Tuesday, August 23, 2016

Die uitdagings van aftreebeplanning in 'n veranderende tydvak

Die uitdagings van aftreebeplanning in ‘n veranderende tydvak

Deur Daniel R Wessels

Augustus 2016

Die basiese veronderstelling van tradisionele aftreebeplanning lui dat ‘n persoon vir ‘n tydperk van 35-40 jaar tot ‘n aftreefonds bydra wat daarna vir hierdie persoon ‘n aftree-inkomste, sê, vir ‘n tydperk van 20-25 jaar (of lewenslank) kan verseker. Dit wil sê, ‘n persoon dra aktief by tot ‘n aftreefonds tot ouderdom 60-65 jaar waarna die plan ‘n gereelde aftree-inkomste tot ouderdom 80-85 kan oplewer. Ideaal gesproke behoort die plan voorsiening te maak vir minstens gereelde inflasie-aanpassing in aftree-inkomste, maar die mate waartoe die aftreeplan in die toekomstige behoeftes van die afgetredene sal kan voorsien, word grootliks bepaal deur die hoeveelheid aftree-kapitaal en die verwagte inkomste-behoefte by aftrede.

‘n Tipiese riglyn wat hier gebruik word is dat aftree-kapitaal by aftrede ongeveer 15-20 maal die inkomste-behoefte by aftrede behoort te wees. Byvoorbeeld, met ‘n jaarlikse inkomste-behoefte van R500,000 (voor belasting) behoort die hoeveelheid aftree-kapitaal in die orde van R10 miljoen te beloop.  Dit kan bewerkstellig word as ‘n persoon , byvoorbeeld, oor ‘n tydperk van 40 jaar nougeset 15% van sy bruto inkomste (ingesluit werkgewersbydrae) tot ‘n aftreefonds bygedra het. 

Maar hoe realisties of haalbaar is hierdie tipe spaarteikens?  In die hedendaagse samelewing met die dikwels selfopgelegde eise en behoeftes van weelderige wonings, luukse voertuie, en algemene hoë lewenstandaarde, is dit alles behalwe ‘n maklike teiken om te handhaaf. Voeg daarby die groter-wordende finansiële eise wat kwaliteit opvoeding van kinders deesdae verg – ouers moet vandag in reële terme aansienlik meer opdok as hul eie ouers twee of drie dekades gelede. Boonop het die belastinggaarder (ingesluit munisipale owerhede) oor die afgelope aantal jare allerlei “innoverende” vorme van belasting (verskillende vorme van munisipale heffings, brandstofheffing, tolgelde, koolstofspoor, “suikerbelasting” ) ingestel wat groot druk op die vermoëns van huishoudings plaas  om aandag aan hul langtermyn spaarplanne te gee.  Persoonlik dink ek nie hierdie tipe spaarteiken is meer realisties vir die tipiese huishouding deesdae nie en dit beweeg eerder af na 10% van bruto inkomste.

Verder, persone is dikwels in die versoeking om met die verandering van hul werkgewer nie hul bestaande aftreevoordele te bewaar nie – daar is kwansuis altyd redes hoekom dit op daardie stadium “beter” is om die kontant (na aftrekking van eenmalige belasting) te neem, want hul gaan bestaande skuld delg (asof hul nie weer in die toekoms dieselfde tipe skuld sal aangaan nie) en sal die “verlore” aftreefondse weer “gou” iewers in die toekoms opmaak.  

Na raming, volgens opnames deur onder andere Sanlam en Old Mutual Werknemersvoordele,   is minder as 10% van alle afgetredenes werklik in staat om hulself as finansieel onafhanklik te kan beskou. Dit wil sê, hul is daartoe in staat om hul lewenstandaarde te handhaaf sonder om die lewensvatbaarheid (toekomstige inkomste-lewering) van hul aftreeplanne in die wiele te ry. Verreweg die meeste afgetredenes moet egter ‘n verlaging in hul jaarlikse inkomste-behoefte (lewenstandaarde) aanvaar, dit wil sê, indien hul voor aftrede gewoond was aan ‘n bruto inkomste van R500,000 per jaar, hul nou aanpassings moet maak om met R300-400,000 oor die weg te kom. Laasgenoemde is moontlik, maar nie sonder daadwerklike aanpassings in hul bestedingspatrone nie. Dit beteken onder andere kleiner en goedkoper eiendom, die afskaling na ekonomiese voertuie en streng beheer van uitgawes (begrotingsbeheer). 

