Tuesday, August 12, 2014

Vyftien Venynige Beleggingswaarhede

1.         Die meeste mense is bykans obsessief daaroor om 'n “goeie belegging” te vind. Terwyl ‘n “goeie belegging” inderdaad verskeie betekenisse vir verskillende mense op verskillende tye kan hê is dit opsigself nie die antwoord vir tekortkominge andersins in hul beleggingsplan nie. So byvoorbeeld behoort hul liefs daarop te fokus om hul persoonlike finansiële beplanning en besteding in orde te kry. Byvoorbeeld, maak dit sin dat ‘n persoon ‘n belegging wil maak terwyl hy of sy uitstaande kredietkaartskuld het waarop hemelhoë rentekoerse gehef word? Dus, instede van u tyd mors om ‘n “goeie belegging” te vind, bestee liefs u tyd daaraan hoe om meer geld te spaar, of as u wil, meer ekonomies met u geldsake om te gaan.

2.         Ek is stewig in die kamp wat huiseienaarskap voorstaan synde dat dit sekuriteit en veral stabiliteit in die gesinslewe bevorder. Maar suiwer vanuit 'n beleggingsperspektief stem ek nie daarmee saam dat dit jou “beste belegging” oor tyd gaan wees nie. Na my mening neem die meeste mense nie al die werklike koste-aspekte, asook die uitwerking van inflasie in ag wanneer hierdie tipe besluite geneem word nie. Synde dat ons dan maklik op 'n dwaalspoor kan beland is ons dalk geneig om te veel wil spandeer om byvoorbeeld ons huis in ‘n spogwoning te omskep, natuurlik met die vriendelike hulp van ons naaste bankier, want ons glo “ons sal ons geld dubbel en dwars terugkry”. Enige een wat in die onlangse verlede eiendom verkoop het, sal kan getuig dat die huismark nie so sterk en lewendig is as wat eiendomsagente te kenne wil gee nie. Of, u sal uitvind daar is taamlike prysverskil tussen aanbod en vraag in die markplek. 

3.         Ten spyte van ‘n hoogs gesofistikeerde aftreefondsbedryf waarbinne ‘n ongelooflike poel van kundigheid en kennis beskikbaar is staar die meeste mense gebrekkige aftreevoorsiening in die sig. Eerstens, miskien het baie lede hulself gefaal deur swak beleggingskeuses ten tyde van hul beroepsloopbaan te maak, en miskien ook as gevolg van suiwer onkunde. Tweedens, struktureel – administasiefooie, risikovoordele en batebetuursfooie het mildelik aan fondsbates weggekalwe. Miskien het diensverskaffers hul eie (of aandeelhouers) belange voorop gestel het ten koste van ledevoordele – dink aan skelwoorde soos “botsing van belange” of “gevestigde belange” waar fondslede nie altyd regverdig of billik behandel is nie. Hoe dit ookal sy, baie positiewe veranderinge in die bedryf is al gemaak en gaan nog gemaak word, maar sulke “skade” kan nie oornag goedgemaak word nie. Helaas, die boodskap aan die huidige geslag voornemende afgetredenes behoort duidelik uitgespel te word. U sal nie kan aftree net met die voordele van u aftreefonds tot u beskikking nie (behalwe as u dalk die toppunt van u beroepsleer of onderneming bereik het) en terselfdertyd verwag om dieselfde lewensstandaard as vantevore te handhaaf nie. U sal addisioneel tot u aftredevoorsiening moet bydra, maar dit beteken noodwendig ‘n inkorting van ‘n uitspattige lewensstyl tydens u beroepslewe. Indien nie, sal ‘n drastiese aanpassing in u aftreejare noodwendig moet volg, of u sal eenvoudig nie kan aftree op die beplande ouderdom nie.

4.         Selfversekerd oor u beleggingskeuses? U het immers u huiswerk gedoen en die opsies wat in die verlede die beste gewerk het, geïdentifiseer en in u portefeulje staangemaak. Maar besef u werklik hoe dinamies finansiële markte is en hoe een markleier of sektor  bykans ongesiens deur ‘n ander verbygesteek kan word. Markte is voortdurend besig om te verander, dieselfde geld vir die samestelling van markindekse. Ter illustrasie: Twaalf jaar gelede het General Motors op die kruin van die golf gery en Apple was inderdaad 'n verrottende appel. Ons weet wat intussen gebeur het  Net so weet ons dat in die volgende dekade ‘n nuwe markleier op die horison gaan verskyn – maar ons weet nie wie dit gaan wees nie of hoe die markindekse daarna gaan uitsien nie. Die punt is dat beleggings in maatskappye wat in die onlangse verlede buitengewoon goed gevaar het waarskynlik nie dieselfde sukses in die toekoms sal behaal nie. Die bybelse waarheid van “moenie al jou eiers in een mandjie pak nie” kan nie oorbeklemtoon word nie.

