Donker onweerswolke beweeg oor die
Suid-Afrikaanse ekonomie
Deur Daniel R Wessels
Desember 2015
Die politieke gebeure
van die eerste twee weke in Desember het glad nie goeie nuus vir
Suid-Afrikaanse beleggers ingehou nie. Suid-Afrika beleef ʼn volslae ekonomiese
en politieke leierskapkrisis, maar anders as vorige krisisse die afgelope paar
dekades kan die skuld hiervoor nie voor die deur van die Ooste of die Weste
gelê word nie. Hierdie is tuisgemaakte probleem, en meer spesifiek as gevolg
van die ondeurdagte en irrasionele optrede van ons president. Dit gaan nie net soseer
oor die korttermyn impak daarvan op markopbrengste nie - dit is sleg genoeg, ja, maar veel eerder hoe dit
die langer-termyn lewenskragtigheid en die groeipotensiaal van die ekonomie sal
raak. Dit wil sê, of die arbeid en kapitaal wat jy vandag investeer om ʼn beter
toekoms vir jouself en kinders te skep, as’t ware in die niet gaan verdwyn.
In die meer as
tien jaar wat ek op publieke forums doenig is, het ek nog altyd my daarvan
weerhou om enigsins my politieke opinies met lesers te deel – enersyds omdat
lesers my objektiewe finansiële insigte wil lees, en nie weens of ten spyte van
my politieke sienings nie, en, andersyds, ek het waarskynlik nie die nodige
insigte om gebalanseerde debatte oor politieke onderwerpe aan te voer nie.
Tot dusver kon
ek redelik maklik die politieke diskoers vermy en fokus op beleggingsaktiwiteite
en –advies. Ek het gevoel dat die langtermyn vooruitsigte van
Suid-Afrikaanse beleggers nog nie
noemenswaardig deur die politiek van die dag gekortwiek is nie. Ja, ons moes al
ʼn hele klompie politieke dwaashede en vergrype sluk, ons moes teësinnig toekyk
hoe skaars en kosbare staatshulpbronne listig verkwis of gekorrupteer word. Tog,
ek kon na my aanvanklike opgewerkte emosies bedaar het, my vertroos in die wete
dat ons ʼn min of meer onafhanklike, werkende regstelsel en ʼn Grondwet het wat
ons individuele vryhede en regte beskerm. Ek kon my beroep op ʼn verantwoordelike
Tesourie wat die fiskus relatief goed bestuur, hoewel krake in die bestuur van
staatsfinansies in die onlangse verlede begin wys het.
Nietemin, buitelandse
beleggers en kredietgraderingsagentskappe het min of meer vertroue in die
bestuur van ons land se geldsake geopenbaar en tot bykans 40% van ons
staatskuld gefinansier. Laasgenoemde vertroue is meetbaar omdat ons langtermyn staatseffektekoerse
nie enige noemenswaardige risiko-premie verdiskonteer het nie. Kortom, ek kon
ten spyte van die stortvloed van negatiewe nuus nog altyd ʼn oorwegend positiewe
beleggingshouding teenoor die toekoms van die land inneem.
Dit was tot
Woensdagaand, 9 April 2015, waar Pres. Zuma die skokaankondiging oor die
afdanking van die Minister van Finansies, gemaak het. Ek beskou hierdie oomblik
as ʼn waterskeiding hoe beleggers oor die toekoms van die land dink en gaan
optree. Maar dit is ook ʼn waterskeiding
oomblik in terme van hoe ver ons as landsburgers politici in die toekoms gaan
toelaat om met die land se ekonomiese voorspoed te dobbel – dalk is nie alles
wat hierna gebeur het net nadelig nie, daar mag uiteindelik ook ʼn positiewe
verskuiwing in politieke leierskap en verantwoordbaarheid na vore tree.
Terug by die
debakel van Woensdagaand - tot op daardie stadium het die politieke doen en
late van Zuma en sy trawante nie regtig te veel afbreuk aan die status en
kredietwaardigheid van Suid-Afrika by buitelandse beleggers gemaak nie, maar
hierdie keer was dit bepaald anders. Die markte het hewig gereageer in hul
afkeuring van hierdie ondeurdagte besluit; Zuma het die “ongeskrewe” spelreëls van
geloofwaardigheid en vertroue in fiskale dissipline oortree.
Dit was immers
een van Pres. Bill Clinton se raadgewers wat tydens sy presidentskap aangevoer
het die kapitaalmark is die magtigste krag in die wêreld (Clinton se slagspreuk
in sy destydse veldtog was “it’s the economy, stupid”)[1].
