Saturday, September 6, 2014

Beleggingsverliese: Die emosionele (en irrasionele) ervaring van beleggers

Wiskundig uitgedruk is die  terme in die vergelyking  

(1+1) = (3-1)

altyd gelyk aan mekaar en behoort dit as sulks geen invloed op individue se besluitneming te hê hoe om by die resultaat uit te kom nie, of om meer spesifiek te wees hul behoort geen voorkeur te hê ten opsigte van die “linkerkantse term” of “regterkantse term” van die vergelyking nie.  

Die waarheid egter is dat die menslike gedrag bepaalde vooroordele het en nie werklik neutraal kan staan ten opsigte van sulke situasies nie. Sonder twyfel van teenspraak sal die meeste mense altyd die “linkerkant” verkies. Dit voel net baie beter om iets te wen as om iets prys te gee, hoewel beide situasies presies dieselfde netto uitkomste kon bied.




 Vervolgens, dink aan beleggingsopbrengste oor tyd. Tipies word aanbeveel dat aandeelmark-verwante beleggings vir die langtermyn, sê, tien jaar gehou en sodanig geëvalueer behoort te word. Niks is verkeerd met hierdie advies nie – trouens in die meeste gevalle het dit nog altyd die beste gewerk, maar bygesê as beleggers hierdie advies nougeset gevolg het. Die basiese probleem met hierdie “langtermyn” advies is dat dit bykans onvermydelik is dat beleggers een of ander stadium tydens ‘n tien-jaar beleggingstydperk ‘n daling in beleggingswaardes (soos jaar-op-jaar gemeet) gaan ondervind.

Byvoorbeeld, gegewe die tipiese risikoprofiel van aandeelbeleggings is daar ‘n 94% waarskynlikheid dat aandeelbeleggers in minstens een van die tien jare ‘n negatiewe opbrengs gaan ervaar. Die waarskynlikheid dat hierdie daling 20% of meer (maar nie meer as 30% nie) gaan wees, beloop 34%, oftewel daar is ‘n een-derde kans dat oor ‘n tien-jaar beleggingstydperk minstens een jaar ‘n negatiewe daling van 20% of meer kan voorkom.   

Waarskynlikhede gekoppel aan negatiewe aandeelopbrengste
Negative return greater than:

-30%
-20%
-10%
0%
Risk of negative return in any year
0%
4%
10%
24%
Risk of negative return at least once in any three-year period
0%
12%
27%
56%
Risk of negative return at least once in any five-year period
0%
18%
41%
75%
Risk of negative return at least once in any seven-year period
0%
25%
52%
85%
Risk of negative return at least once in any ten-year period
0%
34%
65%
94%
Bron: DRW Investment Research, “Investing by Probabilities”, March 2011

Bogenoemde uitkomste is basies ‘n wiskundige (statistiese) sekerheid. Die vraag natuurlik is hoe beleggers in sulke situasies gaan optree en die vermoede is sterk dat soos met die “appel voorbeeld” hierbo geïllustreer dit nie juis veel anders as emosioneel en uiteindelik irrasioneel sal wees nie.

Veronderstel die volgende scenario wat oor ‘n tien-jaar beleggingstydperk gaan afspeel: ‘n Belegging verdien elke jaar ‘n 15% opbrengs, behalwe vir een jaar wat dit ‘n negatiewe opbrengs van -20% gaan oplewer (dus 9 x 15% en 1 x -20%). Vervolgens plaas ek hierdie “negatiewe opbrengsjaar” op drie verskillende tydstippe, naamlik aan die begin, middel en aan die einde van die tien-jaar tydperk.



 Year
Investment A
Investment B
Investment C
1
-20%
15%
15%
2
15%
15%
15%
3
15%
15%
15%
4
15%
15%
15%
5
15%
-20%
15%
6
15%
15%
15%
7
15%
15%
15%
8
15%
15%
15%
9
15%
15%
15%
10
15%
15%
-20%


Watter belegging – A, B of C – sou die beste (of die slegste) vaar?

Wiskundig kan ons aantoon dat die tydstip waarin die negatiewe jaar voorkom geensins saak maak nie – al drie beleggings behaal presies dieselfde opbrengs oor ‘n tien-jaar beleggingshorison.


