Het u al ooit daarmee geworstel of fondsprestasies op enige gegewe oomblik werklik alles vertel wat u behoort
te weet rondom die wenslikheid om in ʼn fonds te kan belê of om hierdie fonds in
u portefeulje te behou al dan nie?
Wel, as die fondsprestasie
uitstekend tot bevredigende resultate opgelewer het, is die antwoord maklik –
“Ja, natuurlik, ek hou die fonds!”. As die fonds swak gevaar het, is die
oplossing eweneens voor die hand liggend – “Raak ontslae van die fonds”.
Ongelukkig, fondsprestasies soos op ʼn bepaalde tydstip gerapporteer, vertel nie
altyd die volle storie nie en is sulke besluite dus nie so maklik of korrek as
wat dit op die oog af sou lyk nie.
Vervolgens sal ek verskillende
voorbeelde aanhaal waarin die voorkoms van spesifieke gebeure, hetsy die onder-prestasie
van die fondsbestuurder of spesifieke kontantvloei-transaksies, op bepaalde
tydstippe ʼn bepalende rol kan speel in die uitkoms van fondsprestasies soos
deur beleggers ondervind:
Eerstens, veronderstel die volgende situasie waar vier
fondse, wat in dieselfde tipes markinstrumente belê, met mekaar vergelyk word
oor ʼn tien-jaar periode. Let op dat negatiewe opbrengste in rooi uitgebeeld
word. Die eerste drie fondse (A, B, en C) beleef twee negatiewe of swak opbrengsjare
agtereenvolgens, in verskillende stadia van die tien-jaar siklus, naamlik aan
die begin, aan die einde en in die middel daarvan. Die vierde fonds beleef ook
dieselfde negatiewe opbrengsjare, nie agtereenvolgens nie, maar verspreid oor
die tien-jaar periode.
Year
|
Fund A
|
Fund B
|
Fund C
|
Fund D
|
1
|
-25%
|
12%
|
17%
|
17%
|
2
|
-10%
|
15%
|
9%
|
15%
|
3
|
5%
|
9%
|
15%
|
-10%
|
4
|
12%
|
17%
|
12%
|
12%
|
5
|
22%
|
37%
|
-25%
|
37%
|
6
|
37%
|
22%
|
-10%
|
9%
|
7
|
17%
|
12%
|
5%
|
12%
|
8
|
9%
|
5%
|
12%
|
-25%
|
9
|
15%
|
-10%
|
22%
|
5%
|
10
|
12%
|
-25%
|
37%
|
22%
|
Watter fonds sou u verkies om in
te belê vir die volle tien-jaar periode?
Fonds A? Nee, na die eerste twee
jare van negatiewe opbrengste sou beleggers se geduld en moed in hul skoene
gesak het en sou waarskynlik die hasepad gekies het. Fonds B? Fantastiese rit
tot by jaar 9, dan sou beleggers nogal groot kapitaalverliese (in randterme)
ervaar en sou hul die belegging na tien-jaar verlaat met redelike dikmonde oor
al die kapitaalverliese wat hierdie ervaring vir hul ingehou het. Waarskynlik
sou beleggers ʼn bietjie beter oor Fonds C gevoel het, hoewel die twee negatiewe
opbrengsjare hul na alternatiewe sou laat soek het. Uit al die “slegte” keuses
sou Fonds D seker dan die “beste” antwoord wees.
Wel, die reine waarheid is dat
dit geen duit sou saak maak watter fonds u sou kies vir hierdie tien-jaar
tydperk nie omrede al vier fondse presies dieselfde endwaardes uiteindelik sou
oplewer!
Voorbeeld 1:
R100
invested
|
Fund A
|
Fund B
|
Fund C
|
Fund D
|
average return
|
9.4%
|
9.4%
|
9.4%
|
9.4%
|
FV of R100
|
217.93
|
217.93
|
217.93
|
217.93
|
annualised return
|
8.1%
|
8.1%
|
8.1%
|
8.1%
|
std deviation
|
16.1%
|
16.1%
|
16.1%
|
16.1%
|
Natuurlik sou dit saak maak indien
u die belegging voor die verstryking van die tien-jaar tydperk sou afkoop,
en dus watter fonds wanneer swak opbrengste ervaar het. Inderwaarheid sou die
opbrengste van die fondse na die afloop van byvoorbeeld ʼn 8-jaar tydperk
drasties vanmekaar verskil het.
