In die afgelope klompie
weke is die beleggerspubliek met heelwat sensasionele beriggewing oor kwellende
ekonomiese tendense en dalende aandeelmarkte gepeper. Veral die verswakkende
ekonomiese toestande in China en die direkte gevolge daarvan op dalende kommoditeitspryse,
en die invloed daarvan op die welstand van die plaaslike ekonomie en
geldeenheid, het die kollig gesteel.
Duidelik het die
Chinese probleme om hul ekonomiese “wonderwerk” in stand te hou. Soos ander
vinnig-ontwikkelende, suksesvolle ekonomieë soos Japan en Suid-Korea dekades
gelede, het skuld in die Chinese ekonomie massiewe afmetings oor die afgelope aantal
jare begin aanneem, byvoorbeeld vanaf $7tn in 2007 tot $28tn in die onlangse
verlede. Met reg is hul owerhede bekommerd oor die invloed van die inploffing
van prysborrels in batepryse (eiendom en aandele), slegte skulde, onproduktiewe
investering, oor-investering in kapasiteit, en verswakkende mededingende voordele
teenoor ander lande wat ook as lae-koste vervaardigers beskou word,
tradisioneel een van China se sterkpunte.
Die Chinese het in
Augustus maand almal verras deur die jarelange vaste wisselkoers verhouding van
hul geldeenheid, Yuan, teenoor die VSA Dollar te begin verslap, wat gesien word
as erkentenis van hul owerhede dat hul ekonomie dalk nie meer op so ʼn gesonde en
mededingende voet verkeer nie. Hierdie stap het tot vinnig-verswakkende
wisselkoerse van die meeste ontwikkelende lande se geldeenhede, insluitende
Suid-Afrika, gelei. Verder, het die Chinese, getrou aan hul ideologie van
“bevel en beheer”, invloed probeer uitoefen op aandeelmarkpryse deur aktief tot
die mark toe te tree, byvoorbeeld om aandele op ʼn massiewe skaal op te koop of
sekere beperkings in die verhandeling van aandele te begin implementeer. Dit op
sigself kon nie verhoed dat die Chinese mark met 20% in Augustus teruggesak het
nie. ʼn Mens kry die gevoel dat hierdie kunsmatige ingrepe niks verander het aan
die oorheersende negatiewe sentimente wat op hul markte heers nie.
Die gebeure in
China het na die vernaamste aandelemarkte en kommoditeitspryse oorgespoel –
inderwaarheid is die verwikkelinge in China deflasionêr van aard en winsgrense
sal onder druk verkeer. Die S&P500 het byvoorbeeld met 10% in Augustus
teruggesak, Europese aandele met bykans dieselfde omvang, terwyl kommoditeitspryse
waarvan China tipies groot gebruikers is in dieselfde tydperk verder gedaal
het. Plaaslik het die beurs “slegs” 4% gedaal, maar verdere dalings is
waarskynlik geabsorbeer deur die vinnig-verswakkende rand – ons aandelebeurs
word deur dubbelgenoteerde aandele of maatskappye wat hoofsaaklik hul
verdienste in die buiteland ontvang, oorheers.
Die vraag
waarmee plaaslike beleggers nou worstel of dit die begin van ʼn nuwe beermark of
tydperk van hoë wisselvalligheid is. Die plaaslike aandeelmark het immers
sedert die vorige laagtepunt in 2009 te midde van die wêreldwye finansiële
krisis betekenisvol meer as verdubbel (vanaf indeksvlakke van c.19,000 tot die
huidige c.49,000) en die wipplank emosie
van daardie krisistydperk het lank reeds vervaag.
Sentrale
bankowerhede het na afloop van die finansiële krisis monetêre stimulus op ʼn
ongekende skaal op hul ekonomieë losgelaat om likiditeit en markstabiliteit te
verseker en dit het inderdaad ʼn tydperk van laer wisselvalligheid van markte ingelei.

Die bostaande
grafiek, gebaseer op die bewegings van die maandelikse prysindeks van die JSE,
toon duidelik die afwaartse tendens in die langtermyn wisselvalligheid van
beurspryse (absolute bewegings in pryse van maand tot maand) sedert 2008/9. Tot
op hede het die langtermyn tendens tot ʼn vlak van 10% (standaard afwyking van
prysbewegings oor ʼn rollende 36-maande tydperk) gedaal – vergelyk dit met die
langtermyn gemiddelde van ongeveer 20%!
Wel, dit is
moontlik dat hierdie langtermyn tendens nou ʼn ommeswaai gemaak het – soos dit
al dikwels in die verlede gebeur het – en dat hierdie tendens nou weer opwaarts
sal beur. Let op dat die oorgang van lae na hoë wisselvalligheid redelik vinnig
geskied, tipies ingelei deur een of ander ekonomiese krisis van wêreldwye omvang.
Wat beteken dit
vir beleggers? Hoër wisselvalligheid van markpryse is “normaal” of te wagte,
dit is die aard van aandeelmarkte om van tyd tot tyd wisselvalligheid in
prysbewegings (“een maand op, een maand af”) te ondervind. Dikwels word in die
media aangevoer dat sulke tye buitengewoon of abnormaal is en liefs vermy moet
word, maar ek sou tot ʼn mate daarmee verskil.
