Thursday, August 21, 2014

Wiskundige geletterdheid, persepsies en besluitneming


In die onlangse verlede het twee artikels wat verslag gedoen het oor die gebrekkige kennisvlakke van wiskunde onder die breë publiek my oog gevang. Ek verwys nie hier na ingewikkelde algebra of trigonometrie soos van toepassing in die ingenieursbedryf of fisiese wetenskappe nie, maar bloot basiese of primêre wiskundige geletterdheid. Meer spesifiek, ‘n konseptuele verstaan wat sekere terme soos persentasies of verhoudings impliseer sodat ooglopende foute en wanpersepsies in alledaagse besluitneming uit die weg geruim kan word.

Eerstens, ‘n Afrikaanse dagblad het oor navorsing berig wat dui op die die skokkende gebrek aan kennis van wiskunde-onderwysers by laerskole.[1] Hierdie gevolgtrekking spruit voort uit ‘n verteenwoordigende steekproef wat landswyd by skole ‘n paar jaar tevore uitgevoer was. Die fokusgroep was graad 6 wiskunde-onderwysers. Byvoorbeeld, bykans 80% van die onderwysers kon nie wiskunde-somme op graad 6 vlak baasraak nie en tot soveel as 60% van die somme kon nie korrek beantwoord word nie. Inderwaarheid het minder as 20% van die onderwysers kennis van wiskunde tot op ‘n graad 8 vlak ten toon gestel.. Bid jou aan, hoe kan verwag word dat die arme kinders goed geskool kan word in wiskunde – verseker kan ons land nie verwag om ‘n magdom van top-gehalte, hoë-vlak ingenieurs in die nabye toekoms die wêreld in te stuur nie!

Maar dit gaan nie bloot oor die uitset van ‘n hoë-kwaliteit, produktiewe werksmag nie; nee, dit is baie meer as dit. Die basiese waarde van wiskunde is tog om rasionele en logiese denke te bevorder. Sonder ‘n gesonde begrip daarvan gaan hierdie denkpatrone nie ontwikkel nie want niemand word noodwendig uit die staanspoor daarmee gebore nie.

Volwassenes moet immers besluite met belangrike finansiële implikasies kan neem, soos byvoorbeeld lewensstylkeuses, finansiering en beleggingskeuses. Let wel, nie alle tipe finansiering of beleggingsprodukte is na my mening noodwendig ontwerp met die endgebruiker as die primêre begunstigde in gedagte nie! 

Die afwesigheid van rasionele denke gaan verseker jou kwesbaar laat teen die aanslag van ongebreidelde kapitalisme in sy lelikste vorme (byvoorbeeld, dink aan ongesekureerde skuldfinansiering en alles wat daarmee gepaardgaan; ek hoef seker niks verder hieroor te sê nie…). Maar selfs baie eenvoudiger, onskuldige besluite kom ter sprake, byvoorbeeld die keuse van watter hamburger om te koop (sien my storie hieroor ‘n bietjie later).

Die tweede artikel wat my belangstelling geprikkel het is deur ‘n Amerikaanse finansiële raadgewer, Carl Richards, op sy blog (oorspronklike weergawe New York Times) gepubliseer.[2] Natuurlik verwys Richards na die wiskundige ongeletterdheid van die breë Amerikaanse publiek, hoewel ek vermoed dat hul opvoedingsisteem dalk nie dieselfde krisisafmetings as ons eie ondervind nie. Nogtans, wiskundige ongeletterdheid blyk ‘n universele probleem te wees, wel minstens in ons westerse samelewing, en dalk as gevolg van ‘n gebrekkige westerse siening oor die manier van wiskunde-onderrig.

Richards vertel dat toe hy vroeër in Las Vegas gewoon het op ‘n keer deur ‘n spesifieke reklamebord aangetrek is wat verkondig het dat ‘n spesifieke casino ‘n 98% uitbetaling het. Wel, met die eerste oogopslag het dit baie aantreklik gelyk totdat hy hieroor nagedink het. Dit beteken dat vir elke $1 wat die dobbelaar by die casino spandeer gemiddeld 98c terug verwag kan word – nog steeds ‘n 2c verlies. Geen belegger sal hiermee tevrede kan wees nie. Nogtans het mense in hul hordes by hierdie casino ingestroom waarskynlik met die verwagting van heeltemal iets anders as wat die werklike betekenis daarvan was.

