Tuesday, November 18, 2014

Aftreebeplanning: Konsepte en inhoud

Ek moet erken dat ek al dikwels in die verlede sekere beleggingsterme gebruik het sonder om vir ‘n oomblik stil te staan en presies te verduidelik wat ek daarmee bedoel. Sekere woorde raak algemene spreuktaal sonder om die dieperliggende inhoud daarvan presies te verduidelik. Netso is dit met aftreebeplanning en al die verskillende fasette wat daarmee saamgaan.

Byvoorbeeld, die begrip “aftrede” mag dalk iewers in die verlede geïmpliseer het dat dit iemand is wat finaal ophou werk het, geduldig elke maand sy pensioenbetaling ontvang, meestal by die huis sit en ontspan, en vir die onvermydelike wag. Maar natuurlik is dit vandag baie meer as hierdie eng beskrywing van ‘n afgetredene. Baie afgetredenes met goeie gesondheid is inderwaarheid aktief betrokke en besig om uiting aan hul tweede loopbane te gee; hetsy liefdadigheid of welsynsfunksies, in raadgewende hoedanighede by besighede, besig om hul stokperdjies winsgewend aan te wend, of diegene wat miskien dit minder breed het doen wat ook al hul kan om broodnodige aanvullende inkomste te kan verdien.

Die punt is dat formele aftrede nie impliseer dat dit die einde van die pad is nie, inteendeel, dit is die geleentheid om jou werklike passie met hopelik veel minder stres as vantevore ten volle uit te leef. Aftrede-beplanning behoort dus nie net die finansiële beplanning daaromtrent aan te spreek nie, maar ook die voorbereiding daarvan hoe om jou vaardighede na aftrede sinvol aan te wend. Dus, dit kan beteken dat aftrede-beplanning nie net is om met ‘n finansiële adviseur te konsulteer nie, maar inderwaarheid om by ‘n verskeidenheid van kundiges kers op te steek.
Die ongelukkige realiteit wat baie afgetredenes in die gesig staar is dat hul voorsiene aftree-kapitaal nie voldoende gaan wees om hul lewensstandaarde vol te hou nie. Dit is belangrik dat sulke persone voor aftrede-ouderdom reeds besef hul somme gaan nie klop nie en dus nie aftrede blindelings tegemoet gaan onder ‘n vals verwagting dat hoë rentekoerse (opbrengste) hul uit die verknorsing vorentoe gaan red nie. Minstens kan diegene reeds voor aftrede ernstig aandag aan maniere gee hoe om hul inkomste te rek, formele aftrede dalk met ‘n paar jaar uit te stel, persoonlike uitgawes drasties te besnoei, ensovoorts.

Sanlam onderneem jaarliks ‘n opname onder aftreefondse (Sanlam Employee Benefits Benchmark Survey) en die jongste statistieke dui daarop dat minder as 30% van lede in staat sal wees om hul lewensstandaarde tydens aftrede te kan volhou. Hierdie syfers geld vir beide eiestaande en saambreel-aftreefondse (tipies kleiner werkgewers) terwyl onder unie-gebaseerde fondse hierdie syfer daal tot onder 20% van die lede.  Onthou, die opname verwys na diegene wat wel deel is van ‘n aftreefonds en natuurlik is daar dan nog ‘n groot groep mense wat buite hierdie formele strukture val.  

Is dit regtig verbasend dat die meeste beleggers wat ten prooi val van bedrieglike beleggingsskemas, wat die spreukwoordelike manna-uit-die-hemel beloof, juis afgetredenes is? (Ek het minder simpatie met welvarende sakepersone wat hul hand aan sulke skemas waag, want dit gaan nie slegs oor die najaag van hoë opbrengste nie, maar na my mening meer spesifiek oor die “belastingvriendelike” wyse waarop hierdie beleggings dikwels hanteer word).

So, hoe moet mense wat hul formele aftrede nader weet waar hul staan omtrent hul finansiële beplanning vir aftrede? Konsulteer met ‘n finansiële adviseur, maar hierdie tipe dienste kan duur wees en nie binne die bereik van baie mense nie. Let wel, ek verwys na adviseurs wat professionele fooie vir hul tyd vra om sulke ontledings te kan doen, en nie bloot verkoopsagente wat gratis advies in ruil vir die verkoop van ‘n produk aanbied nie.