Byvoorbeeld, indien
die geskiedenis van markte-wisselvalligheid, soos gemeet sedert 1960, in twee
helftes (minder as 20% wisselvalligheid - “onderste helfte” en meer as 20% wisselvalligheid
- “boonste helfte”) verdeel sou word, kan interessante afleidings daaruit gemaak
word.
Statistics
|
Bottom-half volatility
|
Top-half volatility
|
%
Positive return periods
|
87%
|
63%
|
%
Negative return periods
|
13%
|
37%
|
Overall
Avg Annual Return
|
21.1%
|
10.5%
|
If
Positive, Avg Annual Return
|
25.7%
|
26.4%
|
If
Negative, Avg Annual Return
|
-10.2%
|
-16.8%
|
Die “onderste helfte” toon dat 87% van alle maande wat hierin val ʼn positiewe jaaropbrengs sou oplewer, terwyl dit 63% van alle maande in die “boonste helfte” sou uitmaak. Hierdie laasgenoemde syfer is tot ʼn mate verrassend omdat die deursnee belegger dit waarskynlik ʼn veel laer syfer sou wou toeken. Verder, indien die positiewe opbrengste in isolasie beskou word, het die “boonste helfte” gemiddeld selfs beter as die gemiddelde positiewe jaaropbrengste van die “onderste helfte” gevaar. Die werklike verskil tussen hierdie twee helftes is die voorkoms van negatiewe jaaropbrengste – in die geval van die “boonste helfte” het 37% van alle maande ʼn negatiewe jaaropbrengs tot gevolg gehad teenoor die 13% van die “onderste helfte” en dan was hierdie negatiewe jaaropbrengste in die “boonste helfte” gemiddeld ook hoër (-16.8% teenoor -10.2%). Wanneer beide positiewe en negatiewe opbrengste in ag geneem word, het die “onderste helfte” wel veel beter gemiddelde markopbrengste as die “boonste helfte” opgelewer (21.1% teenoor 10.5% jaaropbrengste).
Dus, met ʼn
perfek-werkende kristalbal moet hierdie periodes van hoër wisselvalligheid
vermy word, maar helaas daar is nie so iets soos ʼn “perfekte kristalbal” nie.
Daar is miskien wel perfekte kennis oor wat so pas gebeur het, maar dit
gee ʼn mens geen voorsprong op wat in die
toekoms gaan plaasvind nie. Anders gestel, tydsberekening van wanneer om te
belê of posisies te verkoop werk nou eenmaal nie so goed nie. Party markdeelnemers
probeer hul strategie daarop bou of hulself te bemark asof hul ʼn besondere
insig oor die toekoms het. Ek dink dit
is ʼn gevaarlike terrein om op te beweeg.
ʼn Verdere punt om
bogenoemde te staaf is dat indien die beste en swakste jaaropbrengs kwantiele
(top 20% en swakste 20%) oor alle maande sedert 1960 geïsoleer word, sou net
effens meer as die helfte van die top 20% beste opbrengste tydens periodes van
laer wisselvalligheid voorgekom het. Die kans is dus bykans net so goed om
uitstaande opbrengste tydens periodes van hoër wisselvalligheid te ervaar. Dit
is wel so dat die oorgrote meerderheid (80%) van die swakste opbrengste tydens
periodes van hoër wisselvalligheid voorgekom het en dien dus as waarskuwing.
Alles inaggenome
is ʼn goeie kompromis om nie drastiese veranderinge aan bestaande planne te maak
nie, miskien wel in sekere gevalle waar uitsonderlike winste gemaak is, om dit
te realiseer, maar natuurlik is dit nie so voor die hand liggend nie omrede ʼn
goeie alternatief met die huidige lae rentekoersomgewing nie maklik beskikbaar
is nie.
Vir jonger of
lang-termyn beleggers dien sulke periodes van hoër wisselvalligheid juis goeie
koopgeleenthede wat goeie opbrengste vorentoe dalk vasmaak. Byvoorbeeld, volgens
onderstaande grafiek bestaan die neiging dat hoër langer termyn opbrengste juis
behaal word indien beleggings in tye van hoër wisselvalligheid gemaak word.

Vir beleggers
met korter-termyn beleggingshorisonne bestaan die moontlikheid van hoër rentekoerse
vorentoe, eintlik “goeie nuus” gegewe die lae rentekoerse waarmee sulke
beleggers in die onlangse verlede tevrede moes wees. Suid-Afrika het ʼn
geneigdheid tot ʼn hoë ingevoerde inflasiekomponent en die skerp verswakking van
die rand gaan sekerlik opwaartse druk op die inflasie tendens plaas. Natuurlik,
hoewel hoër rentekoerse verligting bied, is dit dalk net tydelik want die
grootste gevaar vir veral afgetredenes is die vernietigende uitwerking van inflasie op die koopkrag van geld oor
tyd, daarom moet sulke beleggers nie heeltemal afsien van beleggings wat
plaaslike inflasie kan troef nie, naamlik aandele en eiendom.