Ek moet erken dat ek al dikwels in die verlede sekere
beleggingsterme gebruik het sonder om vir ‘n oomblik stil te staan en presies
te verduidelik wat ek daarmee bedoel. Sekere woorde raak algemene spreuktaal
sonder om die dieperliggende inhoud daarvan presies te verduidelik. Netso is
dit met aftreebeplanning en al die verskillende fasette wat daarmee saamgaan.
Byvoorbeeld, die begrip “aftrede” mag dalk iewers in die
verlede geïmpliseer het dat dit iemand is wat finaal ophou werk het, geduldig
elke maand sy pensioenbetaling ontvang, meestal by die huis sit en ontspan, en
vir die onvermydelike wag. Maar natuurlik is dit vandag baie meer as hierdie
eng beskrywing van ‘n afgetredene. Baie afgetredenes met goeie gesondheid is
inderwaarheid aktief betrokke en besig om uiting aan hul tweede loopbane te
gee; hetsy liefdadigheid of welsynsfunksies, in raadgewende hoedanighede by
besighede, besig om hul stokperdjies winsgewend aan te wend, of diegene wat
miskien dit minder breed het doen wat ook al hul kan om broodnodige aanvullende
inkomste te kan verdien.
Die punt is dat formele aftrede nie impliseer dat dit die
einde van die pad is nie, inteendeel, dit is die geleentheid om jou werklike passie
met hopelik veel minder stres as vantevore ten volle uit te leef.
Aftrede-beplanning behoort dus nie net die finansiële beplanning daaromtrent aan
te spreek nie, maar ook die voorbereiding daarvan hoe om jou vaardighede na
aftrede sinvol aan te wend. Dus, dit kan beteken dat aftrede-beplanning nie net
is om met ‘n finansiële adviseur te konsulteer nie, maar inderwaarheid om by ‘n
verskeidenheid van kundiges kers op te steek.
Die ongelukkige realiteit wat baie afgetredenes in die
gesig staar is dat hul voorsiene aftree-kapitaal nie voldoende gaan wees om hul
lewensstandaarde vol te hou nie. Dit is belangrik dat sulke persone voor
aftrede-ouderdom reeds besef hul somme gaan nie klop nie en dus nie aftrede blindelings
tegemoet gaan onder ‘n vals verwagting dat hoë rentekoerse (opbrengste) hul uit
die verknorsing vorentoe gaan red nie. Minstens kan diegene reeds voor aftrede
ernstig aandag aan maniere gee hoe om hul inkomste te rek, formele aftrede dalk
met ‘n paar jaar uit te stel, persoonlike uitgawes drasties te besnoei,
ensovoorts.
Sanlam onderneem jaarliks ‘n opname onder aftreefondse (Sanlam Employee Benefits Benchmark Survey)
en die jongste statistieke dui daarop dat minder as 30% van lede in staat sal
wees om hul lewensstandaarde tydens aftrede te kan volhou. Hierdie syfers geld
vir beide eiestaande en saambreel-aftreefondse (tipies kleiner werkgewers)
terwyl onder unie-gebaseerde fondse hierdie syfer daal tot onder 20% van die
lede. Onthou, die opname verwys na
diegene wat wel deel is van ‘n aftreefonds en natuurlik is daar dan nog ‘n
groot groep mense wat buite hierdie formele strukture val.
Is dit regtig verbasend dat die meeste beleggers wat ten
prooi val van bedrieglike beleggingsskemas, wat die spreukwoordelike
manna-uit-die-hemel beloof, juis afgetredenes is? (Ek het minder simpatie met
welvarende sakepersone wat hul hand aan sulke skemas waag, want dit gaan nie
slegs oor die najaag van hoë opbrengste nie, maar na my mening meer spesifiek oor
die “belastingvriendelike” wyse waarop hierdie beleggings dikwels hanteer
word).
So, hoe moet mense wat hul formele aftrede nader weet
waar hul staan omtrent hul finansiële beplanning vir aftrede? Konsulteer met ‘n
finansiële adviseur, maar hierdie tipe dienste kan duur wees en nie binne die
bereik van baie mense nie. Let wel, ek verwys na adviseurs wat professionele
fooie vir hul tyd vra om sulke ontledings te kan doen, en nie bloot verkoopsagente
wat gratis advies in ruil vir die verkoop van ‘n produk aanbied nie.
Aftreefondse (pensioen, voorsorg, aftree-annuiteit) kan
‘n vername rol speel om sulke inligting aan hul lede deur te gee. Byvoorbeeld,
op die jaarlikse fondsstate kan aangetoon word watter aftree-inkomste die
huidige en verwagte aftree-kapitaal sou aankoop. Hierdie inkomste kan uitgedruk
word as ‘n persentasie van die huidige verdienste, of te wel beter bekend as
die vervangingskoers of replacement rate.