Aftreefondse (pensioen, voorsorg, aftree-annuiteit) kan ‘n vername rol speel om sulke inligting aan hul lede deur te gee. Byvoorbeeld, op die jaarlikse fondsstate kan aangetoon word watter aftree-inkomste die huidige en verwagte aftree-kapitaal sou aankoop. Hierdie inkomste kan uitgedruk word as ‘n persentasie van die huidige verdienste, of te wel beter bekend as die vervangingskoers of replacement rate. Ideaal gesproke behoort die minimum vervangingskoers in die omgewing van 75% te wees, d.w.s. drie-kwart van die voor-aftrede inkomste kan met aftree-inkomste ondervang word. Die moontlike opbrengs op addisionele, diskresionêre bates (d.w.s. kapitaal wat opgebou is uit eie spaarpogings) moet hierby ingereken word, in soverre hierdie bates wel vir aftreevoorsiening geoormerk is.

‘n Alternatiewe wyse om te bepaal of ‘n persoon oor voldoende aftreekapitaal beskik is om op die volgende te let: ‘n Persoon van 65 wat vandag met redelike sekerheid finansieel selfstandig wil aftree, moet oor aftreebates van minstens 20 keer die jaarlikse inkomste-behoefte beskik, d.w.s. indien u voor-belaste behoefte R400,000 per jaar beloop, moet u aftreebates teen R8 miljoen waardeer word. Natuurlik, hoe vroeër die persoon aftree, hoe hoër behoort die verhouding te wees. 

Die vraag hoekom so baie mense klaaglik misluk met hul aftreevoorsiening kan beantwoord word deur te verwys na ‘n ingewikkelde, struktureel-gebrekkige regulatoriese stelsel wat die owerheid tot hul krediet nou wil aanspreek, maar natuurlik sukkel om die voorgestelde wysigings deur te voer (sekere veranderinge sou vanaf 1 Maart 2015 van krag wees, maar is vir minstens ‘n verdere jaar uitgestel weens onderhandelinge met vakbonde wat tot dusver skipbreuk gelei het).

Waarskynlik die grootste enkele rede hoekom baie afgetredenes afhanklik gaan wees van die finansiële hulp van families en uiteindelik die staat is dat dit te maklik is om by bedanking die volle opgehoopte fondsvoordele in kontant te neem en nie te bewaar nie. Redes soos die afbetaling van verbandskuld word dikwels aangevoer as die rasionaal daaragter, maar hierdie planne faal feitlik altyd omrede mense nie die ekstra kontantvloei in hul sakke gedissiplineerd aanwend om hul aftreekapitaal op te bou nie. Verder, die verband word ook nie finaal gekanselleer nie en skep dus die ruimte vir her-finansiering van toekomstige behoeftes wat vakansies, nuwe motors, ensovoorts, insluit. 

Effektiewelik is lede van aftreefondse oor die afgelope aantal jare bemagtig om met redelike vryheid van keuse hul beleggings in aftreefondse volgens hul eie persoonlike voorkeure op te stel. Eintlik in baie gevalle werk hierdie vryheid van keuse teen die beste belange van lede omrede daar kan nie geredelik verwag word dat hul ingewikkelde beleggingsbesluite sonder oordeelkundige advies kan neem nie.

Confucius het immers gesê ware kennis is om te weet dat jy weet of nie weet nie, maar dit is iets heeltemal anders (gevaarlik) om nie te weet dat jy nie weet watter implikasies sekere besluite inhou nie!  In die verband dink ek dat te veel lede enersyds dalk te konserwatiewe beleggingsportefeuljes verkies en inderwaarheid hulself in die voet skiet gegewe die waarskynlike langtermyn aard van aftree-beleggings. Andersyds, in sekere gevalle het lede nie werklik toegang tot lae-koste, passief-bestuurde oplossings nie en word geforseer om in hoër-koste, aktief-bestuurde fondse te belê. Ongelukkig is die kool nie altyd die sous werd met laasgenoemde opsies nie en lede sou waarskynlik beter af wees indien eersgenoemde opsies beskikbaar was.

