krisis van 2008 voorspel het.

24. Vertroue in voorspellings neem tipies toe met die hoeveelheid inligting tot beskikking, maar dit verander niks aan die akkuraatheid daarvan nie.




25. Kies jou rolmodelle versigtig. Die Financial Times het byvoorbeeld opgemerk dat in 2008 die drie mees gerespekteerde sportpersoonlikhede waarskynlik Tiger Woods, Lance Armstrong en Oscar Pistorius sou wees. Ons weet almal wat daarna met hierdie persoonlikhede gebeur het – dieselfde gebeur in die beleggingswêreld.  

Om bogenoemde punt verder te illustreer, lees die artikel geskryf deur Joshua Brown[1] oor wat met nege van die mees suksesvolle V.S.A. sake- en beleggingspersoonlikhede wat by ʼn geleentheid in 1923 in Chicago bymekaar gekom het:
“Legend has it that in 1923, a meeting of America’s most powerful men took place at the Edgewater Beach Hotel in Chicago.  Attending the meeting were the following nine financiers and power brokers:
The president of America’s largest steel company, the president of America’s largest utility company, the president of America’s largest gas company, the president of the New York Stock Exchange, the president of the Bank of International Settlements, the nation’s greatest wheat speculator, the nation’s greatest bear and speculator on Wall Street, the head of the world’s greatest monopoly and
a member of President Harding’s cabinet.
But how did things turn out for these distinguished gentlemen?  Within 25 years, all of these great men had met a horrific end to their careers or their lives:
The president of the largest steel company, Charles Schwab, died a bankrupt man; the president of the largest utility company, Samuel Insull, died penniless; the president of the largest gas company, Howard Hobson, suffered a mental breakdown, ending up in an insane asylum; the president of the New York Stock Exchange, Richard Whitney, had just been released from prison; the bank president, Leon Fraser, had taken his own life; the wheat speculator, Arthur Cutten, died penniless; the head of the world’s greatest monopoly, Ivar Krueger the “match king”, also had taken his life; and the member of President Harding’s cabinet, Albert Fall, had just been given a pardon from prison so that he could die at home.
And as for the Wall Street Bear, Jesse Livermore, famous speculator in the stock and commodities markets, his end is perhaps the most tragic of all.  A week after Thanksgiving in 1940, Jesse walked into the Sherry-Netherland Hotel in New York, had two drinks at the bar while scribbling something in his notebook, then proceeded to the cloak room where he sat on a stool and shot himself in the head.  He was 62 and left behind $5 million, down from the $100 million fortune he had amassed just ten years earlier.”