Investment A
Investment B
Investment C
Initial investment
R1,000
R1,000
R1,000
Final value
      R2,814
    R2,814
     R2,814
Annualised return
10.9%
10.9%
10.9%


Die einde van die storie? Miskien volgens akademici en suiwer rasionele wesens(!), maar definitief nie vir beleggers wat op voetsoolvlak hierdie beleggingsondervinding gaan ervaar nie. Veel eerder gaan die volgende geld:


Year
Investment A
Investment B
Investment C
0
      1,000
     1,000
     1,000
1
        800
     1,150
     1,150
2
        920
     1,323
     1,323
3
      1,058
     1,521
     1,521
4
      1,217
     1,749
     1,749
5
      1,399
     1,399
     2,011
6
      1,609
     1,609
     2,313
7
      1,850
     1,850
     2,660
8
      2,128
     2,128
     3,059
9
      2,447
     2,447
     3,518
10
      2,814
     2,814
     2,814

Loss/Regret
       -200
       -350
       -704



Gestel ‘n belegger sou in al drie opsies R1,000 belê en die beleggingswaardes verander elke jaar na gelang van die jaarlikse opbrengste. Die kans is baie goed dat die belegger na afloop van die tiende jaar van mening sou wees dat Belegging C die swakste opsie moes wees omrede sy die “meeste” geld hier in ‘n spesifieke jaar verloor het (R704 teenoor R350 en R200). Verder, die persepsie sou versterk word deurdat dit die mees onlangse negatiewe beleggingservaring in vergeleke met die ander twee opsies sou gewees het.

Trouens, elkeen van hierdie opsies sou op bepaalde stadiums van die tien-jaar tydperk die mantel van die “swakste” belegging gedra het, natuurlik net na afloop van die negatiewe beleggingsjaar!

Gelukkig sou hierdie belegger na afloop van die tien-jaar tydperk besef het dat haar persepsie inderdaad verkeerd is omrede al drie beleggings dieselfde endwaardes het.

In die praktyk egter is dit hoogs onwaarskynlik dat beleggers hierdie luukse van vergelykings het om hul tot ander insigte te bring. Verder, is daar nie noodwendig ‘n gelyke beginpunt en nie dieselfde endpunt hoe om beleggings te beoordeel nie. Byvoorbeeld, vanjaar mag ‘n aandeelbelegging sleg afsteek by ‘n konserwatiewe effektebelegging, maar volgende jaar is die skoen aan die ander voet. Dus, volgende jaar mag die belegger dalk tot ‘n ander gevolgtrekking kom as die een wat hy vanjaar gemaak het.  Immers, die beleggingswêreld is dinamies van aard waar beleggingsverwagtinge voortdurend verander soos “onweerswolke” saampak of uitmekaar dryf.  
  

Uit bogenoemde voorbeeld raak dit duidelik dat om beleggingsprestasies objektief te beoordeel aansienlik moeiliker is as wat die meeste beleggers besef. Trouens, vir beleggingsadviseurs is dit ‘n moeilike taak om beleggers te paai om nie van hul planne afstand te doen wanneer finansiële markte swak vaar nie. Netso kan dieselfde adviseurs as “remskoene” beskou word wanneer markte tye van voorspoed beleef!  Maar eintlik gaan dit hieroor om markopbrengste altyd in konteks te beskou – “niks” gaan vir ewig baie goed wees of vir ewig baie sleg wees nie, anders was daar nie iets soos verskillende bateklasse nie. [1]

Wat beleggers werklik benodig is die ou storie van diversifikasie en terselfdertyd hul minder te verknies oor “verlore” geleenthede en die najaag van hoë, maar onrealistiese opbrengste. Kristalballe (voorspellings) en mooi ingekleurde stories werk nou eenmaal nie goed nie!     


[1] “Niks” verwys hier na gediversifiseerde, gereguleerde en likiede beleggings in bepaalde bateklasse. Natuurlik is daar spesifieke beleggings wat permanente verliese kan meebring – veral strategieë wat berus op hefboomfinansiering, ooroptimistiese sienings (oorwaardasies) en ‘n swak regulatoriese omgewing wat nie die belange van beleggers voorop stel nie

No comments:

Post a Comment