Vir persone wat nie lid is van ‘n werkgewer-aftreefonds nie en dus in hul eie, individuele aftreefonds (uittree-annuiteit of retirement annuity) belê, asook fondslede wat aanvullende bydraes tot aftree-voorsiening in sulke produkte maak, was daar tot die onlangse verlede nie juis lae-koste opsies beskikbaar nie. Trouens, die koste verbonde aan konvensionele UA produkte soos aangebied deur lewensversekeringsmaatskappye is op ‘n stadium as van die hoogste ter wereld bestempel. Nietemin, vandag is nuwe-generasie UA produkte beskikbaar wat op ‘n deulopende basis minstens 50-75% goedkoper is as die konvensionele produkte.  Nie net is die administrasiekoste drasties verlaag nie, maar ook die koste verbonde aan die bestuur van beleggings (lae-koste beleggingsopsies). Terselfdertyd is die penalisasie-koste by staking van premie-bydraes ook uitgeskakel. 

‘n Verdere rede wat aanleiding gee tot onder-voorsiening is dat werkgewer-en werknemerbydraes geskoei word op ‘n teoretiese belastingkonsep van aftree-befondste inkomste, maar wat nie noodwendig die volle vergoeding wat ‘n werknemer per jaar ontvang, behels nie. Jaarlikse bonusse en reistoelae word tipies hiervan uitgesluit. Dit beteken dat ‘n persoon onder die indruk verkeer dat byvoorbeeld 15% van sy jaarlikse inkomste tot aftreevoorsiening bygedra word, maar inderwaarheid is dit eerder 12.5% of minder van die werklike jaarlikse inkomste. Onthou ook dat ‘n gedeelte van die bydraes aangewend word om risiko-voordele (lewensdekking, ongeskiktheid) en administrasie in stand te hou. Hierdie premies vorm dus nie deel van die werklike bydrae tot aftreevoorsiening nie. Die onder-voorsiening van bydraes tot aftreevoorsiening, en nie net beleggingsopbrengste nie, speel ‘n vername rol hoekom baie afgetredenes tydens aftrede finansieel tekort gaan skiet.

Bydraes tot aftreefondse is belasting-aftrekbaar en inderwaarheid dien dit as ‘n welkome aansporingsmaatreel om juis sulke bydraes te maak. Byvoorbeeld, vir ‘n persoon wat die maksimum marginale belastingkoers van 40% sou betaal beteken dit dat die belastingbesparing 40% van die bydraes sal beloop. Verder, geen belasting is betaalbaar op rente-inkomste, kapitaalwins, ensovoorts nie. ‘n Wen-wen situasie sonder weerga. ‘n Onbedoelde gevolg hiervan is dat vir laer besoldiges (diegene met ‘n marginale belastingkoers van 18%) die aansporing om sulke bydraes te maak eintlik niksseggend is nie. Trouens, benewens risiko-voordele sou dit weinig verskil maak of sulke persone binne of buite aftreefondse spaar. Die moedswillige gees sou wou argumenteer sulke persone kan in elk geval nie daarvan droom om finansieel selfstandig af te tree nie – die staat met hul oorwerkte hulpbronne sal altyd ‘n getroue bondgenoot op hul lewenspad wees.

Waar dit waarskynlik ‘n soort van ‘n altruïstiese idee sou wees om die laer besoldiges te verplig om nie net bloot ‘n enkelbedrag by aftrede te ontvang nie, maar eerder ‘n verpligte maandelikse pensioen, moet ook in gedagte gehou word dat hul lewensverwagting waarskynlik laer as vir ander inkomstegroepe sou wees. ‘n Groot nadeel van tradisionele gewaarborgde lewensannuiteite is dat by afsterwe geen verdere kapitaaluitbetalings moontlik is nie (daar is wel maniere hoe om voordele by dood te verseker, maar dan ten koste van laer pensioenbetalings). Byvoorbeeld, ‘n bedrag van R500,000 by aftrede sou ‘n gewaarborgde inkomste van R3,000 per maand oplewer, maar gestel die persoon sou slegs na drie jaar afsterf, kan geen verdere voordele betaalbaar wees nie (wins is vir versekeraar). Dus, eintlik die enigste haalbare tipe aftreeproduk sou een wees waar die residuele aftreekapitaal, m.a.w. die bedrag wat nog nie as pensioen uitbetaal is nie, tot ‘n sekere mate vir naasbestaandes behoue bly.