Die fundamentele probleem in Suid-Afrika met aftree-voorsiening is dat  afgetredenes slegs op werklik beperkte maatskaplike  voordele kan staatmaak. Die samestelling van die huidige belastingbasis en wesentlike gebrek aan ‘n uitgebreide, vermoënde middelklas, plaas ‘n ernstige demper op die staat se vermoëns om sulke voordele noemenswaardig uit te brei.  Dus, die individu wat enigsins in die hoër inkomstekategorieë inval, is uitsluitlik aangewese op sy eie vermoëns (en met geluk, bystand vanaf vermoënde familie) om vir aftrede voorsiening te maak.

‘n Demografiese tendens wat wêreldwyd, veral in die ontwikkelde ekonomieë, afspeel is dat mense deesdae geneig is om gemiddeld ouer te raak as ander generasies in vorige dekades, veral as gevolg van verbeterde en gesonder lewensstyl gewoontes, mediese innovasies en behandeling. Dit beteken dat die aftrede-model van 35-40 jaar aktief werk en daarna aftree vir ‘n verwagte lewensduur na aftrede van ongeveer 20-25 jaar vinnig besig is om irrelevant te raak. Die basiese probleem is dat die tydperk van aktiewe werk en bydrae tot aftreevoordele nie toeneem tot dieselfde mate as wat die tydperk na aftrede toeneem nie. Dit beteken dat mense noodgedwonge hul  aftreekapitaal gaan oorleef, veral as die ouderdom van 90s die norm van verwagte lewensduurte gaan raak. Uiteindelik, ongeag hoe die somme gemaak word en waar moontlik uitgawes ingeperk word, gaan die werklikheid hierdie model inhaal, naamlik die periode van aktiewe bydrae tot aftreefondse is eenvoudig te kort om vir ‘n langdurige aftree-periode van 30 jaar plus voorsiening te maak. 

‘n Addisionele dilemma wat kan ontstaan is dat met die snelle tegnologiese vooruitgang en onvermydelike verandering in die behoeftes wat werkgewers aan hul werknemers stel, jou spesifieke beroep tot ’n mate oorbodig mag raak of dat jy nie genoegsaam kan aanpas by die veranderde behoeftes wat jou beroep daarstel nie, en kan dit wees dat jy jou formele beroep “vroegtydig” moet verlaat, dit wil se jou “beplande” aftree-ouderdom word ontydig vervroeg.  Hierdie is ongelukkig harde realiteite wat ‘n skoot koue water oor die bes-geformuleerde aftreeplanne gooi.

‘n Verdere uitdaging vir afgetredenes is dat selfs indien jy vermoed dat jy finansieel goed toegerus is, weet niemand regtig watter eise veral mediese sorg vroeër of later in jou lewe kan stel nie. Mediese sorg, veral intensiewe sorg en bystand, is duur terwyl die finansiële hulp vanaf ‘n mediese fonds, afhangende van die tipe mediese sorg vereis, beperkend kan wees en derhalwe groot kapitaalbesteding uit jou eie sak kan vereis. Ons weet ook dat mediese fonds premies tipies vinniger styg as algemene inflasie en dus ‘n knyptang effek op jou besteebare inkomste, veral tydens aftrede sal hê.

‘n Ander, meer persoonlike uitdaging waarmee afgetredenes kan worstel is hoe om die oorgang vanaf aktiewe werk en gebondenheid (die “gevoel” dat jy iets tot die samelewing se welsyn bydra) tot die skielike beëindiging daarvan met aftrede suksesvol te kan bestuur. In der waarheid fokus mense met aftrede dikwels net op die finansiële aspekte daaraan verbonde, maar min aandag  word aan hierdie psigiese aspekte gewy, wat uiteindelik tot diepe ongelukkigheid kan lei en dat mense hul aftrede eintlik glad nie geniet nie, selfs indien hul finansieel goed toegerus is vir aftrede.  Die uitdaging is natuurlik om iets te vind waarin jou belangstelling, talente en verworwe vaardighede vlerke kry; dat jy voel dat jy daadwerklik bydra en terugploeg tot die bevordering van die samelewing, en as dit boonop finansieel lonend is, maak dit die bestuur van jou aftrede soveel makliker.