         
‘n Ander staaltjie wat Richards vertel gaan oor ‘n kitskos kettinggroep wat as teenvoeter vir die gewilde McDonalds Quarter Pounder ‘n Third Pounder hamburger geloods het. Ten spyte daarvan dat mense in steekproewe daarop gedui het dat die Third Pounder beter smaak en goedkoper is as die Quarter Pounder, het mense nog steeds laasgenoemde verkies. In opvolgstudies het mense gesê dat hul die Quarter Pounder verkies omdat dit kwansuis ‘n groter porsie is as die Third Pounder, vier is immers groter as 3. Maar natuurlik is dit nie waar nie, onthou ons verwys hier na breuke, en ‘n 1/3 is altyd groter as ‘n ¼, nogtans mense kon nie hierdie belangrike onderskeid tref nie.

 Vervolgens fokus ek daarop hoe misplaaste verwagtinge by die publiek weens gebrekkige insig in finansiële terminologie en berekeninge kan ontstaan. 

Byvoorbeeld, dink aan die maniere hoe rentekoerse op beleggingsdepositos deur finansiële instellings aan die publiek in advertensies opgedis word. Vir ‘n vyf-jaar termyn deposito mag op ‘n prominente wyse ‘n rentekoers van 10% per jaar aangebied word terwyl die ooreenstemmende rentekoers op ‘n een-jaar deposito 7% per jaar sou beloop. Wat beteken hierdie koersverskille werklik? Is die 5-jaar koers werklik baie beter as die een-jaar koers soos dit ooglopend voorkom (“10” en “7%”). Hiervoor word nogals redelike insig van die werking van rentekoerse verlang om by ‘n sinvolle antwoord uit te kan kom.

Daar moet gelet word op die tipe rentekoers - enkelvoudig, nominaal of effektief. Byvoorbeeld in hierdie geval sou die “10%” verwys na die enkelvoudige rente verdien op ‘n belegging oor ‘n vyf-jaar tydperk (gewoonlik word dit gemeld in die fynskrif onderaan die advertensie). Dit beteken indien vandag R1m belê word sal oor vyf jaar R1.5m uitbetaal word. Geen rente word gedurende die termyn uitbetaal nie, en word slegs op die vervaldatum uitbetaal.

Hoe kan dit vergelyk word met ‘n een-jaar depositokoers van 7%, waarvan rente maandeliks betaalbaar is? Hierdie tipe rentekoers is bekend as die nominale koers. Maar hierdie koers kan nie direk vergelyk word met die vyf-jaar koers waar geen rente gedurende die termyn uitbetaal word nie. Daarvoor moet die nominale koers omgereken word na die effektiewe koers; dit is as die maandelikse rente gekapitaliseer sou word en slegs na afloop van die een-jaar periode uitbetaal sou word. Die effektiewe koers van die een-jaar deposito beloop 7.23% per jaar. Daarteenoor, vir die vyf-jaar belegging is die ekwivalente effektiewe koers gelykstaande aan 8.45% per jaar.

Nou kan beide beleggings in dieselfde, vergelykbare terme beoordeel word. Die potensiële belegger kan dus besluit of die rentekoersverskille tussen die vyf-jaar opsie en een-jaar opsie (8.45% en 7.23%) genoegsaam is om die kapitaal vir ‘n langer tydperk vas te maak, al dan nie.  Minstens bied hierdie metodiek ‘n rasionele grondslag waarop beleggingsbesluite berus kan word, en nie slegs die grype na sensasionele advertensies en syfers nie.

Belegging
Termyn (jare)
Effektiewe
Nominale
Endwaarde
       1,000,000
5
8.45%
8.14%
         1,500,000
       1,000,000
1
7.23%
7.00%
         1,072,290


Breedweg gesproke is die meeste mense skuldig daaraan om die uitkoms van lae-waarskynlikheid uitkomste te oorskat en soortgelyk hoë-waarskynlikheid uitkomste te onderskat. Dit lei daartoe dat mense proporsioneel meer geld sou waag op lae-uitkoms gebeure soos dobbel (casinos, lotto) teenoor veiliger uitkomste. Net so sal mense aangetrek word deur die potensiële uitkoms van spekulatiewe aandele teenoor ‘n gediversifiseerde mandjie van aandeelbeleggings. Let wel, dit is nie noodwendig verkeerd om geld te plaas in eersgenoemde opsies nie, dit is eerder ‘n geval van oordrewe verwagtinge, en gevolglik oor-investering daarin relatief tot veiliger, hoër-waarskynlikheid uitkomste.