Ideaal gesproke behoort die minimum vervangingskoers in die omgewing van 75% te
wees, d.w.s. drie-kwart van die voor-aftrede inkomste kan met aftree-inkomste ondervang
word. Die moontlike opbrengs op addisionele, diskresionêre bates (d.w.s.
kapitaal wat opgebou is uit eie spaarpogings) moet hierby ingereken word, in
soverre hierdie bates wel vir aftreevoorsiening geoormerk is.
‘n Alternatiewe wyse om te bepaal of ‘n persoon oor
voldoende aftreekapitaal beskik is om op die volgende te let: ‘n Persoon van 65
wat vandag met redelike sekerheid finansieel selfstandig wil aftree, moet oor
aftreebates van minstens 20 keer die jaarlikse inkomste-behoefte beskik, d.w.s.
indien u voor-belaste behoefte R400,000 per jaar beloop, moet u aftreebates
teen R8 miljoen waardeer word. Natuurlik, hoe vroeër die persoon aftree, hoe
hoër behoort die verhouding te wees.
Die vraag hoekom so baie mense klaaglik misluk met hul
aftreevoorsiening kan beantwoord word deur te verwys na ‘n ingewikkelde, struktureel-gebrekkige
regulatoriese stelsel wat die owerheid tot hul krediet nou wil aanspreek, maar natuurlik
sukkel om die voorgestelde wysigings deur te voer (sekere veranderinge sou
vanaf 1 Maart 2015 van krag wees, maar is vir minstens ‘n verdere jaar
uitgestel weens onderhandelinge met vakbonde wat tot dusver skipbreuk gelei
het).
Waarskynlik die grootste enkele rede hoekom baie
afgetredenes afhanklik gaan wees van die finansiële hulp van families en
uiteindelik die staat is dat dit te maklik is om by bedanking die volle
opgehoopte fondsvoordele in kontant te neem en nie te bewaar nie. Redes soos die
afbetaling van verbandskuld word dikwels aangevoer as die rasionaal daaragter,
maar hierdie planne faal feitlik altyd omrede mense nie die ekstra kontantvloei
in hul sakke gedissiplineerd aanwend om hul aftreekapitaal op te bou nie.
Verder, die verband word ook nie finaal gekanselleer nie en skep dus die ruimte
vir her-finansiering van toekomstige behoeftes wat vakansies, nuwe motors,
ensovoorts, insluit.
Effektiewelik is lede van aftreefondse oor die afgelope
aantal jare bemagtig om met redelike vryheid van keuse hul beleggings in
aftreefondse volgens hul eie persoonlike voorkeure op te stel. Eintlik in baie
gevalle werk hierdie vryheid van keuse teen die beste belange van lede omrede
daar kan nie geredelik verwag word dat hul ingewikkelde beleggingsbesluite
sonder oordeelkundige advies kan neem nie.
Confucius het immers gesê ware kennis is om te weet dat
jy weet of nie weet nie, maar dit is iets heeltemal anders (gevaarlik) om nie
te weet dat jy nie weet watter implikasies sekere besluite inhou nie! In die verband dink ek dat te veel lede enersyds
dalk te konserwatiewe beleggingsportefeuljes verkies en inderwaarheid hulself
in die voet skiet gegewe die waarskynlike langtermyn aard van
aftree-beleggings. Andersyds, in sekere gevalle het lede nie werklik toegang
tot lae-koste, passief-bestuurde oplossings nie en word geforseer om in
hoër-koste, aktief-bestuurde fondse te belê. Ongelukkig is die kool nie altyd
die sous werd met laasgenoemde opsies nie en lede sou waarskynlik beter af wees
indien eersgenoemde opsies beskikbaar was.
Vir persone wat nie lid is van ‘n werkgewer-aftreefonds
nie en dus in hul eie, individuele aftreefonds (uittree-annuiteit of retirement annuity) belê, asook fondslede
wat aanvullende bydraes tot aftree-voorsiening in sulke produkte maak, was daar
tot die onlangse verlede nie juis lae-koste opsies beskikbaar nie. Trouens, die
koste verbonde aan konvensionele UA produkte soos aangebied deur
lewensversekeringsmaatskappye is op ‘n stadium as van die hoogste ter wereld
bestempel. Nietemin, vandag is nuwe-generasie UA produkte beskikbaar wat op ‘n
deulopende basis minstens 50-75% goedkoper is as die konvensionele
produkte. Nie net is die
administrasiekoste drasties verlaag nie, maar ook die koste verbonde aan die
bestuur van beleggings (lae-koste beleggingsopsies). Terselfdertyd is die penalisasie-koste
by staking van premie-bydraes ook uitgeskakel.