5.         Ons leef in ‘n tydvak van ‘n ongekende toename en blootstelling aan  inligting waarmee beleggers daagliks gebombardeer word. Byvoorbeeld, vyftien jaar gelede was daar kwalik een toegewyde televisiekanaal wat oor elke sekonde van markgebeure reg oor die wereld verslag gedoen het. Dink byvoorbeeld aan wat u vandag tot u beskikking het, en dan verwys ek nog nie eens na die magdom internetbronne wat u kan raadpleeg om spesifieke inligting na te vors nie. Die vraag is natuurlik of hierdie oorvloed van inligting tot beter beleggingsbesluite lei of eerder beleggers verward laat rondskarrel op soeke na sinvolle antwoorde en riglyne? My gevoel en gewaarwording is eerder laasgenoemde; trouens ek is seker dat die konstante, indien nie sensasionele, beriggewing soos dit aan die publiek opgedis word meer skade as goed doen. Die geheim is eerder om ‘n paar stelle markaanwysers nougeset na te volg en die res van die “markgeraas” te ignoreer. Byvoorbeeld, die afgelope paar jaar is gereeld stories voorgehou dat die wereldekonomie weer na 'n ressessie kan terugkeer – of dit gebeur het of nie sou nie werklik ‘n groot verskil gemaak het nie, ten minste was aandeelmarkte veral in die ontwikkelde markte goedkoop genoeg geprys om te verseker dat beleggers 'n redelike opbrengs vir die volgende paar jaar op hul belegging sou verdien.

6.         Velerlei innovasies oor die afgelope dekade het die lewe van beleggers oneindig makliker gemaak. Dink byvoorbeeld aan die elektroniese verhandelingsplatforms wat beleggers deesdae tot hul beskikking het om gemaklik transaksies deur te voer. Boonop het verhandeling veel goedkoper geraak in vergeleke met die tradisionele wyse om ‘n transaksie deur ‘n aandelemakelaar te maak. Dit alles tot voordeel van die belegger, of het daar dalk onbedoelde gevolge onstaan? Na my mening, ja, omrede beleggers nou veel meer transaksies kan doen – dit is immers goedkoop – is die kanse goed dat hul inderdaad swakker en onoordeelkundige besluite gaan neem. Trouens, navorsing dui onteenseglik daarop dat aktiewe beleggers gemiddeld swakker vaar as passiewe beleggers. Verder, maak dit regtig sin dat die amateur belegger kan dink dat hul die professionele belegger met veel meer en kragtiger hulpbronne tot hul beskikking, kan uitoorlê? 

7.         In dieselfde trant, dink aan die velerlei innoverende, maar ingewikkelde beleggings- en afgeleide instrumente soos CFDs en SSFs (as u nie weet waarvoor die afkortings staan nie, goed so!) wat beleggers vandag tot hul arsenaal kan byvoeg. Ek dink onwillekeurig aan wat John Bogle by geleentheid opgemerk het: “The Purdey shotgun is great for big game hunting... and it is great for suicide.”  Terloops, wat die aanvaarding van innovasies behels, onthou die wysheid van Warren Buffett: “First come the innovators, then come the imitators, then come the idiots.”

8.         Die media is baie lief daarvoor om sekere persoonlikhede in die beleggingswereld aan die groot klok te hang en gereeld hul menings en voorspellings oor sake van die dag aan te haal. Verbasend genoeg, niemand hou telkaart oor die akkuraatheid van sulke menings en voorspellings nie – trouens, indien iemand sou, sou ons nie kon verstaan waarom sodanige persoonlikhede hoegenaamd oor ‘n mening gepols word nie!   Die waarheid is dat ons ongelooflik swak vaar met finansiële en ekonomiese voorspellings; netso vaar kenners verbasend swak gegewe die vertroue en verwagtinge wat in hul gestel word of die bohaai wat kwansuis oor hul diepe insig gemaak word. Die punt is eenvoudig: Niemand weet wat môre, volgende week, maand of jaar gaan gebeur nie!



9.         Praat is soveel makliker as doen. Byvoorbeeld, ons weet die oeroue wenresep is “koop laag, verkoop hoog” of “wees gierig as ander bang is”. Tog, wanneer hierdie geleenthede hulself voordoen, kan ons dikwels aan baie verskonings dink hoekom hierdie respep nie weer gaan werk nie, of soos ons waarskynlik sal dink: “Maar hierdie keer is dit tog anders”. 

10.       Die verskil tussen professionele en amateur sportlui is dat professionele spelers 80% van hul geleenthede benut, terwyl amateurs 80% van hul punte verloor. Net so, die amateur belegger moet daarop fokus om nie hul geld met onoordeelkundige beleggingsbesluite te verloor nie. Die nakoming van ‘n paar eenvoudige beleggingsreëls soos dat slegs beleggings in gereguleerde markte oorweeg sal word of dat beleggingswenke van vriende en familie liefs vermy sal word – tensy hul 'n behoorlike, gekwalifiseerde mening kan huldig – kan die gewone belegger baie verdriet en verliese spaar.