Ter opsomming: Vandag is die aftrede-omgewing radikaal anders as wat vorige generasies van afgetredenes beleef het en ‘n nuwe stel uitdagings staar afgetredenes in die gesig. Mense word a.g.v. verbeterde lewensstyl-gewoontes en mediese innovasies aansienlik ouer, maar die staatskas, –ondersteuning en –mediese bystand al leër. Dus mense wat ‘n ambisie het om finansieel selfstandig af te tree is op hulself (of naaste familie) aangewese om byvoorbeeld broodnodige mediese dienste te kan voorsien. Die punt is dat voorsiening hiervoor baie geld gaan kos en is dit moeilik om te voorspel hoe vinnig mediese koste gaan styg (oor die afgelope aantal jare het mediese inflasie konstant bokant algemene inflasie uitgestyg). Aan die positiewe kant sal produkveranderinge en laer beleggingskoste ‘n positiewe hefboomeffek oor tyd op netto beleggingsopbrengste uitoefen.

Nogtans kan ek nie anders as om tot die slotsom te kom nie dat vir baie mense die tradisionele siening oor aftrede sal moet verander. Terwyl u goeie gesondheid geniet, doen die dinge waarvan u hou en as dit boonop vir u ekstra inkomste beteken, soveel te meer. Dit wil sê, neem verantwoordelikheid vir u eie toekoms en moet nie u hoop plaas op slimpraatjies en beloftes van hemelhoë opbrengste op u beleggings nie.        

Monday, November 10, 2014

Wanneer markopbrengste goed genoeg is...


Hoe goed is u rugbykennis? Hoe goed is u motorbestuursvaardighede? Of, hoe goed vaar u in u deugde as ouer of gade? Onder-gemiddeld, gemiddeld of bo-gemiddeld?  U weet dit is baie moeilik om hierdie tipe vrae eerlik te beantwoord, veral hoe meer persoonlik en direk die vrae raak. In hierdie verband is ons dikwels skuldig daaraan om ons vermoёns en vaardighede te oorskat; enersyds, ons weet nie wat die gemiddelde standaard is nie en kan ons dus nie ‘n akkurate peiling daarvan weergee nie. Andersyds, omdat ons swaar sluk aan ons eie tekortkominge en liefs voorgee om oor spesiale vaardighede en kennis te beskik wat ons bogemiddeld teenoor ander sou maak. Die uiteinde hiervan is dat ons waarskynlik nie rasionele oordele oor ons vermoёns in die afwesigheid van betroubare maatstawwe kan fel nie.     

Daarteenoor het beleggingsmarkte wel ‘n standaard, naamlik die opbrengste van markindekse soos bv. die FTSE JSE Alle Aandeel indeks (ALSI) of die Top 40 indeks, ensovoorts. Die opbrengste van hierdie indekse verteenwoordig die geweegde gemiddelde opbrengste van aandele in die indeks en dien as maatstaf waaraan beleggers hul beleggingsvermoёns oor tyd kan meet. Nogtans, selfs met ‘n maatstaf soos ‘n markindeks beskikbaar beteken dit nie dat die meeste persone in staat is om ‘n rasionele oordeel oor hoe om hul beleggings aan te pak, kan maak nie.

