Sunday, September 14, 2014

Wanneer kan ek aftree?

Miskien is aftrede veronderstel om een van die hoogtepunte van jou lewe te wees – jy het immers hard gewerk en dalk dikwels na ander se pype gedans ten einde jou eie en werkgewer se mikpunte te haal en begrotings te laat klop. Nou gaan dit jou beurt wees om werklik te doen wat jy wil doen en net wanneer jy wil. Uiteindelik gaan jy ontslae wees van die ondraaglike elemente van die daaglikse werksroetine – vroeg opstaan, besige verkeer, langdradige vergaderings, om moeilike kliёnte te paai, ensovoorts.

Tog, al jou aftreeplanne en drome kan ernstig in die wiele gery word indien jy dalk ‘n nypende geldtekort in die gesig staar (terugslae met jou gesondheid kan ook jou aftreeplanne verongeluk, maar vir die doeleindes van hierdie skrywe sal ons aanvaar die geluksgodin betreffende jou gesondheid gaan aan jou kant wees). Dan kan aftrede allesbehalwe iets wees om na uit te sien en kan dit selfs ‘n baie traumatiese tydperk van jou lewe wees – beslis nie iets wat jy jouself sou wou gun gedurende die laaste fases van jou lewensbestaan nie.

Aftrede en die finansiёle beplanning daaromtrent word vir die meeste van ons eers ‘n werklikheid wanneer sommige van ons jarelange kollegas begin aftree en gereelde gesprekke hieromtrent in die kantoor plaasvind, tipies iewers in ons vroeё vyftigerjare. Ook kan dit wees dat die werkgewer daadwerklike personeelbesnoeiings deurvoer en dikwels is dit persone in hierdie ouderdomskategorieё wat noodgedwonge ernstige vrae moet stel oor hul onmiddelike loopbaanvooruitsigte en aftredebeplanning.  

Die konvensionele wyse tot aftreebeplanning is om bepaalde mikpunte te hê oor hoeveel aftreekapitaal bymekaar gemaak moet word om ‘n bepaalde lewensstandaard na aftrede te kan handhaaf. Byvoorbeeld, ‘n tipiese aftreekapitaal-mikpunt mag wees om by ouderdom 65 twintig maal die jaarlikse inkomstebehoefte met aftrede te kan bereik. Gestel jy sou graag R250,000 per jaar (in vandag se terme) met aftrede wou ontvang, dan moet die waarde van jou aftreefonds ongeveer R5 miljoen (in vandag se terme) wees. Op hierdie vlakke behoort jy waarskynlik voldoende kapitaal te hê om minstens ‘n goeie standaard oor die volgende twintig tot vyf-en twintig jaar van jou aftrede te handhaaf.

Die fundamentele probleem egter met bogenoemde benadering is die aannames ten opsigte van beleggingsopbrengste wat noodgedwonge gemaak moet word om bepaalde aftree-mikpunte na te streef. Dit is byvoorbeeld baie maklik om ‘n sekere konstante opbrengs aanname in jou vooruitskattings te gebruik, maar terselfdertyd dalk net so rampspoedig!

Die geskiedenis van finansiёle markte en opbrengste het ons bepaalde lesse geleer, naamlik dat markte beide volatiel en in siklusse van hoё en lae opbrengskoerse beweeg. Derhalwe is voorspellings oor toekomstige opbrengste, veral as dit geanker is in die ondervinding van die mees onlangse verlede, baie gevaarlik en eintlik ‘n swak fondament waarop jou planne berus.



Ter ondersteuning van bostaande argument gaan ek vervolgens voorbeelde uitlig hoe aftreeplanne van twee hipotetiese beleggers kan verskil. In elke geval word die uitkoms wesenlik beïnvloed deur die tydvak waarin die belegger homself/haarself bevind, dit wil sê of die belegger gelukkig genoeg was om ‘n tydperk van relatiewe hoё opbrengskoerse  te kan beleef.



Vergelyk byvoorbeeld die verskillende uitkomste van twee beleggers – die een het in 2008 afgetree en die ander in 1998 – in die onderstaande grafiek. Tien jaar voor aftrede het beide ongeveer dieselfde aftreefondswaardes gehad, tog die 2008 afgetredene kon met veel hoёr waardes aftree as die 1998 afgetredene.    



Let daarop dat die verskille in uitkomste niks te make het met verskillende bydraes of beleggingsportefeuljes nie – ek veronderstel in albei gevalle presies dieselfde aannames. Dit het bloot daarmee te make dat die 2008 afgetredene gelukkig was om gedurende die laaste tien jaar voor aftrede ‘n tydperk van hoё (reёle) markopbrengste te kon beleef, dit wil sê vanaf 1998 tot 2008. Daarteenoor het die 1998 afgetredene gedurende die laaste tien jaar voor aftrede (1988-1998) meer besadigde markopbrengste ondervind.



‘n Meer ekstreme vergelyking word in die grafiek hieronder uitgebeeld. Daarvolgens het die 1978 afgetredene tien jaar voor aftrede met aansienlik meer aftreekapitaal as sy eweknie wat in 1968 afgetree het, gespog.  Tog, in die laaste tien jaar van elkeen se beroepsloopbaan het die situasie dramaties verander. Nie net het die 1968 afgetredene die 1978 afgetredene ingehaal nie, maar ook met aansienlik meer kapitaal afgetree. Weereens, natuurlik as gevolg van markomstandighede.