‘n Verdere rede wat aanleiding gee tot onder-voorsiening
is dat werkgewer-en werknemerbydraes geskoei word op ‘n teoretiese
belastingkonsep van aftree-befondste inkomste, maar wat nie noodwendig die volle
vergoeding wat ‘n werknemer per jaar ontvang, behels nie. Jaarlikse bonusse en
reistoelae word tipies hiervan uitgesluit. Dit beteken dat ‘n persoon onder die
indruk verkeer dat byvoorbeeld 15% van sy jaarlikse inkomste tot
aftreevoorsiening bygedra word, maar inderwaarheid is dit eerder 12.5% of
minder van die werklike jaarlikse inkomste. Onthou ook dat ‘n gedeelte van die
bydraes aangewend word om risiko-voordele (lewensdekking, ongeskiktheid) en
administrasie in stand te hou. Hierdie premies vorm dus nie deel van die
werklike bydrae tot aftreevoorsiening nie. Die onder-voorsiening van bydraes
tot aftreevoorsiening, en nie net beleggingsopbrengste nie, speel ‘n vername
rol hoekom baie afgetredenes tydens aftrede finansieel tekort gaan skiet.
Bydraes tot aftreefondse is belasting-aftrekbaar en
inderwaarheid dien dit as ‘n welkome aansporingsmaatreel om juis sulke bydraes
te maak. Byvoorbeeld, vir ‘n persoon wat die maksimum marginale belastingkoers
van 40% sou betaal beteken dit dat die belastingbesparing 40% van die bydraes sal
beloop. Verder, geen belasting is betaalbaar op rente-inkomste, kapitaalwins,
ensovoorts nie. ‘n Wen-wen situasie sonder weerga. ‘n Onbedoelde gevolg hiervan
is dat vir laer besoldiges (diegene met ‘n marginale belastingkoers van 18%)
die aansporing om sulke bydraes te maak eintlik niksseggend is nie. Trouens,
benewens risiko-voordele sou dit weinig verskil maak of sulke persone binne of
buite aftreefondse spaar. Die moedswillige gees sou wou argumenteer sulke
persone kan in elk geval nie daarvan droom om finansieel selfstandig af te tree
nie – die staat met hul oorwerkte hulpbronne sal altyd ‘n getroue bondgenoot op
hul lewenspad wees.
Waar dit waarskynlik ‘n soort van ‘n altruïstiese idee
sou wees om die laer besoldiges te verplig om nie net bloot ‘n enkelbedrag by
aftrede te ontvang nie, maar eerder ‘n verpligte maandelikse pensioen, moet ook
in gedagte gehou word dat hul lewensverwagting waarskynlik laer as vir ander inkomstegroepe
sou wees. ‘n Groot nadeel van tradisionele gewaarborgde lewensannuiteite is dat
by afsterwe geen verdere kapitaaluitbetalings moontlik is nie (daar is wel
maniere hoe om voordele by dood te verseker, maar dan ten koste van laer
pensioenbetalings). Byvoorbeeld, ‘n bedrag van R500,000 by aftrede sou ‘n gewaarborgde
inkomste van R3,000 per maand oplewer, maar gestel die persoon sou slegs na drie
jaar afsterf, kan geen verdere voordele betaalbaar wees nie (wins is vir
versekeraar). Dus, eintlik die enigste haalbare tipe aftreeproduk sou een wees
waar die residuele aftreekapitaal, m.a.w. die bedrag wat nog nie as pensioen
uitbetaal is nie, tot ‘n sekere mate vir naasbestaandes behoue bly.
Ter opsomming: Vandag is die aftrede-omgewing radikaal
anders as wat vorige generasies van afgetredenes beleef het en ‘n nuwe stel
uitdagings staar afgetredenes in die gesig. Mense word a.g.v. verbeterde
lewensstyl-gewoontes en mediese innovasies aansienlik ouer, maar die staatskas,
–ondersteuning en –mediese bystand al leër. Dus mense wat ‘n ambisie het om
finansieel selfstandig af te tree is op hulself (of naaste familie) aangewese
om byvoorbeeld broodnodige mediese dienste te kan voorsien. Die punt is dat voorsiening
hiervoor baie geld gaan kos en is dit moeilik om te voorspel hoe vinnig mediese
koste gaan styg (oor die afgelope aantal jare het mediese inflasie konstant
bokant algemene inflasie uitgestyg). Aan die positiewe kant sal
produkveranderinge en laer beleggingskoste ‘n positiewe hefboomeffek oor tyd op
netto beleggingsopbrengste uitoefen.
Nogtans kan ek nie anders as om tot die slotsom te kom
nie dat vir baie mense die tradisionele siening oor aftrede sal moet verander.
Terwyl u goeie gesondheid geniet, doen die dinge waarvan u hou en as dit boonop
vir u ekstra inkomste beteken, soveel te meer. Dit wil sê, neem verantwoordelikheid
vir u eie toekoms en moet nie u hoop plaas op slimpraatjies en beloftes van hemelhoë
opbrengste op u beleggings nie.