Saturday, September 20, 2014

Die moeilikheid met moeilike beleggingsbesluite

Gestel u moet ‘n keuse in elk van die volgende situasies uitoefen:

A:        ‘n Gewaarborgde wins van R75,000; of
B:        75% kans om R100,000 wins te maak en 25% kans om geen wins te maak nie; en
C:        ‘n Gewaarborgde verlies van R75,000; of
D:        75% kans om R100,000 te verloor en 25% kans om niks te verloor nie.

Die meeste mense sal A en D verkies – dit wil sê ‘n gewaarborgde wins in die een geval en minstens ‘n kans om niks te verloor in die ander geval nie. Dit is egter ‘n tipiese voorbeeld van hoe beleggers nie konsekwente besluitneming kan toepas nie. In die een geval word risiko vermy om R75,000 wins te verseker, maar in die ander geval word eerder groter risiko verkies ongeag die wesenlike gevaar dat R100,000 eerder as R75,000 verloor kan word.

Hierdie asimmetriese gedrag van beleggers jeens risiko in hul finansiёle besluitneming is trouens heel goed nagevors en gedokumenteer. Mense is nou maar eenmaal sku vir die moontlikheid om geld te verloor en die emosies gekoppel aan verliese is relatief veel groter as die emosies wat met winste van soortgelyke omvang ontlok sou word.

Derhalwe is die kans goed dat beleggers (veral diegene wat nie met kundige advies bedien word nie) veel eerder te konserwatiewe beleggingsopsies of beleggings waar kapitaal ten alle tye gewaarborg is, sal opsoek. Ongelukkig is dit nou maar eenmaal die harde ekonomiese werklikheid dat geen entrepeneur of sakeman ooit noemenswaardig vergoed sal word indien hul nie bereid sou wees om besigheidsrisikos te neem nie. Ditto vir die belegger.  Indien ‘n belegger nie bereid is om risikos te neem nie en eerder veilige hawens soos rente-draende depositos op te soek, gaan reёle opbrengste (na inagneming van inflasie en belasting) nie realiseer nie. In hierdie verband word nie verwys na onverskillige of roekelose beleggings nie, maar goed-gediversifiseerde en dividend-betalende tipe beleggings. Verder, gereguleerde portefeuljes wat veral die risiko van wanbestuur minimaliseer, word sterk aanbeveel. Rente-draende beleggings het natuurlik ‘n plek in enige portefeulje, veral om in onmiddelike inkomstebehoeftes te kan voorsien, maar kan nie die oorheersende bate in ‘n groeiportefeulje wees nie.

Die probleem met die “veiligheid eerste” benadering is dikwels dat die werklike rede of doel met die belegging nie noukeurig deurdink is nie. Byvoorbeeld om watter rede word geld belê? Na my mening behoort daar ‘n enkele motivering te wees, naamlik om inflasie oor tyd te klop, andersins word die koopkrag van geld onvermydelik deur die uitwerking van inflasie weggekalwe. Trouens, ek sou wou redeneer indien die uitprestering van inflasie nie die vernaamste oogmerk was nie, dit beter sou wees om liefs nou die kapitaal te geniet alvorens inflasie in elk geval die nutswaarde van jou geld gaan laat kwyn!    

Ongelukkig meet min beleggers hul groei in welvaart in reёle terme. Nie dat dit juis moeilik is nie – inflasiestatistieke is geredelik beskikbaar – eerder is dit ‘n geval dat beleggers verkies om die oёnskynlike hoёr nominale opbrengste  te kwoteer as om die laer reёle of inflasie-aangepaste opbrengskoerse te gebruik.  Derhalwe word “verliese” slegs in nominale terme beoordeel wat opsigself oёverblindery is. Weereens, soos met die bostaande voorbeeld oor die uitoefening van verskillende keuses het sulke gedrag ‘n psigiologiese oorsprong, of as u wil “hoe die menslike brein dink”.

Die brein het twee tipes denkpatrone, naamlik ‘n intuïtiewe of ‘n vinnige, refleksiewe antwoord en ‘n logiese, beredeneerde antwoord. Dit kan byvoorbeeld as volg gedemonstreer word:

‘n Rakket en tennisbal kos altesame R110. Indien die rakket R100 meer kos, wat kos die bal? Die eerste of vinnige antwoord sou wees die bal kos R10. By verdere beskouing van die vraag blyk dit dat die “vinnige” antwoord nie korrek kan wees nie omrede die rakket R100 meer kos as die bal en gesamentlik kos die items R110. Wiskundig kan die probleem as volg opgelos word:

Indien x = prys van rakket en y = prys van bal
x+y =   110
x-y =    100
Dus,                2x =     210
                        x =       105
en                   y =       5

Hierdie tipe probleem illustreer dat ons nie altyd ons instinktiewe of ooglopende antwoorde kan vertrou nie. Dikwels is daar veel beter alternatiewe beskikbaar, maar dit verg beredenering, inspanning en moeite om by sulke oplossings uit te kom.     

Dus, om terug te keer na die probleemstelling van vroeër: Hoe kan ‘n belegger inflasie oor tyd uitpresteer? Drie tipes beleggings kan hieraan voldoen, te wete aandele, eiendom en inflasie-gekoppelde effekte. Elkeen hiervan dra die moontlikheid van kapitaalverliese, veral oor die korttermyn. Dus is dit uiters belangrik vir ‘n belegger om nie volgens korttermyn tendense oor die wenslikheid van sodanige beleggings te oordeel nie. Eerder moet ‘n belegger of adviseur sulke beleggings op waarde takseer, en nie op grond van historiese prestasies of die beloftes en voorspellings van toekomstige prestasies nie.  


Laastens is dit raadsaam om nie alleen oor sulke beleggings besluite te neem nie. Na my mening is daar te veel beleggers wat dink hul kan hul beleggings op eie houtjie suksesvol bestuur. Vandag kan beleggers redelik maklik self transaksies doen, maar dit beteken nie hul het die kennis of tegniese onderleg verwerf om oordeelkundige besluite te kan neem nie.  In die beleggingswereld is daar te veel slaggate, te veel beloftes of selfs te veel bangmaak stories om maklik objektiewe besluite te kan maak. 

No comments:

Post a Comment