Sunday, May 17, 2015

Gereelde verslagdoening van my beleggings: Lei dit tot beter prestasies?

Ons almal weet dat gereelde monitering en toesig van ons dagtake en verantwoordelikhede ‘n voorvereiste is om sukses daarmee te behaal. Menige besigheid het al gesink juis omdat hierdie aspek agterweё gelaat is en nie soseer die besigheidsmodel as sulks misluk het nie. Instinktief is dit wat ons met ons geldsake ook wil doen; enersyds omdat ons hard gewerk het daarvoor en andersyds daar ‘n emosionele verbintenis daarmee is en ons vrees dat beleggings kan skeefloop indien ons nie daarna omsien nie.

Vervolgens sal ek redeneer dat gereelde verslagdoening van beleggings tot kontraproduktiewe optredes en prestasies mag lei, veral as ons nie bewus is van die werking en wispelturige aard van finansiёle markte nie. Hiermee bedoel ek nie dat gereelde verslagdoening ‘n onding is nie, maar dat sodanige rapportering behoorlik gekonteksualiseer moet word alvorens beleggingsbesluite geneem kan word.   

Veronderstel ek kon aan u ‘n goed-gediversifiseerde belegging met ‘n langtermyn gemiddelde opbrengs van 15% per jaar en ‘n standaardafwyking (prysvolatiliteit) van 12% voorstel – tipies die profiel van ‘n gebalanseerde fonds met ‘n matige risikoprofiel. Statisties gesproke impliseer dit dat ek kan verwag dat die belegging nege uit tien jare ‘n positiewe opbrengs sal oplewer. Die meeste beleggers sal saamstem dat ‘n 90% suksessyfer (positiewe opbrengste jaar op jaar) ‘n aanvaarbare risikoprofiel is, gegewe die verwagte opbrengste wat ter sprake is.

Maar nou kom die interessante deel – hoe sou die profiel van die fonds lyk indien my oorsigtydperk kwartaalliks, maandeliks of selfs weekliks (daagliks!) sou wees? Dit is hier waar baie beleggers klei trap en inderwaarheid deur korttermyn statistieke gekul word. Die waarheid is dat oor hierdie korter termyn periodes die belegging baie meer riskant voorkom. Byvoorbeeld, op ‘n kwartaalbasis sou ons kon verwag dat die fonds 75% van die tyd positiewe opbrengste sou oplewer – miskien nog aanvaarbaar – maar met maand-op-maand ontleding verlaag die waarskynlikheid na 60% en met ‘n weeklikse oorsig is dit bykans dieselfde as met die opskiet van ‘n muntstuk of die waardes in ‘n bepaalde week gaan styg of daal.

Skielik word die belegging wat vantevore as aantreklik teen ‘n redelik konserwatiewe risikoprofiel aangebied is, nou ‘n hoё-risiko belegging vir die belegger. Ongelukkig is dit ook so dat beleggers aansienlik meer ongemak verduur met dalende beleggingswaardes as die teenoorgestelde emosie wat stygende waardes ontlok. Derhalwe is dit nie verbasend dat beleggers in sulke nehatiewe periodes oorhaastig mag besluit dat sulke beleggings te riskant is nie en liefs besluit om daaruit te onttrek.


Inderwaarheid het niks aan die langer termyn verwagtinge van die belegging verander nie, maar die belegger het slegs deur die verkeerde bril (tydsraamwerk) daarna gekyk en verkeerde gevolgtrekkings gemaak. Weereens, gereelde verslagdoening kan nie skade doen as die belegger weet waarna om te kyk nie, maar ongelukkig bestaan die vermoede dat daar juis baie beleggers is wat die verkeerde besluite gegrond op die verkeerde tydsraamwerk neem. Ironies genoeg het die beleggingsbedryf in sy strewe na deursigtigheid en gereelde verslagdoening juis dalk swak beleggersgedrag aangemoedig.

No comments:

Post a Comment