Die vraag wat dan opkom is of aftrede, wat dalk veronderstel is om die finale hoogtepunt in jou lewe te wees, werklik ‘n aangename ondervinding, en nie slegs vanuit ‘n finansiële oogpunt nie, gaan wees? Wel, ek persoonlik dink ‘n mens moet wegbeweeg van die tradisionele aftree-model en sieninge waar die idee is dat jy jou moet afsloof vir 40 jaar, selfs al is dit nie aangenaam nie, en dan welverdiende rus neem (asof jy nie jou werk geniet het nie en moet plek maak vir ander). Eerder moet die fokus daarop wees om te werk na ‘n doelwit waar jy jou beroep en passie kan vereenselwig, jouself tot ‘n mate kan losmaak van die formele afhanklikheid van ‘n werkgewer (as dit moet), jy tot ‘n mate finansiële selfstandigheid kan bewerkstellig om jou werksure na gelang van ander persoonlike behoeftes en voorkeure te kan inkort, en dat ‘n spesifieke ouderdom nie hieraan gekoppel hoef te word nie. As jy dit op ouderdom 49,  58, of 67 regkry, en daarna betrokke bly solank jou gesondheid of geesdrif dit toelaat, hoekom moet ‘n mens jouself as afgetree (en dikwels afgeleef) beskou?  Ek dink dit is boonop verregaande om in ‘n ontwikkelende land soos Suid-Afrika met besonder skaars vaardighede mense in ‘n aftree-kategorie te gaan plaas as hul nog soveel het om aan die samelewing te bied.  
        
Die basiese idee is dat mense verantwoordelikheid moet neem vir hul eie aftrede en hoe hul die finale lewensfase wil ervaar. Ongelukkig dink baie werknemers omdat hul aan ‘n aftreefonds behoort dat die werkgewer uiteindelik na hul welsyn sal omsien en dat genoeg kapitaal bymekaar gemaak sal word om salig en gelukkig te kan aftree. Wees verseker dat in die meeste gevalle dit nie sal gebeur nie, enersyds omrede daar nie finansieel goed genoeg voorsiening gemaak sal word nie, en andersyds, omdat mense dalk nie goed genoeg voorbereid is op die drastiese aanpassing in die psigiese vereistes wat aftrede teweeg mag bring nie. 

Dus, ek sien as aftreebeplanning eintlik meer as net die suiwer finansiële beplanning daarvan. Ja, ek sal my gereelde bydraes van 10-15% van my bruto inkomste volhou, maar dit gaan eintlik oor ‘n meesterplan hoe om by ‘n punt uit te kom waar ek my vaardighede op my eie voorwaardes en tyd sal kan aanwend. Daardeur wil ek myself aktief besig hou en stimuleer, en wil ek nie angsvrese ontwikkel of ek my kapitaal gaan oorleef al dan nie, en terselfdertyd dalk nie in staat is om enigiets aan my heil te doen nie. 

Saturday, May 28, 2016

Die regte besluitnemingsraamwerk, ja, maar die verkeerde plek...

Hierdie artikel is losweg gebaseer op ‘n artikel deur Vanguard in Maart 2016 gepubliseer: “Reframing investor choices: Right mindset, wrong market”

Deur Daniel R Wessels

Mei 2016

Ek het in die onlangse verlede redelik rondgereis en staatgemaak  op sosiale nutsprogramme (“apps”) om gastehuis en bed-en-ontbyt verblyf op verskillende plekke te  bespreek. Ek het al vantevore van “Airbnb” gehoor, maar nie werklik besef hoe kragtig  en uitstekend sulke programme kan werk nie (ek het vir my doeleindes van die Suid-Afrikaanse pasgemaakte “Lekkeslaap” netwerk gebruik gemaak). Buiten dat jy jou verblyf volgens smaak en sak kan kies, is die bespreking en betaling daarvan alles in ‘n oogwink afgehandel. Verder word bevestiging en adresbesonderhede elektronies uitgestuur, plus “reminders” ‘n enkele dag of twee voor jy by die betrokke plek sou oornag.