11.       Luister gerus na diegene wat oor hul beleggingsfoute en teleurstellings van die verlede praat, maar vermy die “blink stefaanse” wat voorgee dat hul altyd reg is of van beter weet. Sulke mense het waarskynlik nog nooit iets geleer van beleggings nie of skuil agter 'n skansbeeld, natuurlik met hul eie agenda voorop gestel om goedgelowige beleggers in hul striknet vas te keer.

12.       ‘n Goeie maatskappy is nie noodwendig gelyk aan ‘n goeie belegging nie – die uitkoms van elke beleggingsbesluit word grotendeels bepaal deur die prys waarteen ‘n bate op ‘n sekere stadium aangekoop is. Byvoorbeeld, indien u ‘n aandeel van ‘n maatskappy teen ‘n premie (gemeet teenoor historiese prysvlakke asook die relatiewe prysverhoudings van soortgelyke maatskappye) sou aankoop, moet u baie seker van u saak wees dat die toekomstige verdienste en dividende hierdie premie sou regverdig. Ongelukkig, baie dikwels realiseer hierdie buitensporige verwagtinge egter nie  Les bes, u sal waarskynlik tot die besef kom dat opbrengste op sulke beleggings nie in ooreenstemming is met die persepsies rondom die kwaliteit van die maatskappy of besigheid nie. Soortgelyk, gewilde aandele of beleggingsstrategieë op ‘n sekere stadium (“almal koop dit nou”) gaan waarskynlik tot middelmatige of teleustellende opbrengste in ‘n latere stadium lei.   

13.       Wanneer u in die aandeelmarkte belê, wees voorbereid daarop dat aandeelpryse minstens elke jaar ‘n regstelling (daling) gaan beleef, wat natuurlik in daaropvolgende stadia gevolg gaan word deur stygings, waarskynlik verby vorige prysvlakke. Wees ook daarop voorbereid dat aandeelmarkte minstens elke 7-10 jaar ‘n grootskaalse daling gaan ondervind wat baie waarskynlik u vertroue in sulke beleggings vir minstens ‘n goeie klompie maande or jare daarna ernstig gaan knou. Gedagtes soos “nooit weer nie” gaan waarskynlik by u opkom. Glo dit, weet dit, en maak vrede daarmee dat dit is hoe finansiële markte werk. Dan sal u hopelik nie oorhaastige, skadelike finansiële besluite neem waneer u emosies ten tyde van dramatiese markgebeure op loop gaan nie. 

14.       In die volgende twintig jaar gaan ons waarskynlik drie tot vier ekonomiese ressessies beleef. Dit is immers die harde werklikhede van ekonomiese en sakesiklusse. Moet dus nie verbaas wees as dit wel voorkom nie. En, o ja, ekonome gaan bes moontlik ses tot sewe ressessies oor hierdie tydperk voorspel. Net ter inligting: Volgens Google is die term  “double-dip recession” in 2010 en 2011 bykans 11 miljoen keer gebruik wat natuurlik nooit gerealiseer het nie. Soortgelyk, in 2006 en 2007 is die woord “financial collapse” feitlik nooit gebruik nie en ons almal weet wat kort daarna gebeur het.



   

15.       Suksesvolle beleggingsbestuur oor die langtermyn is eintlik ongelooflik moeilik, maar nie om die voorhandliggende redes nie. Vandag is 'n legio van professionele fondsbestuur en beleggingsprodukte vir elke smaak en gier beskikbaar, die belegger kan feitlik alles self doen en dan nog teen relatiewe lae koste. Maar dit is nie die deurslaggewende faktor waarom 'n belegger suksesvol sal wees al dan nie, maar eerder of die belegger sekere basiese kennisvlakke verwerf het en baie belangrik, die sielkundige vermoëns ontwikkel het hoe om moeilike situasies te hanteer. Byvoorbeeld, hoe kalm gaan u bly wanneer “alles” rondom u klaarblyklik in duie stort of elke Jan Rap en sy maat oënskynlik 'n fortuin uit die nuutste beleggingsgier maak. Miskien sou 'n tipe Rip van Winkel die beste soort belegger vir langer termyn beleggingsperiodes uitmaak, maar dit is eenvoudig nie hoe ons as mense aanmekaargesit is nie – ons het sosiale interaksie met mekaar, ons wil voortdurend verken, nuwe idees op die proef stel en optree volgens die gebeure van die dag. Tog, met die voortdurende opbou van kennis en ondervinding leer ons hoe om ons rou emosies in toom te hou en beter beleggers te word, maar dit beteken dat ons doelbewus ons houding en verwagtinge  jeens beleggings moet verander. Dit is nie net u belegging wat vir u werk nie, maar u wat aan uself moet werk om die beste resultate oor tyd te behaal.

No comments:

Post a Comment