Byvoorbeeld, jou land kan dalk militêr die sterkste wees in die wêreld, maar as
beleggers nie hou van jou ekonomiese en fiskale beleid en dissipline nie, en geloofwaardigheid verloor oor die erns waarmee
die land met sy geldsake omgaan, gaan hul jou genadeloos straf en jy gaan
uiteindelik die aftog blaas. Alles in die ekonomie draai uiteindelik om geld en
die koste daarvan, of jy daarvan hou of nie, dit is die harde werklikheid.
[1] “I used to think if there was reincarnation, I wanted to come back as the president or the pope or a .4 baseball hitter – but now I want to come back as the bond market. You can intimidate everybody.”
James Carville, campaign manager for Bill Clinton.
Na die skokaankondiging
het die rand dramaties tot rekordlaagtepunte teenoor die vername geldeenhede
verswak, aandeelpryse van maatskappye wat hul verdienste hoofsaaklik in
Suid-Afrika verdien, soos finansiële instellings, eiendomsfondse en
kleinhandelaars, het skouspelagtig getuimel, en effektekoerse – die rentekoerse
waarteen die staat, publieke sektor en privaatsektor geld op die kapitaalmarkte
kan leen – het vinnig opwaarts gebeur.
Teen Vrydag,
twee dae later, het dit duidelik geword dat Suid-Afrika op ʼn grootskaalse
finansiële ramp afstuur en moes die president druipstert oor die naweek weer ʼn
nuwe (vorige) Minister van Finansies in die persoon van Pravin Gordhan aanstel
(ek dink nie Zuma het noodwendig uit vrye wil bes gegee nie, ook nie dat Pravin
goedsmoeds ʼn aanstelling van Zuma sou aanvaar nie, maar dit daar gelaat). Alles
nou doodreg en weer “sake” soos voorheen?
Nee, ek dink nie
so nie. Hierdie gebeure het ondubbelsinnig bewys Zuma is nie ʼn presidentskap
waardig nie. Hy verstaan nie die spelreëls van die internasionale ekonomie nie.
Zuma het ou, uitgediende, gebrekkige, en verwronge begrippe van hoe die wêreldekonomie
werk, hy verstaan nie “vraag en aanbod” nie, eerder dat die prys van ʼn
kommoditeit gebaseer moet wees op die koste van arbeid om daardie kommoditeit
te vervaardig![2]
Die skade wat Zuma
en sy getroue bondgenote aangerig het en nog kan aanrig is eenvoudig net te
groot prys vir die land om te betaal. Dit gaan nie hier meer oor politiek nie,
maar letterlik oor die voortbestaan van hierdie land as ʼn min of meer gerekende
ekonomie; ʼn plek waar jy vir jou lewensideale kan koester, vir aftrede kan
beplan, kinders ordentlik kan voorberei op hul volwasse lewens en les bes kan leef
en aftree met geld wat wel nog betekenisvolle koopkrag het.
Die bal is nou
pertinent in die hande van die regerende party hoe hul die land gaan wegswaai
van die piesangrepubliek waarheen ons vinnig op pad is.[3]
Hoe ons vorentoe beoordeel gaan word, en hoe ons kollektiewe toekoms gaan
verloop, hang nou vierkantig af van hoe die regerende party die krisis gaan
besleg. Hul aksies sal met ʼn vergrootglas besigtig word en ʼn opdraande stryd lê
voor om ons geloofwaardigheid en
vertroue by internasionale beleggers terug te wen. Dan sal die land se inwoners
moet saamstaan (die sosiale media is ʼn kragtige stem) om die ongewenste
elemente in die regering wat primêr daarop uit is om hulself (of minstens hul
politieke party) te verryk, spoedig uit te werk.
[3] “If anyone does not think SA is a banana republic, they can’t be helped” Julius Malema, EFF leier (en bobaas vermaaklikheidster)
Intussen, wat
moet ʼn mens met jou hardverdiende spaargeld en beleggings maak? Alles wat jy
het, omskakel na ʼn meer stabiele geldeenheid en ekonomie, veral teen huidige swak
wisselkoerse? Ek is bevrees ek (eintlik niemand nie) het nie antwoorde op sulke
vrae nie – primêr sal jy gelei word deur jou eie wêreldsiening en natuurlik
moet jyself verantwoordelikheid vir sulke drastiese aksies kan neem.