Soortgelyk vind ek die gebruik van die taxidiens nutsprogram “Uber” baie nuttig, waarskynlik net beperk tot die groter metropole, maar vir iemand soos ek wat ‘n doelbewuste besluit geneem het om my eie voertuig kilometers (en uiteindelik hoë verskuilde voertuigkostes en verkeerstres) te beperk en, waar ek kan, openbare vervoer of taxidienste te gebruik, is dit van onskatbare waarde.  Met “Uber” weet ek weet wie die taxibestuurder is, hoe ver hy van my optelpunt is (GPS tegnologie), die beraamde koste van die rit,  en ek hoef geen kontant vir die rit te betaal nie omrede die koste daarvan elektronies van my bankrekening verhaal word.  

So is daar sekerlik nog hordes sulke nutsprogramme vir alledaagse gebruik beskikbaar en die koms van hierdie tipe programmatuur het die besluitnemingsproses met sulke kwessies (waar om te bly, waar om te eet, watter besienswaardighede om te besoek, ens.) oneindig vergemaklik.

‘n Belangrike gemene deler van al hierdie hededaagse nutsprogramme is dat daar ‘n kliënt-terugvoer graderingsisteem (“customer review rating”) bestaan wat jy kan raadpleeg alvorens jy jou finale besluit hoef te neem.  Waarskynlik nog meer belangrik, is dat hierdie terugvoer redelik akkuraat is – byvoorbeeld, ‘n vierster gradering is inderdaad vier sterre werd - onthou hierdie  gradering is die samevoeging van objektiewe opinies, soos deur vorige kliente ervaar, en met geen ander bybedoelings as om eerlik hul persoonlike ervaring met ander te deel nie.  Dit opsigself is meer werd as hordes fotos of ‘n netjiese beskrywing van die goedere of dienste (bemarkingsbrosjures) waarin jy mag belangstel.

Verder, ‘n diens met top gradering is geneig om dieselfde hoë standaarde met verloop van tyd te handhaaf. Dieselfde geld ten opsigte van dienste met swakker graderings, wat geneig is om dieselfde minder goeie aanslae met verloop van tyd te ontvang. Byvoorbeeld, navorsing in Amerika het bevind dat top universiteite/kolleges hul rangorde-posisies met verloop van tyd min of meer handhaaf, m.a.w. ‘n relatief-onbekende kollege sal nie uit die bloute ‘n top-tien posisie inneem nie, of ‘n top kollege sal nie dramaties uit die top posisies val nie. Soortgelyke ervarings is geldig vir restaurante, hotelle en verblyfplekke, vermaak, professionele dienste en goedere soos motorvoertuie, “wit goedere”, en nog vele meer.

Dus, dit maak baie sin om sulke objektiewe inligting na te gaan alvorens jy jou finale besluit sou neem. Trouens, sonder om te veel van jou eie tyd te spandeer, kan hierdie terugvoer-sisteme eintlik as ‘n betroubare “kortpad” (“heuristic” of “rule of thumb”) tot goeie besluite en uitkomste beskou word.

Die tipiese, rasionele besluitnemingsraamwerk wat ons in alledaagse omgewing toepas kan as volg beskryf word:

Identifiseer ‘n behoefte; doen navorsing en versamel inligting; evalueer alternatiewe; neem ‘n besluit; evalueer tevredenheid met aankope.

‘n Betroubare “kortpad” soos kliënte-terugvoer en graderingsisteme van goedere of dienste ondervang baie van die vereiste navorsingswerk om by dieselfde antwoorde uit te kom.  Anders gestel, en om my gesprek uiteindelik na beleggings te lei, historiese prestasie in ‘n “konstante” besluitnemingsomgewing is van onskatbare waarde om ‘n goeie besluit te kan neem. Dit is egter ongelukkig nie waar as dit by beleggings kom nie omrede ‘n top-presterende belegging onwaarskynlik nog steeds ‘n top-presterende belegging ‘n paar jaar jaar later sou wees!