     

Derhalwe is dit duidelik dat dit baie moeilik is om selfs tien jaar voor aftrede relatiewe sekerheid te hê oor hoe jou aftree-situasie by aftrede gaan wees. Natuurlik kan jy of jou beplanner simplistiese en konstante opbrengsprojeksies maak, maar wees verseker dat dit net projeksies is en die uitkoms aansienlik daarvan kan verskil.  Dus, is dit hoegenaamd moontlik om enigsins te kan beplan vir aftrede en moet ‘n mens maar net basies duime vashou en kyk wat gebeur?

Allermins, ‘n alternatiewe en dalk beter manier om vir die toekoms te beplan is om aannames aan die hand van historiese opbrengste te toets. Gelukkig het ons ‘n databasis van meer as 100 jaar historiese opbrengste van die belangrikste finansiёle markte en bateklasse tot ons beskikking. Hiervolgens kan die swakste scenarios uitgewys word en as jou plan nog steeds onder daardie stel omstandighede sou werk, het jy gemoedsrus en die versekering dat jou plan onder alle markomstandighede, soos histories ondervind, sou werk. Natuurlik is daar geen waarborg dat die toekoms nie nog swakker resultate as die verlede kan oplewer nie, maar dit is immers tog onmoontlik om vir alle potensiёle uitkomste – waarvan ‘n mens nie eens bewus mag wees nie – te kan beplan.

Hoe dit ookal sy, met hierdie werkswyse verkry ‘n mens bepaalde insigte oor watter strategieё kan werk. Wanneer kan ek werklik aftree, gegewe hoeveel aftreekapitaal ek, sê, reeds tien jaar voor my beplande aftrede  opgebou het? Of, gegewe alle historiese uitkomste teen watter ouderdom sou dit veilig wees om af tree? Hierdie antwoord mag natuurlik heeltemal verskil van die beplande aftreedatum of fondsreёls, maar dit is natuurlik die doel van die oefening – jy soek ‘n pasgemaakte antwoord, nie ‘n breё reёl wat vir almal van toepassing is, maar slegs vir weinige gaan werk nie.

Vervolgens is dit moontlik om verskeie permutasies op die proef te stel en te toets hoe dit die “veilige” aftree-ouderdom sou beïnvloed. Byvoorbeeld, hoeveel moet ek vir die res van my beroepsloopbaan spaar? Watter beleggingsportefeuljes is geskik? Vir watter termyn na aftrede moet ek beplan – hoe lank dink ek moet my aftreekapitaal na aftrede hou? En miskien die belangrikste vraag: Wat moet my inkomste wees na aftrede, of meer bepaald hoeveel van my inkomste voor aftrede moet ek vervang met my aftree-inkomste (50%, 75%, ensovoorts), ook bekend as die vervangingskoers.

Natuurlik kan dit ook wees dat jy nie ‘n keuse gaan hê om byvoorbeeld langer as die beplande aftree-ouderdom te kan werk nie. In hierdie geval is die vraag eerder watter vervangingskoers is veilig sodat ek die gerusstelling het dat my aftreefonds vir ‘n lang tydperk na aftrede nog voldoende inkomste vir my kan oplewer?

Vir baie voornemende afgetredenes mag die antwoorde op hierdie stel vrae dalk nie wees waarop hul heimlik gehoop het nie. Verskeie aanleidende faktore kan ‘n rol hierin speel: Byvoorbeeld, te min aftreekapitaal – te lae spaarkoers, te laat begin met ‘n daadwerklike spaarpoging, onoordeelkundige aanwending en onttrekking van pensioenfondse wanneer byvoorbeeld van een werkgewer na ‘n ander verskuif –  asook te hoё onttrekkingskoerse (onrealistiese lewensstyl) by aftrede, gegewe die aftreekapitaal beskikbaar.

Dié wat wel daarin slaag om suksesvolle aftreeplanne in plek te hê – en nee, dit is nie net diegene wat die toppunt in hul beroepsloopbane bereik het nie – het  ‘n paar goed reggedoen, byvoorbeeld om vroeg in hul loopbaan te begin spaar, deurgangs ‘n goeie spaarkoers te handhaaf (bv. 15% van bruto inkomste), nie onverskillige en bloot dom besluite met hul aftreegelde te maak nie en, miskien die belangrikste (en moeilikste), om binne hul finansiёle vermoёns te leef.



Andersins, sou ek argumenteer dat vir die meeste van ons is “aftrede” in die tradisionele sin en veral in die afwesigheid van ‘n aanvaarbare of betroubare sosiale ondersteuningstelsel (maatskaplike pensioene, mediese bystand) eintlik ‘n uitgediende konsep. Verder, te veel lede van pensioenfondse het verwronge idees of ‘n valse gerusstelling dat “alles in plek is” vir hul aftrede en dat hul nie ekstra voorsiening moet maak nie. Ek glo eerder daaraan dat ons onsself moet bemagtig met gespesialiseerde vaardighede en kennis, sodat ons relevant kan bly in die werksplek en kan aftree wanneer ons wil, en nie omdat ons werkgewer of fondsreёls ons verplig nie. Definitief makliker gesê as gedaan, maar waar daar ‘n wil is, is daar ‘n weg!

No comments:

Post a Comment