Breedweg gesproke het beleggers drie keuses: Een, stel ‘n professionele beleggingsinstelling (aktiewe fondsbestuurders) aan om na u beleggings om te sien. Hierdie instelling sal verklaar dat hul beter as die markindekse kan doen (hulle weet beter as die mark) en derhalwe vra hul fooie om hierdie uitprestasies te kan lewer. Twee, u kan dit self probeer doen; waarskynlik toegerus met gesofistikeerde tegniese ontledingsprogramme om potensiele wenners uit te wys. Hierdie opsie kan op die oog af baie goedkoper wees, behalwe as jy ‘n prys aan jou tydsbesteding gaan koppel en die resultate uit die aard van die saak nie katastrofies gaan wees nie. Drie, aanvaar jy weet nie genoeg of dink daar is eintlik niemand wat beter as die mark weet nie en verkies ‘n lae-koste passiewe belegging soos ‘n indeksfonds of beursverhandelde fonds (ETF).

Veronderstel u kon aan ‘n gholfspel deelneem waar die uiteindelike wenner die een is wat ‘n gholfbal die naaste aan die vlagpen (“closest to the pin”) op ‘n 3-syfer putjie sou kon slaan. Die wenner wen nie al die prysgeld nie, maar wel die meeste. Selfs indien u ondergemiddeld sou vaar gaan u nog steeds iets wen, maar proposioneel natuurlik baie minder as die top-presteerders. Verder u weet nie hoeveel deelnemers daar is nie, maar u weet daar is wel professionele gholfspelers wat ook aan die spel gaan deelneem en o ja, dit kos niks om deel te neem nie. Die rasionele keuse is waarskynlik om die kans te vat al weet u het die nie die vaardighede van ‘n professionele speler nie. Kom ons verander die spelreёls effens. U kan die gemiddelde afstand vanaf die vlagpen van alle deelnemers kies sonder om self te waag. Wat gaan die rasionele keuse vir die deelnemers met min vaardighede wees? Natuurlik die gemiddelde afstand en dus in alle waarskynlikheid ‘n groter beloning as wat die deelnemer op sy eie houtjie sou kon vermag. Hoe meer deelnemers besef dat hul vaardighede onder-gemiddeld is hoe minder aktiewe deelnemers gaan daar wees en terselfertyd gaan die standaard (gemiddelde afstand vanaf die pen) verbeter soos net die beter spelers aan die spel deelneem.          

Hierdie gholfspel bied ‘n belangrike analogie met beleggingsmarkte. Oor die langtermyn bied beleggings ‘n reёle beloning aan beleggers weens die positiewe sinergieё wat voortspruit uit die werking van die kapitaalmarkte en allokering van kapitaal, maar aktiewe beleggers kan slegs wen relatief tot die gemiddeld deurdat daar beleggers is wat swakker as die gemiddeld doen. Die gemiddeld (markindeks) is immers die netto opbrengs van al die verhandelinge van alle aktiewe beleggers. Daar is egter een belangrike verskil: Beleggings kan nie verniet gedoen word nie, daar is beide aanvangs– en deurlopende kostes soos transaksie, navorsing, advies en administrasie ter sprake. Indien dieselfde sou geld vir die gholfspel sou daar baie minder aktiewe deelnemers wees en waarskynlik 60-70% van alle potensiele deelnemers sou eerder met die gemiddelde afstand vanaf die pen tevrede wees. Hoekom geld dieselfde dan nie vir beleggersgedrag in die algemeen nie, synde dat ‘n relatief klein persentasie (minder as 10%) van alle beleggings in die kleinhandel na indeksfondse vloei? Andersins gestel, indien beleggers werklik rasioneel (en eerlik met hulself) opgetree het moes waarskynlik tot 50% van alle beleggings eerder na indeksfondse gevloei het.

Moontlike verklarings? Natuurlik gaan dit oor die onkunde aangaande die logika van markgemiddeldes soos hierbo verduidelik. Waarskynlik ook omdat beleggingsadviseurs nie juis sulke beleggings aanmoedig weens ‘n gebrek aan insentiewe (of dalk insig) nie. Moet ook nie vergeet van die oeroue gedragsprobleme onder beleggers soos oormaat selfvertroue of hebsug nie. Maar dan speel die industrie in sy geheel daarin ‘n rol dat daar baie beleggers is wat glo dat hulle oor spesiale vaardighede, kennis en tegnieke beskik om beter as die mark te kan vaar. En dan maak goedkoper en vinnige internet verhandelingplatforms die “lewe ook makliker”. Die geheim is dat solank daar genoeg aktiewe deelnemers aan markverhandelinge deelneem gaan dit soos in die gholfspel hierbo makliker wees vir die top deelnemers om winste relatief tot die verloorders te realiseer.