Die fundamentele probleem met hierdie wisselvalligheid wat die beleggingsomgewing kenmerk,  is dat daar soveel ekonomiese veranderlikes ter sprake is wat toekomstige opbrengste kan beïnvloed en wat onmoontlik vandag akkuraat voorspel kan word.

Die onderstaande tabel toon die wisselvallige aard van verskillende tipe beleggings oor tyd aan – die “beste” belegging oor ‘n bepaalde tydperk is nie altyd beter wanneer oor ander tydperke gemeet word nie en sal van tyd tot tyd  selfs swak teenoor alternatiewe vaar.

Bateklas prestasie en rangorde:
YEAR
BEST
2ND BEST
3RD BEST
WORST
1989
EQUITIES
PROPERTIES
BONDS
CASH
1990
BONDS
CASH
PROPERTIES
EQUITIES
1991
EQUITIES
PROPERTIES
BONDS
CASH
1992
BONDS
CASH
PROPERTIES
EQUITIES
1993
EQUITIES
BONDS
PROPERTIES
CASH
1994
EQUITIES
PROPERTIES
CASH
BONDS
1995
BONDS
CASH
PROPERTIES
EQUITIES
1996
CASH
EQUITIES
BONDS
PROPERTIES
1997
BONDS
CASH
PROPERTIES
EQUITIES
1998
CASH
BONDS
PROPERTIES
EQUITIES
1999
EQUITIES
PROPERTIES
BONDS
CASH
2000
PROPERTIES
BONDS
CASH
EQUITIES
2001
EQUITIES
BONDS
CASH
PROPERTIES
2002
PROPERTIES
BONDS
CASH
EQUITIES
2003
PROPERTIES
BONDS
EQUITIES
CASH
2004
PROPERTIES
EQUITIES
BONDS
CASH
2005
PROPERTIES
EQUITIES
BONDS
CASH
2006
EQUITIES
PROPERTIES
CASH
BONDS
2007
PROPERTIES
EQUITIES
CASH
BONDS
2008
BONDS
CASH
PROPERTIES
EQUITIES
2009
EQUITIES
PROPERTIES
CASH
BONDS
2010
PROPERTIES
EQUITIES
BONDS
CASH
2011
BONDS
PROPERTIES
CASH
EQUITIES
2012
PROPERTIES
EQUITIES
BONDS
CASH
2013
EQUITIES
PROPERTIES
CASH
BONDS
2014
PROPERTIES
EQUITIES
BONDS
CASH
2015
PROPERTIES
CASH
EQUITIES
BONDS
DRW Investment Research



‘n Verdere probleem is dat professionele fondsbestuurders nie konsekwente relatiewe prestasies teenoor hul mededingers kan lewer nie. Enersyds, wanneer hul onderskeie prestasies oor verskillende tydperke gemeet word, word wisselvalligheid in relatiewe prestasies opgemerk. Byvoorbeeld, die onderstaande tabel toon die top-twintig presterende aandeelfondse oor die afgelope tien jaar aan. Let op die verandering in kleurskema (vanaf donkergroen = top prestasie,  geel = middelmatig en rooi = swak) wanneer hierdie fondse se prestasies oor korter opbrengsperiodes aangegee sou word. Selde sal ‘n fonds oor verskillende periodes dieselfde hoë standaard van relatiewe prestasies oplewer.