Ditto vir beleggings-skemas waarin beloftes van hoë opbrengste verkondig word. Soos motte in die aand na ‘n lig aangetrek word, sal daar altyd mense wees wat min oorweging skenk aan die potensiële gevare van sulke skemas, bv. wanadminstrasie, volhoubaarheid van opbrengste en pleinweg bedrog deur die sogenaamde administrateurs van sulke skemas.

Gegewe die prominensie wat die koste van beleggings vandag in die media geniet, is ‘n interessante vraag hoeveel mense regtig besef hoeveel hul vir die professionele bestuur van hul beleggings betaal. Gewoonlik druk fondsbestuurders hul fooie as ‘n persentasie van die waarde van die belegging uit, maar nie in randwaarde nie (terloops, adviseursfooie word meestal in randterme op beleggingsstate aangetoon). Terwyl persentasie-berekening en omskakeling na randwaarde ‘n relatiewe eenvoudige berekening behoort te wees, moet ‘n mens nogal wonder hoeveel beleggers dit werklik kan doen. Ek vermoed baie beleggers weet nie regtig wat hul vir die fondsbestuurders betaal nie, veral omdat hierdie koste (in randterme) nie op state geopenbaar word nie. Wel, miskien is dit ‘n geval van “wat jy nie sien nie, gaan jou nie pla nie”.  Nogtans, ek is nie so seker of die beleggingsbedryf regtig kan aanspraak maak op deursigtigheid soos dikwels aangevoer word nie.  
   
In die algemeen skenk mense groter oorweging aan die bevrediging van onmiddelike behoeftes teenoor meer, later, oftewel - om dit meer elegant uit te druk - toekomstige voordele word teen ‘n baie hoë verdiskonteringskoers teenoor die voordele van vandag gemeet. Dit het daarmee te make dat ons enersyds die kumulatiewe uitwerking van saamgestelde rente (distribusies) in die toekoms totaal onderskat en anersyds vind ons dit moeilik om ons te vereenselwig met ons toekomstige self en moontlike behoeftes op daardie stadium van ons lewens. Trouens, navorsing het bevind dat mense min of meer dieselfde emosie (of gebrek daaraan) teenoor hul toekomstige self openbaar as wat hul teenoor vreemdelinge in finansiële transaksies wat hul toekoms sal raak, sou toon.

[Lees meer hieroor in ‘n artikel wat ek vantevore oor hierdie onderwerp saamgestel het: http://www.indexinvestor.co.za/index_files/MyFiles/NewsletterJuly2011.pdf]

Nietemin, mense sukkel om die uitwerking van saamgestelde rente behoorlik te rasionaliseer. Beleggingswaardes oor tyd neem ‘n ekspononensiële (groei op groei) funksie aan en nie in ‘n lineêre formaat soos ons geneig is om te dink nie.  Indien mense die ware toedrag van sake sou begryp, sou daar veel minder geneigdheid wees om voortdurend byvoorbeeld spaarpogings “totdat dit beter gaan” uit te stel. In elk geval, dit is nie die tipe berekening wat op die ingewing van die oomblik gedoen kan word nie – ons het eenvoudig nie die verstandelike vermoëns om sulke berekeninge oombliklik te kan doen nie. Daarvoor word gewoonlik ‘n sakrekenaar vereis en ‘n basiese kennis van hoe om toekomstige waardes te kan bereken.

Ter illustrasie van bogenoemde beginsels: Indien u ‘n stuk papier 42 keer (teoreties) kon dubbeld vou, wat sou u skat sal die afstand wees wat die gevoude papier in beslag neem? Tien meter, twintig meter, honderd meter? Nee, inderdaad lank genoeg om die maan te kan bereik (384,000 km)!
       
Les bes, niemand van ons kan aanspraak maak op perfekte beoordeling van alle aspekte van ons daaglikse besluitneming nie. Ons is immers menslik, maar ons kan definitef beter besluite met die toepassing van logiese denke en basiese wiskundige beginsels neem. In baie gevalle sal dit loon om eers beredeneerd oor belangrike finansiële sake na te dink as om bloot naïwelik op mooi advertensies en beloftes te reageer.        



[1] Die Burger, 2014. “ Graad 6-onnies se somme ‘n groot krisis”  Augustus, 8.

[2] Carl Richards, 2014. “The Cost of Being Bad at Math”  August, 6.

No comments:

Post a Comment