Oorweeg die volgende verduideliking: Gestel ‘n aandeel verhandel tans teen R100, maar sy werklike (intrinsieke) waarde is R120. Met verloop van tyd beweeg die aandeelprys na die intrinsieke waarde. Gestel 25% van alle markdeelnemers beskik oor die vaardighede om die korrekte waarde van die aandeel te bepaal terwyl die res (75%) dit verkeerd kry. Die markopbrengs (gemiddelde) van die aandeel oor die periode is 20%. Indien daar geen indeksbeleggers sou wees nie, beteken dit dat die nie-vaardige beleggers (75%) swakker as die indeks sou vaar, terwyl 25% beter as die gemiddeld moes doen.  Scenario 1 in onderstaande tabel verwys hierna. Wanneer 25% van die nie-vaardige beleggers eerder die indeksbenadering sou volg en dus 20% verdien, beteken dit voorts dat onder Scenario 2 die ‘wins” van die vaardige beleggers relatief tot die nie-vaardige aktiewe beleggers krimp in vergeleke met wanneer alle markspelers aktief sou deelneem. Scenario 3 dui op die verdere inkrimping van “wins” soos meer deelnemers die indeksbenadering volg. Let daarop dat die totale groei (opbrengs) van die aandeel nie krimp nie – dit bly 20% – slegs die verdeling tussen “wenners” en “verloorders” verander soos die mark meer mededingend raak.   





Scenario 1
Scenario 2
Scenario 3

Deelnemers
Opbrengs
Deelnemers
Opbrengs
Deelnemers
Opbrengs
Vaardige aktiewe beleggers
25%
35%
25%
28%
25%
22%
Nie-vaardige aktiewe beleggers
75%
15%
50%
16%
25%
18%
Indeksbeleggers
0%
20%
25%
20%
50%
20%
Totale mark
100%
20%
100%
20%
100%
20%
               

Maar wat daarvan as beleggers hul beleggings na professionele instellings uitkontrakteer? Beteken dit dat ‘n belegger ‘n groter kans op sukses – om beter as die markgemiddelde te vaar – sal hê? Nee, nie noodwendig nie. Net soos in die gholfspel wanneer daar selfs net professionele gholfspelers sou oorbly, moet daar nog steeds “wenners” en “verloorders” wees. Hierdie gaping gaan inderdaad kleiner word, maar 50% van die aktiewe deelnemers moet nog steeds onder-gemiddeld wees! Daarteenoor moet met beleggings kostes aangegaan word en dit beteken dat aansienlik meer as 50% van die professionele deelnemers nie die gemiddelde gaan klop nie. 

Statistieke van effektetrustprestasies dui daarop dat slegs ongeveer een-derde van alle aandeelfondse oor byvoorbeeld die afgelope 10-jaar beleggingsperiode die markindeks kon uitstof. Op ‘n jaar-tot-jaar basis verskil die persentasie uitpresteerders aansienlik, maar ongelukkig is dit selde dieselfde beleggingsfondse wat dit jaar na jaar kan vermag.  Hierdie patrone sal voortduur – basies ‘n wiskundige sekerheid – en is dit duidelik dat die vooruitsige van buitensporige opbrengste (bokant die markgemiddelde) met behulp van professionele beleggingsbestuurders aansienlik minder is as wat die meeste van ons dink.

Dus, indien ons as beleggers onsself as rasioneel wil beskou, verg dit inderdaad ‘n eerlike selfondersoek. Oor watter vaardighede beskik ek wat my bogemiddeld sou maak in ‘n uiters mededingende mark? Ditto vir my professionele beleggingsbestuurder. Toegegee ‘n indeksbelegging is nie juis die mees opwindendste vooruitsig nie, maar behoort vir verreweg die meeste van beleggers ‘n kernbestanddeel van hul langtermyn beleggingsportefeulje uit te maak.