 Tydperk geëindig 31 Maart 2016:
Fund
10-year
7-year
5-year
3-year
2-year
1-year
Nedgroup Inv Private Wealth Equity A
15.4
21.4
19.8
18.9
13.8
5.1
Coronation Top 20 A
14.7
18.1
12.9
10.2
2.1
-1.8
Foord Equity R
14.4
20.9
16.9
14.0
8.2
0.7
Coronation Equity R
14.3
19.6
14.8
13.0
6.2
2.0
Prudential Dividend Maximiser A
14.0
17.3
13.9
12.9
7.1
2.2
Prudential Equity A
13.9
17.4
14.2
12.7
6.3
-0.3
SIM General Equity R
13.7
18.8
14.7
13.9
7.7
2.8
Marriott Dividend Growth R
13.7
20.1
17.2
15.0
14.2
2.1
Allan Gray Equity A
13.6
17.0
14.5
13.5
10.0
9.4
ABSA Select Equity A
13.1
15.4
10.6
8.4
3.9
-3.5
Old Mutual Managed Alpha Equity A
12.9
19.0
15.8
14.6
10.3
2.6
Nedgroup Inv Value R
12.8
17.2
11.7
10.1
6.5
2.5
Old Mutual Investors R
12.8
18.8
15.0
16.0
10.2
2.6
Sanlam Select Optimised Equity B4
12.8
19.6
15.6
14.1
8.7
0.8
Investec Equity R
12.7
18.1
16.5
17.4
14.6
5.5
Investec Active Quants A
12.5
17.9
13.9
12.1
6.0
-1.8
Nedgroup Inv Rainmaker A
12.4
16.7
12.7
13.7
9.7
4.2
Kagiso Equity Alpha A
12.4
16.4
10.2
9.0
1.8
0.4
Sasfin MET Equity A
12.4
20.2
16.6
13.1
9.6
4.3
IFM Technical
12.0
16.1
15.0
14.8
13.6
5.4
DRW Investment Research, Morningstar


Andersyds, vandag se langtermyn top-presterende fondse  (soos gemeet teen 31 Maart 2016) is oorwegend nie dieselfde as byvoorbeeld vyf jaar terug se langtermyn wenners nie!

Tydperk geëindig 31 Maart 2011:
Fund
10-year
7-year
5-year
3-year
1-year
Investec Value R
28.73
23.23
13.47
15.82
19.79
Nedgroup Inv Value R
25.06
22.22
14.00
14.35
15.69
Nedgroup Inv Rainmaker A
24.22
21.40
12.17
8.87
17.22
RMB Value
24.02
21.09
12.25
6.95
14.51
SIM Value R
23.32
23.78
12.03
9.44
12.37
Allan Gray Equity A
22.70
21.00
12.75
8.47
16.80
Old Mutual High Yield Opp A
21.77
18.74
8.57
11.17
15.95
Prudential Equity A
21.55
23.59
13.68
10.91
13.96
STANLIB Value A
21.30
20.27
11.04
3.44
11.79
Investec Equity R
21.08
19.11
9.11
2.40
12.67
DRW Investment Research, Morningstar 



Byvoorbeeld, hoe sou beleggings in enige van bostaande top-tien presterende fondse, soos gemeet teen 31 Maart 2011, die afgelope vyf jaar (tot 31 Maart 2016) gevaar het?

Tydperk geëindig 31 Maart 2016:
Fund
5-year
3-year
2-year
1-year
Prudential Equity A
14.2
12.7
6.3
-0.3
Allan Gray Equity A
14.5
13.5
10.0
9.4
Nedgroup Inv Value R
11.7
10.1
6.5
2.5
Investec Equity R
16.5
17.4
14.6
5.5
Nedgroup Inv Rainmaker A
12.7
13.7
9.7
4.2
SIM Value R
10.5
8.3
1.4
-5.4
Investec Value R
7.9
13.8
7.5
23.8
STANLIB Value A
9.8
7.3
3.2
4.8
Old Mutual High Yield Opp A
7.7
7.3
-0.1
-8.2
Momentum Value A
-1.8
-6.6
-13.4
-0.7
DRW Investment Research, Morningstar 

Wel, die opbrengste wissel van goed tot baie swak, maar oorwegend middelmatig (skakerings van groen wys op goeie prestasies, geel middelmatig en rooi swak). Dus, selfs langtermyn historiese prestasies as basis vir ‘n besluit watter beleggingsfondse om in te belê is nie ‘n betroubare bron van toekomstige prestasies nie.

Kortom, historiese prestasie is eintlik ‘n baie swak barometer van toekomstige prestasie. Dit opsigself is nie eintlik nuus nie, trouens alle fondse is verplig om hierdie stelling in hul bemarkingsmateriaal te publiseer. Maar terselfdertyd vind ons ‘n ironiese situasie homself uitspeel.