R100 invested
|
Fund A
|
Fund B
|
Fund C
|
Fund D
|
average return
|
8.4%
|
16.1%
|
4.4%
|
8.4%
|
FV of R100
|
169.20
|
322.86
|
130.39
|
170.13
|
annualised return
|
6.8%
|
15.8%
|
3.4%
|
6.9%
|
std deviation
|
17.9%
|
9.2%
|
13.6%
|
17.4%
|
Die punt wat ek hierbo wil
illustreer is dat opbrengssyfers opsigself nie so objektief is as wat dit
oënskynlik voorkom nie. Wees verseker, elke fondsbestuurder ondergaan ʼn tydperk
van relatiewe onder-prestasie teenoor hul mededingers en markopbrengste. Wat
vandag die absolute “beste” is, mag dalk nie meer so wees oor vyf of tien jaar
van nou nie. Daar is dalk wel “goeie” fondsbestuurders, maar dit beteken nie
dieselfde as die “beste” fondsbestuurders nie. In eersgenoemde geval is dit eerder
ʼn geval van vertroue in die beleggingsproses en filosofie van die
beleggingsbestuurder sonder die verwagting van “altyd goeie” opbrengste. [Beleggers
kan natuurlik hierdie kwessie van onder-prestasie deur ʼn fondsbestuurder systap
deur eenvoudig in ʼn lae-koste indeksfonds te belê].
Vervolgens, en om terug te keer
na my 10-jaar tydperk voorbeeld, sal ek aantoon dat wanneer ʼn belegger gereeld
onttrekkings maak uit ʼn fonds (of gereeld geld belê), die spesifieke tydstip
wanneer ʼn fonds in die tien-jaar tydperk onderpresteer wel ʼn uitwerking
gaan hê op die uiteindelike opbrengs. So, in hierdie geval, anders as met die
eerste voorbeeld, is daar wel duidelike opbrengsverskille sodra u byvoorbeeld gereelde
onttrekkings uit die fonds maak. Dus, u persoonlike beleggingservaring
gaan nie dieselfde wees as die amptelik-gerapporteerde opbrengste nie.
Laasgenoemde syfers is net van toepassing op daardie beleggers wat vanaf datum
van die oorsigtydperk in die fonds belê was en geen transaksie (onttrekkings of
nuwe beleggings) in daardie tydperk gemaak het nie.
Veronderstel ʼn belegger sou op ʼn gereelde grondslag ʼn
vaste randbedrag uit die belegging onttrek.
Eenvoudigheidshalwe, elke jaar word R5 vanuit ʼn belegging van R100 onttrek.
Na afloop van die tien-jaar tydperk sal die onderskeie fondse soos volg
presteer het:
Voorbeeld 2:
fixed amount withdrawn
|
5.00 p.a.
|
Fund A
|
Fund B
|
Fund C
|
Fund D
|
total income
|
50
|
50
|
50
|
50
|
|
end capital
|
114.63
|
160.87
|
137.77
|
149.93
|
|
annualised return
|
6.1%
|
9.0%
|
7.7%
|
8.4%
|
In hierdie geval sou Fonds B die
beste van al vier fondse gevaar het. Onthou egter dat in wese al vier fondse,
sonder enige transaksie-vloeie, presies dieselfde opbrengste na tien jaar sou
oplewer (soos aangetoon in voorbeeld 1), maar die spesifieke voorkoms van
onttrekkings en wanneer negatiewe opbrengste in die tien-jaar periode plaasgevind
het, speel nou ʼn oorheersende rol in die ervaring van die onderskeie uitkomste.
ʼn Verdere variasie op hierdie
tema is dat wanneer in stede van ʼn vaste bedrag, ʼn vaste persentasie
(byvoorbeeld 5% ) van die belegging gereeld onttrek word. Weereens gaan die
uiteindelike opbrengste verskil, asook die inkomstebedrae wat vanuit die
verskillende beleggings ontvang sal word.
Voorbeeld 3:
fixed percentage withdrawn
|
5%
|
Fund A
|
Fund B
|
Fund C
|
Fund D
|
total income
|
43.81
|
81.13
|
52.11
|
62.44
|
|
end capital
|
134.80
|
134.80
|
134.80
|
134.80
|
|
annualised return
|
6.8%
|
9.7%
|
7.7%
|
8.5%
|
Dus, vanuit bogenoemde voorbeelde
behoort dit duidelik te wees dat opbrengsvergelykings tussen verskillende
fondse vol slaggate is omrede die spesifieke tydstip en spesifieke transaksies
wanneer die vergelyking gemaak word so ʼn bepalende rol kan speel in die uitkoms
daarvan. Ongelukkig is dit moontlik dat fondsveranderinge gebaseer slegs op die
jongste amptelike opbrengsprestasies juis op die verkeerdste tye gemaak kan
word. Interessantheidshalwe, navorsing, plaaslik en internasionaal, staaf juis
dat beleggers hul tydsberekeninge oorwegend verkeerd het en sodoende hulself
met hul keuses benadeel.
As al die bogenoemde u verward
laat voel, goed so! Veranderinge kan nie net lukraak volgens die jongste
statistieke gemaak word nie. Wat volgens my belangriker is as om slegs “koud”
na opbrengsprestasies te kyk, is om uit te vind of jy jouself kan vereenselwig
met die beleggingsfilosofie en prosesse van die fondsbestuurder. Dit verg
natuurlik moeite, gebeur dikwels “agter die skerms” en neem ook tyd om daardie
vertroue in te win. Maar eerder dit as die dolle, futiele gejaag na die jongste
wenners!