Laat ek dit
duidelik stel, niemand weet hoe die toekoms gaan uitspeel nie, een persoon mag
glo dat verdere verdriet en skade onafwendbaar is, terwyl ʼn ander mag glo of
hoop die land sal homself regruk, die regte leierskorps identifiseer en die
ekonomie op ʼn volhoubare groeibaan sal plaas. Albei persone het ʼn kans om reg te wees, so ʼn
bepaalde strategie kan nie as absoluut reg of verkeerd op hierdie stadium beskou
word nie.
Ek glo wel ons
land het die menslike hulpbronkapitaal om suksesvol te wees, miskien nie
toegerus met die nodige vaardighede om op die boonste punt van ekonomiese
ontwikkeling te kan funksioneer nie, maar wel met die nodige ywer, gesindheid en
toegewydheid. Dan glo ek daar bestaan wel ʼn redelike mate van samehorigheid en
nasietrots oor kleurgrense heen. ʼn Mens hoef net ʼn groot sportgebeurtenis by te
woon om die diepe nasietrosts te aanskou (die afgelope sewes rugbytoernooi in
die Kaapstad stadium is ʼn goeie voorbeeld – die enigste ligpunt in ʼn andersins
donker week). Verder, ek dink ook nie ons is tevrede daarmee om as verloorders
geklassifiseer te word nie. Weereens, kyk net na die oorreaksie wanneer ʼn
nasionale sportspan sleg tweede kom – ons aanvaar eenvoudig nie om boedel oor
te gee nie. Kortom, ek dink nie ons is soos skaaplammers wat ewe gedwee ter
slagting gelei gaan word nie – miskien het Zuma geglo hy het die mag en volk in
sy hand en kan hy situasies plooi soos dit sy belange pas, maar het hy hom nie
misreken nie! Wie wil volgende probeer?
Dit was nog
altyd rasioneel om redelike gedeelte van jou beleggingsportefeulje (30%) in
buitelandse markte en geldeenhede te belê. Trouens, die meeste standaard
beleggingsportefeuljes in Suid-Afrika het hierdie tipe verskansing. Verder is
die plaaslike aandeelbeurs redelik geïnternasionaliseer deurdat die oorgrote
gewig van die markkapitalisasie van genoteerde maatskappye hul verdienstes hoofsaaklik in die buiteland
verdien. Dit is egter maatskappye soos finansiële instellings en
kleinhandelaars wat redelik blootgestel is aan die wel en wee van die plaaslike
ekonomie. Maar aan die anderkant, hierdie tipe instellings is by uitstek geskik
en gewoond daaraan om in ʼn “risiko-omgewing” te opereer, en het dalk nie soveel
mededinging soos dit sou gehad het in ʼn andersins stabieler ekonomiese omgewing
nie, dus die moontlikheid van hoër winsgrense kompenseer tot ʼn mate hiervoor. Nietemin,
die aanwesigheid van “randverskansers” op die plaaslike aandelebeurs red tot ʼn mate
beleggers se bas in die tydperk waarin die rand onder druk verkeer.
Beleggers in
langer-termyn staatseffekte (of enige effek waarvan die prys gebaseer word op staatseffekte)
moet egter katvoet loop. Indien die situasie nie in die afsienbare toekoms
beredder gaan word nie en die land ʼn rommelstatus kredietgradering sou kry, kan
internasionale beleggers op groot skaal hul effekte afverkoop en koerse sal verder
styg (pryse daal). Dan is ons om dit sagkens te stel in tamatiestraat.
Dus, as jy
jouself bevind in die kamp wat glo (of hoop) dat Suid-Afrika uiteindelik gaan “werk”,
is daar volgens my nie noodwendig drastiese aanpassings in jou beleggingstrategie
nodig nie, maar as landsburgers sal ons meer aktief betrokke moet raak, al is
dit net die gebruik van sosiale media om onreëlmatighede aan die kaak te stel. Magsbehepte
politici kan nooit weer goedsmoeds vertrou word dat hul na die belange van landsburgers
sal omsien nie.
By nabetragting
is ʼn positiewe uitvloeisel van die reeks gebeure van die afgelope week dat ʼn
duidelike streep nou in die sand getrek is. Zuma en kie se ongebreidelde plundering
en minagting van die staatskas is kortgeknip. Die tyd vir selfsug, gierigheid
en bevordering van eiebelange met publieke fondse is verby. Die aanstelling van
die “sterkman” Pravin Gordhan bevestig dit. Die koning is “dood”, lank lewe die
“nuwe orde”.