Regulatoriese owerhede verplig beleggingsfondse om hul historiese prestasies pertinent te publiseer en as dit (toevallig!) boonop goed sou lyk, is dit niks anders ‘n goue bemarkingsgeleentheid om masssa beleggersgeld te lok nie, met die gewraakte klousule “historiese prestasie is nie ‘n aanduiding van toekomstige opbrengste nie” iewers in die agtergrond (in die fynskrif) versteek.

In hierdie omgewing is historiese prestasies geredelik beskikbaar, toekennings vir prestasies word ontvang en uitbasuin asof die Heilige Graal uiteindelik ontdek is. Dit is dus nie vreemd dat baie beleggers hul keuses uitsluitlik op historiese opbrengste baseer nie omrede hul mag dink dat hierdie tipe inligting inderdaad baie belangrik is vir besluitneming.

Die gevolge hiervan vir beleggers is meerendeels ontnugtering, selfs middelmatige opbrengste kan teleurstellend wees as jy top prestasies verwag het, en word aktiewe omskakeling van een “wenner” na die nuwe “wenner” in ‘n volgende periode eintlik die volgende “logiese” stap.  Die netto gevolg van al hierdie omskakelings oor tyd is waarskynlik middelmatige opbrengste (ek probeer positief wees!), gepaardgaande met baie angs en teleurstellings langs die pad!

Die punt is beleggers wil graag staat maak op “historiese prestasie”, wat so ‘n betroubare maatstaf is met hul keuses in ander alledaagse besluite, maar helaas dit werk nie baie goed in die beleggingsomgewing nie. Wat dus nodig is, is om ‘n nuwe denkwyse en besluitnemingsraamwerk spesifiek vir die beleggingsomgewing te vorm.

Vanguard, byvoorbeeld, stel voor dat beleggers, eerstens, daarop moet fokus om ‘n goed-gedefinieerde plan met duidelike doelwitte saam te stel, identifiseer die risikos wat jy bereid is om te loop asook dié wat jy kan bekostig om te neem (risiko toleransie en kapasiteit).

Tweedens, volg ‘n gediversifiseerde (verspreide) benadering t.o.v. beleggingsamestelling. Belê in verskillende tipe bateklasse en geografiese markte. Te dikwels is beleggers geneig om in daardie tipe markte te belê wat op ‘n spesifieke stadium die gewilde keuse is, asof daar geen verandering in die dinamika van sulke markte gaan plaasvind nie en ook asof daar duidelike “tekens” gaan wees wanneer om te skuif na die volgende geleentheid. Eenvoudig gestel, as dit so maklik was sou alle beleggers baie suksesvol wees, maar ons weet die teendeel is eerder waar.

Derdens, fokus op daardie aspekte wat jy kan beheer. Die aktiewe bestudering van die jongste opbrengssyfers en beste presteerders gee vir geen belegger enige langtermyn voorsprong nie – dié wat daarin glo, is op ‘n dwaalspoor en het nog baie om te leer. Eerder kan beleggers statistieke soos fondsfooie (koste) bestudeer. Gegewe die inherente wisselvalligheid van opbrengsprestasies oor tyd sou dit dalk loon om eerder laer-koste beleggings te identifiseer en dit deel van jou “beleggingspan” te maak. Wanneer dit oor beleggings gaan, stel Vanguard dit as volg voor: “you get what you don’t pay for”!      

Laastens,  geen mens gaan hul beleggingpogings sonder ‘n warboel van emosies ervaar nie. Die dissipline om te hou by jou meesterplan is waarskynlik die moeilikste uitdaging van enige belegger se loopbaan, gegewe die angs en vrese wat beleggers soms gaan ervaar, of die ander uiterste van gierigheid om “vinnige rykdom” geleenthede te kan benut. In hierdie verband kan bekwame raadgewers hul sout werd wees omrede hul meer optree as gedragsadviseurs (behavioural coaches) as iemand wat kwansuis die jongste, beste fondse vir die toekoms kan identifiseer. Ironies genoeg, is dit juis laasgenoemde waarop baie adviseurs hulself roem, maar eintlik is dit niks anders as ‘n blufspul nie en doen hul uiteindelik skade aan die langtermyn opbrengste wat beleggers behoort te verdien.